Wie sal nou nie hou van ’n huis langs die Vaalrivier nie? Vleisbraai aan die oewer, waterski, kanovaarte, visvang . . .

Dit klink soos die paradys. Maar vir baie mense wat langs die water woon, het hul idilliese leefstyl in ’n nagmerrie ontaard. Vra jy hulle, moet die Vaalrivier nou eerder “Rioolrivier” heet.

Die rivier wat die provinsies Vrystaat en Gauteng skei, is deesdae die ene gemors weens dermiljoene liters rioolvuil wat daarin gestort word.

Sowat 60 km van die rivier word geraak deur die vernietigende storting van dié afval.

Klop jy aan by Adele Andrews, wat ’n oewererf in die Loch Vaal-omgewing besit, kyk sy mismoedig na die rivier wat sowat 80 m van haar woonhuis se braaipatio verbyloop.

Adele, ’n lid van die organisasie Save, sê soms het die rivier groot swart kolle van die riool in die water. Foto: Papi Morake

Soms is die water pikswart wanneer hope rioolvuil verbykom, vertel sy met die afstap na die waterkant. Met ’n swembadsif skep sy ’n hoop swart gemors van die bodem aan die vlak kant van die water.

“Dis alles rioolslyk,” sê sy en skud haar kop moedeloos.

Inwoners van die Vaaldriehoek is woedend, want ’n geraamde 150 miljoen liter rioolvuil beland daagliks in die Vaalrivier, verduidelik Mike Gaade, ’n komiteelid van Save the Vaal Environment, oftewel Save.

Dié burgerlike organisasie veg om die rivier en sy ekostelsel te red deur druk op die plaaslike owerheid toe te pas. Maar dis nie net huiseienaars langs die rivier wat verontrief word deur dié onooglike en onwelriekende gemors nie.

Die rioolvuil in die rivier is die gevolg van ’n groter probleem: die ineenstorting van rioolsuiweringsinfrastruktuur in die Vaaldriehoek. En dit hou ’n gesondheidsgevaar vir die ganse gemeenskap in.

“Die agteruitgang van die Emfuleni-munisipaliteit (Vaaldriehoek) se rioolverwerkingsaanleg, wat op die rand van ’n algehele ineenstorting is, is die grootste sondaar,” som Mike die situasie op.

Boodskappe oor dooie visse word gereeld ontvang

“Sowat 60% van die rioolvuil is afkomstig van Sebokeng, waar die rioolaanleg al agt weke lank nie gewerk het nie. Die res kom van ander stukkende pompstasies of verstopte rioolstelsels in die Emfuleni- munisipale gebied.”

Wanneer onverwerkte rioolvuil uit die stelsels borrel, word dit sedert verlede jaar bogronds in oop slote na hoofsaaklik die Rietspruit- en Kliprivier herlei, waarna dit in die Vaalrivier uitloop, verduidelik hy.

Save het in Februarie vanjaar ’n hofbevel in die hooggeregshof bekom wat Emfuleni verbied om dit te doen, maar dié bevel het niks gehelp nie, sê Mike. Aan die begin van September het die SA Menseregtekommissie (SAMRK) die gebied besoek om vas te stel wat aangaan.

Adele Andrews skep rioolslyk uit die rivierwater ’n hanetree van haar huis af. Foto: Papi Morake

By navraag het die provinsiale bestuurder van die SAMRK, Buang Jones, aan Huisgenoot gesê die impak van die storting van die rioolvuil in die rivier grens aan ’n groot omgewingsramp.

In Sharpeville, sowat 6 km van die Vaal, skud Alfred Molefe, ’n gemeenskapsleier, sy kop.

“So kan dit nie aangaan nie,” sê hy en beduie na ’n stroom rioolvuil wat in ’n straat voor ’n ry woonhuise en ’n vulstasie verbyvloei.

Dit borrel uit ’n blykbaar verstopte afvoerpyp op die sypaadjie. Sowat 50 m verder is ’n oop subrioolpompstasie wat buite werking is.

Die stank is oorweldigend, maar spelende kinders spring oor die stroom rioolvuil.

“Dit hou ’n gesondheidsgevaar in vir ons kinders,” benadruk Alfred. Die situasie is vernederend vir inwoners, beklemtoon hy, maar mense het geen ander ekonomiese keuse as om hier te woon nie.

