Die Harvard-professor Avi Loeb sê daar is meer bew
Die Harvard-professor Avi Loeb sê daar is meer bewoonbare planete in ons sterrestelsel as wat daar sandkorrels op enige strand is. Foto: Getty Images/Gallo Images

’n Kwart van al die bekende sterre in die heelal is vermoedelik die gasheer vir ’n “volmaakte planeet” – een met dieselfde grootte en temperatuur as die aarde. Daar is sowat ’n “zetta” van hulle . . . dis ’n triljard – een met 21 nulle.

Dit is vermetel om te aanvaar dat ons al intelligente wesens in hierdie uitgestrekte kosmos is. Dit is trouens nie net arrogant om te dink ons is alleen in die ruimte nie, maar ook wetenskaplik gesproke onsin.

Op 19 Oktober 2017 het ’n teleskoop op Maui, Hawaii se naasgrootste eiland, die eerste interstellêre besoeker, sover bekend, waargeneem. Hierdie voorwerp het ongetwyfeld van ’n verre sonnestelsel gekom.

Was dit ’n natuurlike verskynsel of een wat deur ’n intelligente lewensvorm ontwerp en gebou is? Die eenvoudigste verklaring is die laasgenoemde: dat dit deur ’n beskawing geskep is wat nie op hierdie aarde is nie.

Die aarde kan onmoontlik ál planeet wees wat lewe onderhou. Selfs in ons eie sterrestelsel, die Melkweg, wentel daar om ’n kwart van sy 200 miljard sterre planete met die regte toestande vir vloei­bare water, en daarom die chemie van die lewe soos ons dit ken.

Met soveel wêrelde – 50 miljard in ons eie sterrestelsel – is dit heel waarskynlik dat intelligente organismes al elders ontwikkel het.

Maar daar was nog geen bewyse daarvan nie; daarom is die voorwerp so belangrik wat uit die sterrewag in Hawaii opgemerk is – 1I/2017 U1 (‘I’ vir interstellêr; 2017 vir die jaar waarin dit waargeneem is) of, soos dit bekend geword het, “ ‘Oumuamua” (met ’n openingsaanhalingsteken en uitgespreek oh-moe-ah moe-ah, wat “verkenner” of “eerste boodskapper van ver” beteken).

Die Kanadese sterrekundige Robert Weryk het eerste die voorwerp in die Pan-­STARRS-data raakgesien, as ’n ligpunt wat vinnig deur die ruimte beweeg.

Wetenskaplikes wou dadelik meer oor die verskyning daarvan weet. Ons het geen duidelike foto gehad nie en in die 11 dae toe dit sigbaar was, kon ons nie een kry nie. Maar ons kon twee belangrike feite aflei: Dit was nie ’n sfeer nie, en dit het in die rondte gedraai – dit het trouens deur die ruimte getuimel.

Wanneer ’n voorwerp roteer, sal dit wisselende hoeveelhede sonlig weerkaats, tensy dit volmaak rond is soos ’n bal. Hoe onreëlmatiger die vorm is, hoe groter die variasie.

En ‘Oumuamua het geweldig gewissel, want dit het sowat een keer elke agt uur roteer en die helderheid het met ’n faktor van 10 toegeneem en afgeneem. Dit was byvoorbeeld om middernag 10 keer so helder as vier uur vroeër.

Op sy helderste het dit soos ’n ronde pannekoek gelyk. Op sy dofste het dit die vorm van ’n langwerpige sigaar gehad van sowat 90 m lank – net korter as ’n rugbyveld.

Teorieë om dit te verklaar het dadelik opgeduik: Dalk is sy vreemde eien­skappe deur blootstelling aan kosmiese bestraling oor honderdduisende jare veroor­saak. Of dalk is dit met geweld van ’n planeet verdryf en toe deur swaartekrag uitgerek.

Maar geen van hierdie verklarings het ‘Oumuamua se vreemdste afwyking in ag geneem nie. Terwyl dit vinnig van die son wegbeweeg het, het sy pad afgewyk van wat jy sou verwag van invloed van die son se swaartekrag. Dit het skielik teen ’n vreemde hoek van koers verander. Daar was geen voor die hand liggende rede hiervoor nie.

