Dit versprei teen ’n feitlik ongekende pas in China, en gevalle is ook al in verskeie ander lande aangemeld, waaronder Australië, Viëtnam, Singapoer, Japan, Suid-Korea, Taiwan, Thailand en Amerika. Ook in Skotland word pasiënte nou vir die virus getoets.

Waar het dit begin?

Volgens die owerhede het die virus teen die einde van verlede jaar by ’n mark in die stad Wuhan (in die Hebei-provinsie) ontstaan waar “onwettige transaksies met wilde diere” plaasgevind het. Die stad het ongeveer 11 miljoen inwoners. Die mark is van die begin van die jaar af reeds gesluit.

Volgens aanvanklike navorsing is die virus van slange na mense oorgedra, maar Zhong Nanzhan, mediese adviseur vir die regering, het ook rotte as potensiële draers van die virus geïdentifiseer.

Sommige beskou vlermuise ook as draers van die virus.

Die virus eis sy tol

In hierdie stadium het 26 mense reeds gesterf en meer as 830 mense in die land is reeds deur die dodelike virus besmet.

Wetenskaplikes beweer egter tot 10 000 mense net in Wuhan-provinsie self kon reeds die virus opgedoen het.

Ongeveer 22 miljoen inwoners van sentrale China mag tans nie reis nie in ’n poging om die verspreiding van die virus so ver as moontlik te bekamp.

Openbare vervoer na die nabygeleë stede (Huanggang, Ezhou, Zhijian en Chibi) is tot stilstand gebring en teen Vrydag is daar nog stede by die lysie gevoeg: Xiantao, Qianjian en Enshi. Verskeie vlugte in die gebied is ook reeds gekanselleer.

In Huanggang het die owerhede opdrag gegee dat alle binnenshuise vermaaksentrums, waaronder fliekteaters en internetkafees, gesluit moet word en dat inwoners van dié stad slegs in uitsonderlike omstandighede die stad mag verlaat.

Sewe flieks wat tydens die viering van die Chinese nuwejaar bekendgestel sou word, is voorlopig tot ’n latere datum uitgestel. Die geleentheid is gewoonlik uiters gewild onder verspreiders en fliekgangers. En die Disney-oord in Shanghai het tydelik sy deure gesluit.

Groot feesvieringe in Beijing om die Chinese nuwejaar mee in te lui, is ook gekanselleer.

Sterftes buite Wuhan

Twee mense wat hulself buite die middelpunt van Wuhan bevind het, het reeds gesterf: een in die dieselfde provinsie, maar ongeveer 1 000 km noord van Wuhan, en die tweede in die provinsie van Heilongjiang naby die Russiese grens en sowat 2 500 km van Wuhan.

Een van die twee slagoffers was volgens die plaaslike nuusdiens van die Hebei-provinsie, hebwst.gov.cn, ’n 80-jarige man genaamd Chen wat vir twee maande in Wuhan gebly het. 76 mense wat in nabye kontak met Chen was, is in isolasie in die hospitaal opgeneem.

Tot dusver teiken die virus meestal ouer mense. Die jongste sterfgeval was 48 jaar oud en die oudste 89. Die meeste slagoffers het ook ander chroniese siektes onder lede gehad, waaronder parkinsonsiekte en diabetes.

Maar wat is die virus?

In dié stadium staan die virus as 2019-nCoV bekend, ’n nuwe vorm van die virus wat nog nie vantevore in mense gevind is nie. Die naam is afgelei van die vorm van die virus onder ’n mikroskoop: dié van ’n kroon.

Die virus lyk soos 'n kroon onder 'n mikroskoop. F
Die virus lyk soos 'n kroon onder 'n mikroskoop. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit word in die lug oorgedra en tas hoofsaaklik die boonste respiratoriese en spysverteringskanaal van mense en voëls aan.

Die simptome is soortgelyk aan dié van die SARS (ernstige akute asemhalingsindroom) en -MERS-virusse (Midde-Ooste-asemhalingsindroom).

Die SARS-virus van die vroeë 2000’s het die lewens van byna 800 mense geëis. Dit was ook ’n corona-virus en so ook is die doodgewone verkoue, berig BBC.

Volens Freya Jephcott van die Cambridge-universiteit het die SARS-epidemie ook sy oorsprong by ’n mark gehad, soortgelyk aan dié by Wuhan waar die jongste virus ontstaan het.

In 2012 het Mers die lewens van 282 mense geëis.

Tog voel die Wêreldgesondheidsorganisasie dis nog nie nodig om die verspreiding van die virus as ’n “internasionale noodgeval” te beskou nie.

“Dit mag wel een word,” het die organisasie se direkteur-generaal, dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, gesê.

Hoe veilig is dit om te reis?

Sowat 20 miljoen mense se reisplanne is vir eers opsy geskuif, aangesien die virus nog verder deur reisigers versprei word.

Adrian Hyzler, die hoof mediese beampte by Healifix International, het aan Business Insider gesê dié soort virus versprei soos ’n veldbrand tydens reise en hy verwag gevalle van mense wat met die virus besmet is, gaan in talle stede wêreldwyd voorkom.

Alhoewel ’n masker nie noodwendig sal keer dat ’n persoon met die virus besmet word nie, kan dit nie skade doen om wel een te dra nie. Reisigers word aangemoedig om mense wat van die virus-simptome toon, te vermy.

Dit sluit in koors, rillings, kopsere en ’n seer keel, en sommige het gesê hulle het met asemhaling gesukkel.

Eric Toner, ’n senior wetenskaplike by die Johns Hopkins-universiteit, het gesê in hierdie stadium is dit onseker tot in watter mate die virus oorgedra kan word na ander mense as die draer net ’n geringe infeksie het.

Reisigers moet hul hande gereeld, en minstens 20 sekondes lank, met seep en water was, aldus die Amerikaanse sentrums vir plaagbeheer.

“Daar is nie ’n kuur vir die virus nie. As daar ’n inenting daarteen is, sal dit jare neem (om te ontwikkel),” het Adrian gesê.

Bronne: businessinsider.co.za, thenakedscientists.com, channelnewsasia.com, straitstimes.com, nytimes.com, hebwst.gov.cn, bbc.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.