Die grootste gedeelte van die pompstasie-en-rioolnetwerk in die Emfuleni-gebied is buite werking, verduidelik Kobus Janse van Rensburg, voorsitter van die Emfuleni-belastingbetalersvereniging.

“Dit is verouder en word swak in stand gehou. Dit is waar die probleem lê. Maar die munisipaliteitsbestuur sê bloot hulle het nie geld nie.”

Onverwerkte rioolvuil in die strate van Sharpeville. Foto: Papi Morake

’n Mens moet die hele prentjie in perspektief sien, sê Rosemary Anderson, eienaar van die Stonehaven on Vaal-oord langs die Baddriftbrug in Vanderbijlpark.

“Hoewel die hele rivierstelsel geraak word, verskil dit in omvang van plek tot plek,” verduidelik sy.

“Die deel van die rivier hier by die oord het oor die algemeen nie hoë vlakke van E. coli nie.” E. coli is ’n bakterie in die water.

Die metings word weekliks deur Rand Water op 10 verskillende plekke in die rivier gedoen, en die bevindings word op die webtuiste reservoir.co.za gepubliseer sodat die publiek kan sien watter dele van die rivier vermy moet word.

Met een van Rand Water se E. coli-kaarte in die hand wys Rosemary waar die grootste konsentrasie besoedeling voorkom, naamlik waar die Klip- en Rietspruitrivier in die Vaalrivier vloei.

Die rioolvuil hou nie net ’n gevaar vir mense in nie; dit het ook ’n impak op die natuurlewe in die omgewing. Adele vertel Save kry gereeld boodskappe van inwoners wat dooie visse aan die oewers teëkom.

Inwoners kyk moedeloos toe. Foto: Papi Morake

Buang sê die SAMRK sal eers ná ’n volledige ondersoek kan bekendmaak hoe die mense- en dierelewe deur die besoedeling geraak word.

En hoe lyk dinge in die Vaaldam, wat die grootste deel van Gauteng van water voorsien?

Die dam word tans nie geraak nie aangesien die besoedeling by die invloei van die Kliprivier begin, wat aan die onderkant van die dam is, verduidelik Adele.

Buang sê hulle was geskok met hul besoek aan die rivier.

“Die besoedeling in die rivier is ’n probleem wat in ’n omgewingskrisis en ’n gesondheidsrisiko ontaard. Onmiddellike stappe moet gedoen word om die kwessie op te los.”

Die SAMRK het ’n paneel omgewingsregskenners en ander deskundiges aangestel wat nou die invloei van rioolvuil na die rivier sal ondersoek, asook bewerings dat dooie visse, chemiese stowwe en selfs fetusse die water besoedel.

Visse in die water. Foto: Papi Morake

“Talle staatsdepartemente en privaat ondernemings in die Vaaldriehoek-omgewing word by die besoedeling betrek,” sê Buang.

“Ons doel is om die skuldiges aan die pen te laat ry en prosesse in te stel wat daartoe sal lei dat ons die Vaalrivier se water weer skoon kan kry.”

Maar huiseienaars aan die oewer van die Vaal moet dalk nie te gou die vreugdevure aansteek en die uitnodigings vir swempartytjies uitstuur nie.

Hoewel die kommissie dadelik met hul ondersoek gaan begin, kry die publiek nou tot die einde van die jaar kans om per e-pos kommentaar te lewer oor hoe die besoedeling hulle persoonlik raak.

Intussen bly die geliefde Vaalrivier siek en waak sy wilgerbome oor ’n ramp wat daagliks groter word.

  • Stanley Gaba, kommunikasiebestuurder van die Emfuleni-munisipaliteit, sê die munisipaliteit het 46 pompstasies waarvan net 30% in werking is. Hy verduidelik weens ’n gebrek aan voertuie kan werkers nie daagliks by al die stasies uitkom nie. Hy sê die hoë voorkoms van verstopte rioolpype en pompstasies wat breek, is die gevolg van verouderde sanitasie-infrastruktuur. Hy sê die munisipaliteit het verlede maand R20 miljoen van die departement van water en sanitasie ontvang wat gebruik sal word om die pompstasies en rioolnetwerk te herstel en op te gradeer. Die munisipaliteit het reeds met herstelwerk by Pompstasie 12 in Redan, net buite Vereeniging, begin.