Dit kon nie ’n komeet gewees het nie. Dit het geen stert gehad nie (die spoor van gas, genaamd ontgassing, en puin weens verbrokkeling wat ’n komeet agterlaat).

Om dit te verklaar, het sommige wetenskaplikes aan die hand gedoen dat dit dalk ’n stuk ys van bevrore waterstof kan wees met ’n onsigbare stert.

Ek en my Koreaanse medewerker, Thiem Hoang, kon dit in ’n gedetailleerde artikel verkeerd bewys: ’n Waterstof-­ysberg wat tussen die sterre deurbeweeg, sou verdamp het lank voor dit ons sonne­stelsel kon bereik. As die ligste element in die heelal sal waterstof maklik vanaf ’n ysige oppervlak afkook.

In elk geval, die idee dat ’n komeet homself kon aandryf deur die verdamping van waterstofys wat slegs uit sy stert straal, is onsin – dis omtrent so waar­skynlik soos dat die natuurlike erosie van ’n rots ’n ten volle werkende ruimtetuig kan skep.

Maar iets het ‘Oumuamua wel aan­gedryf.

Ál logiese verklaring was sonenergie. Hierdie voorwerp is deur sonlig aangedryf wat van die oppervlak terugbons, soos wind van ’n seil af.

Dis ’n eeue oue idee. Die sterrekundige Johannes Kepler het die eerste keer in 1610 daarmee vorendag gekom. En hierdie konsep boei my al lank.

Ek het met die hulp van Yuri Milner, ’n briljante Russies gebore entrepreneur van Silicon Valley (sy ouers het hom na die ruimtevaarder Joeri Gagarin genoem), asook my studente en nagraadse navorsers, die idee begin ontwikkel.

In ’n artikel wat in 2018 gepubliseer is, het ons bereken ’n laserstraal van 100 giga­watt wat ’n seil die grootte van ’n mens tref, kan dit teen byna ondenkbare snelhede deur die ruimte stuur.

Van die rand van die aarde se atmosfeer af kan dit so vinnig versnel dat wanneer dit vyf keer so ver weg as die maan is dit teen sowat een vyfde van die spoed van lig sou reis, of teen 61 000 km per sekonde. Teen daardie spoed sou dit die naaste ster in ons leeftyd kon bereik.

Alles wat ons voorgestel het, was binne die bestaande tegnologiese perke.

Moeilik? Ja. Duur? Ietwat – die koste sou soortgelyk wees aan dié van die groot wetenskaplike projekte, soos die Groot Hadron-versneller by CERN (die Europese Kernnavorsingsraad), maar goedkoper as die Apollo-program.

As dit eers gebou is, kan ’n lanseerstelsel duisende sulke vaartuie die ruimte instuur. Ons het hulle “StarChips” genoem.

As mense hulle hierdie ruimtetuig kon voorstel wat deur lig voortgedryf word, kan ander tegnologiese beskawings ongetwyfeld dieselfde doen. En hulle stuur dalk reeds op hierdie oomblik seile die ruimte in . . . of het dit reeds miljoene jare gelede gedoen.

Met al die sterre in die Melkweg is Avi oortuig da
Met al die sterre in die Melkweg is Avi oortuig daar moet lewe – selfs intelligente lewe – elders wees. Foto: Gallo Images/Alamy

As daar in die geskiedenis van die Melkweg op slegs ’n fraksie van die 50 miljard potensieel bewoonbare planete intelligente lewe was, kan daar dalk nog baie tekens daarvan oorgebly het.

As ons hierdie planete kon besoek, sou ons miskien verlate megastrukture daar sien of bloot die vaagste atmosferiese of geologiese spore vind.

Maar nog interessanter is die moontlikheid dat terwyl ons deur ons sonnestelsel vlieg ons oorblyfsels sal vind met geen waarneembare funksie nie: ruimte­rommel.

Party wetenskaplikes beskuldig my daarvan dat ek onrealisties is. Maar daar is niks vreemds aan die idee nie. Bewyse daarvan duik elke dag op – op strande reg oor die wêreld.

Gaan stap op enige strand en jy sal twee soorte goed vind wat uitgespoel het. Een is natuurlik, soos dryfhout, seewier en skulpe. Die ander is mensgemaak, veral plastiekbesoedeling.

