Janelle Butler, ’n aanlyn fiksheidsinstrukteur en ma van drie, het ’n manier gesoek om haar selfvertroue terug te kry ná die geboorte van haar tweede kind in 2009. Sy het besluit om haar sitvlak te laat vergroot met wat sy geglo het hidrogelsilikooninspuitings was, berig Daily Mail

Sy was aanvanklik in haar skik met die resultaat, maar mettertyd het sy besef iets is nie reg nie. “My boude het net groter geword. Ek het gewigte begin optel om spiere te bou. Ek het begin wens ek het nooit die silikoon laat inspuit nie,” verduidelik Janelle. 

Met die hulp van die Amerikaanse televisieprogram, The Doctors, het sy eindelik in Januarie vanjaar die silikoon laat verwyder, maar toe het dinge behoorlik skeefgeloop. Tydens die prosedure het sy baie bloed verloor en binne 24 uur daarna het sy skielik verswak as gevolg van nekrose, ’n toestand waar liggaamselle doodgaan.

Haar vel het swart verkleur en sy vertel: “Die nekrose het my weefsel en ook ’n deel van my spiere weggevreet.

Dokters moes toe die dooie weefsel verwyder, en dit het haar met twee vuisgroot gate in die sitvlak gelaat.

“Ek moet nog operasies ondergaan om normaal te lyk. Ek lyk steeds nie normaal nie. Ek is heeltemal geskend,” het sy aan CBS46 gesê.

Sy het vandag berou oor die boudvergrotingsinspuitings wat sy destyds gekry het toe sy in haar nageboortelike depressie iets wou doen om haar selfbeeld te verbeter

“Jy sal enigiets doen om die leemte te vul,” het sy aan Insider vertel oor haar besluit van jare gelede.

CBS46.com berig dat Janelle nou vroue wil waarsku teen die gevolge van kosmetiese prosedures.

Bronne: DailyMail, Insider.com, CBS46.com