Nadat sy die naweek 'n pragtige video aanlyn gedeel het waarin haar seuntjie, Keaton, vertel hoe hy geboelie word en wil weet hoekom sommige mense ander boelie, is sy nou van rassisme beskuldig.

Maar dit het Maandag aan die lig gekom dat Kimberly Jones, van die Amerikaanse deelstaat Tennessee, glo ’n rassis en self 'n boelie is. 

Bekendes soos Rihanna, Justin Bieber, Katy Perry en Chris Evans het almal in die sosiale media hul steun aan die seuntjie getoon - tot dit Maandag aan die lig gekom het dat Kimberly nie is wat sy voorgee om te wees nie. 

Op haar Facebook-blad poseer Kimberly met ’n ou Amerikaanse Confederate-vlag, ’n simbool van slawerny en verdrukking.

Kimberly met die ou Amerikaanse vlag. Foto: Facebook

En sy word ook nou daarvan beskuldig dat sy wil geld maak uit haar kind se video, wat meer as 20 miljoen keer gekyk is.

Mense in die sosiale media het woedend reageer op die foto’s van haar gesin met die ou vlag en Kimberly word nou as skynheilig uitgekryt.

Die Jones gesin poseer met die ou Amerikaanse vlag. Foto: Facebook

Kimberly het glo ’n GoFundMe begin om aanlyn geld vir haar seuntjie in te samel nadat die video 'n internetsensasie geword het.

Die blad is deur die aanlyn geldinsamelingswebwerf gestaak te midde van die rassistiese bewerings en die gerugte dat sy haar kind wil misbruik. 

Kimberly het Maandag ontken sy wil geld maak uit haar kind se hartseer. 

Sy het glo ook genoem dat sy eerder wil geld hê as die steun van Hollywood se bekendes vir haar kind se pyn.

Sommige bekendes het steeds gesê hulle steun Keaton, maar nie sy ma nie. 

Bronne: The Sun, Independent, Daily Mail