‘Oumuamua is óf ’n natuurverskynsel, ’n soort interstellêre dryfhout, óf dit is vervaardig, soos plastiek.

Dink aan hoeveel aspekte van die voorwerp onnatuurlik is: die vorm, die onsigbare kragbron, die vaste rotasietempo, die gladheid van die voortdrywing, die loutere spoed en dat dit vanuit ’n ander planeetstelsel verskyn het.

Dit is wiskundig onmoontlik dat dit ’n reeks ongelukke en toevallighede is.

Voeg daarby nog een belangrike waarneming: Terwyl ‘Oumuamua van die son wegbeweeg het, het dit ál minder van ’n ballistiese trajek afgewyk.

Met ander woorde, al het dit steeds teen ’n buitengewone spoed beweeg, het dit gelyk of sy kragbron verswak. Dit is presies wat jy sou verwag as die kragbron die son is.

Maar daar is nog ’n moontlikheid wat nog sterker op die idee dui dat ‘Oumuamua ’n stuk tegnologie is.

Vra jouself af: Sê nou hierdie voorwerp het nie die leë ruimte na ons sonnestelsel oorgesteek nie? Sê nou dit het andersom gebeur: ‘Oumuamua het stilgestaan in die ruimte en ons sonnestelsel het daarteen gebots?

Omdat die heelal uitbrei en die Melkwegstelsel in die rondte draai, bly sterre nie op ’n vaste afstand van mekaar nie. Die son vlieg deur die ruimte en neem die aarde en al sy planete saam.

‘Oumuamua, die voorwerp wat in 2017 gesien is, se
‘Oumuamua, die voorwerp wat in 2017 gesien is, se vreemde trajek deur ons sonnestelsel het sterrekundiges geboei. Foto: Gallo Images/Alamy

Dis geen wilde verbeeldingsvlug dat ’n hoogs gevorderde interstellêre beskawing ’n netwerk boeie in die ruimte kon plaas nie, op hul plek geanker, amper soos die vloot satelliete wat die mensdom die afgelope 64 jaar in ’n wentelbaan om die aarde afgevuur het.

Dit kan dien as ’n kommunikasie­netwerk, as ’n waarskuwingstelsel, as vuur­torings of navigasietoestelle, of selfs as stop­tekens – daar is ’n magdom moontlike verklarings.

Dit alles moet duidelik die tegnologie van ’n intelligente organisme wees.

Selfs as ‘Oumuamua al millennia lank uitgedien is, het dit eens ’n doel gehad, net soos ’n plastiekbottel wat op ’n strand uitspoel eens ’n doel gedien het.

Wat het dan met die beskawing gebeur wat hierdie tegnologie ontwerp en gebou het?

Dit is ’n eggo van die beroemde vraag van die briljante fisikus Enrico Fermi – een van die vaders van die atoombom – wat in 1954 oorlede is.

Fermi het tydens ’n middagete saam met kollegas op ’n paradoks gewys. Omdat die heelal so groot is (en destyds het niemand besef hoeveel miljarde bewoonbare planete bestaan nie), lyk die waarskynlikheid dat ruimtewesens bestaan oorweldigend

Maar ons het nog geen bewyse daarvan gesien nie.

“Waar is almal dan?” het ­Fermi gevra.

Sy eie loopbaan kan dalk daardie vraag deels beantwoord: Fermi se teorieë het ingenieurs in staat gestel om bomme te bou wat alle lewe op aarde kan uitwis.

Mense het dus in die 20ste eeu die ­twyfelagtige prestasie behaal dat hulle slim genoeg was om hul eie beskawing uit te wis.

In kosmiese terme is daardie probleem dalk glad nie uniek nie. Wanneer ’n beskawing ons stadium van tegnologiese vooruitgang bereik – waar dit vir die res van die heelal kan aandui dat dit bestaan en ruimtetuie na ander sterre kan stuur – is dit ook die oomblik wanneer hy tegnies ver genoeg gevorder het om homself te kan vernietig – of dit deur klimaats­versteuring of biologiese en chemiese of kernoorloë is.

Die beskawing wat ‘Oumuamua gebou en lanseer het, kon dalk ophou bestaan het lank voor die geskiedenis van die mensdom begin het. Dit maak dit nog ­belangriker dat ons alles daaruit leer wat ons kan.

Fermi se vraag word dikwels deur wetenskaplikes as ’n gerieflike verskoning gebruik om nie aan die grootste kwessie in kosmologie – die waarskynlikheid van interstellêre lewe – te dink nie.

Onder sterrekundiges word die soeke na interstellêre intelligensie al lank met vyandigheid bejeën.

Vir my is dit bisar. Hoofstroom- teoretiese fisici aanvaar nou wyd die studie van ekstraruimtelike ­dimensies: Ons is almal bekend met die drie dimensies van hoogte, breedte en diepte, plus die vierde dimensie van tyd, maar “stringteorie” postuleer die bestaan van 10, 11 of selfs 26 dimensies.

Dit is ten spyte van die afwesigheid van fisieke laboratoriumbewyse vir dié ­ekstra, onsigbare dimensies. Die teorieë berus op wiskunde – net soos my redenasie vir die interstellêre oorsprong van ‘Oumuamua.

Op dieselfde manier aanvaar baie van die briljantste wetenskaplikes die hipo­tese van parallelle heelalle – ’n oneindige aantal heelalle wat gelyktydig bestaan.

Maar dit is baie skaarser om sterrekundiges en astrofisici te vind wat openlik die teorieë oor lewe in die ruimte aanmoedig. Die wetenskap is te konserwatief en te bekommerd oor reputasies en finansiering, en nie genoeg oor verkenning en avontuurlike denke nie.

Te veel weten­skaplikes is soos die priesters van 400 jaar gelede wat Galileo vir kettery verhoor het omdat hy beweer het die aarde beweeg om die son, eerder as die ortodokse idee van ons planeet as die middelpunt van die heelal.

Die geestelikes het selfs geweier om deur Galileo se teleskoop te kyk. Net so sluit baie vooraanstaande wetenskaplikes hul oë eerder as om die bewyse vir beskawings in die ruimte te oorweeg.

Maar stel jou ons planeet voor die dag nadat ons onweerlegbare bevestiging van lewe elders in die heelal gekry het.

Ek glo as ons daardie bewyse vind, sal dit elke tak van die wetenskap verander – nie net die sterrekunde nie, maar ook die sielkunde, filosofie, godsdiens, onderwys. Elke kind sou anders geleer word omdat die mensdom homself anders sou sien.

Oor die wêreld heen sal mense sterker aanvoel dat ons almal deel van ’n verenigde span is en ophou om hulle te kwel of oorlog te maak oor kwessies soos geografiese grense en afsonderlike ekonomieë.

En as ons sou kontak maak, sou die veranderinge nog groter wees.

Met al die sterre in die Melkweg is Avi oortuig da
Met al die sterre in die Melkweg is Avi oortuig daar moet lewe – selfs intelligente lewe – elders wees. Foto: Getty Images/Gallo Images

Soos die wetenskapsfiksieskrywer ­Arthur C. Clarke gesê het, sal enige genoegsaam gevorderde tegnologie van ruimtewesens vir ons soos toorkuns lyk – miskien selfs goddelik. Maar ons moet onthou dat hulle dalk net so verwonderd sou wees om ons te ontdek.

Hulle sou waarskynlik ook geslagte lank al die oneindigheid van die ruimte ingestaar het.

Heel moontlik sou hulle bekommerd wees oor hoe ons spesie hulle sou ontvang, en hul inligting oor ons kan hopeloos verouderd wees – mense bestaan immers nog net ’n paar honderd­duisend jaar.

Die wetenskap moet sy oogklappe afhaal en hom oopstel vir die nuwe, om­strede, onverwagte dinge. Daar is meer bewoonbare planete in ons sterrestelsel as wat daar sandkorrels op enige strand is.

Die sterre­stelsel is ryk aan onontdekte lewe. En daarin vind ek die grootste rede vir hoop. 

Beskikbaar by takealot.com
Beskikbaar by takealot.com
  • ’n Geredigeerde uittreksel uit Extraterrestrial deur Avi Loeb, uitgegee deur John Murray, R355 by takealot.com.