14 Februarie 2013. In een nag en vier skote deur ’n toiletdeur, het sy lewe eenklaps verander. Weer was hy op almal se lippe. Maar nie die keer omdat hy ’n ongelooflike atleet is nie, maar omdat hy sy meisie, Reeva Steenkamp doodgeskiet het. In Donderdagaand se episode van die TV-reeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op Via (DStv-kanaal 147) word Oscar se verhaal vertel.

Van die seuntjie wat sonder kuitbene gebore is tot die man oor wie se wange die trane geloop het toe hy in die hooggeregshof in Pretoria vertel het hoe hy gedink het daar is ’n inbreker in die toilet. Oscar is tans besig om ’n ses jaar gevangenisstraf uit te dien vir Reeva se moord.

As jy dié episode misgeloop het, kan jy Sondagaand om 20:30 na die heruitsending op Via kyk.

Oscar se ouboet, Carl Pistorius het in 2016 ’n eksklusiewe brief aan Huisgenoot geskryf om te vertel wat Oscar se werklike vrees daardie aand was. 

Lees die artikel hier:

Jy word in die nag wakker van geluide in jou huis. Onder normale omstandighede sal dit jou bang maak. Maar verbeel jou jy dink ’n gevreesde rampokker het sy mes in vir jou.

Dit, sê Carl Pistorius, is die deel van sy broer, Oscar, se verhaal wat min mense al gehoor het.

Baie dink hulle weet wat Oscar op Valentynsdag 2013 gedryf het om op ’n toiletdeur in sy huis te skiet. Hulle glo sy weergawe wat in die hof uitgekom het dat hy bang was, dat hy gedink het inbrekers het toegang tot sy huis gekry.

Nou vertel Carl die atleet se vrees was veel erger: Oscar het gevrees beroepsrampokkers het sy huis binnegedring.

Voor hy Reeva Steenkamp, die vrou wat hy liefgehad het, doodgeskiet het, het Oscar glo stry gekry met die voormalige SuperSport-aanbieder en sokkerspeler Mark Batchelor.

Mark was vriende met Mikey Schultz, wat openlik erken dis hy wat die Johannesburgse sakeman Brett Kebble doodgeskiet het.

Toe Brett in 2005 sy eie lewe wou neem, het hy Mikey gehuur om hom dood te skiet en dit na ’n moord te laat lyk. Mikey het sy rol hierin erken, maar toe skuldigbevinding vrygespring deur in te stem om vir die staat teen die misdaadbaas Glenn Agliotti te getuig.

Agliotti was ’n vriend van die destydse korrupte polisiehoof Jackie Selebi.

Die aanklaer met wie Mikey dié ooreenkoms aangegaan het, Gerrie Nel, is dieselfde aanklaer wat Oscar vervolg het.

Volgens Carl was Oscar so bang vir Mikey en ander misdadigers dat hy dit oorweeg het om lyfwagte aan te stel. Hy wou glo ook na ’n veiliger huis in Johannesburg trek.

Lees vandag in ’n ope brief wat Carl eksklusief vir Huisgenoot geskryf het, watter vrese hy dink deur sy broer, Oscar, se kop gegaan het die nag van Reeva se dood.

Carl sê sy broer het Reeva nie opsetlik doodgemaak nie.

Carl skryf:

Die mense het sterk menings oor Oscar Pistorius, oor wie en wat hy is en waartoe hy in staat is. Tog het die meeste van hulle hom nog nie ontmoet nie.

Ek ken Oscar Pistorius al 29 jaar. Hy is my broer – en daar is goed wat ek weet waar is oor hom.

Die eerste ding wat ek weet, en dit is bewys en aanvaar deur die hooggeregshof en appèlhof: Oscar het Reeva nie doelbewus doodgemaak nie.

Hy het haar liefgehad, en hy sal nooit herstel van die wete dat hy haar dood veroorsaak het nie.

Dis tragies dat openbare retoriek oor die hofsaak dikwels (verkeerdelik) Reeva se dood uitgebeeld het as ’n man wat sy maat doelbewus vermoor het, al is bevind dit was glad nie die geval nie.

Verbeel jou jy dink ’n gevreesde rampokker het sy mes in vir jou.

My suster, Aimée, het regter (Thokozile) Masipa in ’n TV-onderhoud met eNCA bedank omdat sy duidelik gesê het Oscar het Reeva nie as deel van ’n gesinsgeweldvoorval doodgemaak nie.

Ek voel ook so.

Tog, ondanks die beslissing, lyk dit asof mense nie die beeld wil laat vaar wat die staat van my broer probeer skets en waarin hulle misluk het nie: dat hy ’n vrouemoordenaar is, aangevuur deur woede.

Die bewyse het getoon dit was nie moontlik nie en ’n sielkundige diepteprofiel van Oscar het gewys hy toon geen van die kenmerke van ’n narsis en psigopaat soos die aanklaer, Gerrie Nel, hom uitgebeeld het nie.

Maar dit lyk nie asof dit in die woedende en luidrugtige hof van openbare menings saak maak nie.

Daar is bevind Oscar het uit opregte vrees opgetree.

Foto: Argief (LINKS, by Oscar).

Maar die appèlhof het beslis dat hy geen rasionele en wettige basis gehad het om sy wapen op Valentynsdag 2013 af te vuur nie.

Dit bring my by die tweede waarheid: Toe hy Reeva doodskiet, het my broer in vrees geleef – ’n vrees wat verband hou met dieselfde mans wat tydens sy vonnisoplegging by die hof opgedaag en my suster in trane gehad het.

Voor hy Reeva doodgeskiet het, was Oscar in ’n geskil betrokke met die voormalige SuperSport-aanbieder Mark Batchelor, ’n vriend van die selferkende moordenaar Mikey Schultz. Die geskil het gespruit uit Oscar se mislukte verhouding met Samantha Taylor. Mark was ’n hegte vriend van Quinton van der Burgh, met wie Samantha vir Oscar verneuk het.

Dit het gelei tot woordewisselings tussen Oscar en Quinton toe Oscar en Samantha opbreek. In November 2012 het Oscar uit vrees vir sy lewe die Johannesburgse eenheid teen georganiseerde misdaad genader. 

Kapt. Paul Ramaloko, toe woordvoerder van die Valke, is in die media aangehaal waar hy gesê het die situasie is uitgeklaar en Oscar het nie ’n klag ingedien nie. Maar Oscar het ál banger geword, veral nadat ’n kennis hom vertel het Mikey sal hom doodmaak.

Billikheidshalwe, ons weet nie of daar gronde vir hierdie waarskuwing was nie. Maar Oscar het dit ernstig opgeneem.

Mikey is ’n welbekende figuur in Johannesburg, berug vir sy selferkende rol in die moord op die mynmagnaat Brett Kebble. Adv. Gerrie Nel het destyds aanbeveel dat Mikey en sy vennote vrywaring van vervolging vir daardie moord kry, wat glo deel van ’n geassisteerde selfdood was.

Hy het haar liefgehad, en hy sal nooit herstel van die wete dat hy haar dood veroorsaak het nie.

Mikey het ook skuld beken op sameswering om Stephen Mildenhall, ’n fondsbestuurder by Allan Gray, te skiet.

Stephen is in Augustus 2005 drie keer in sy oprit in Kaapstad geskiet.

Almal het geweet wie Mikey is en waartoe hy in staat is; dus was dit moeilik om dreigemente – waar of onwaar – te ignoreer as hy daarby betrokke was.

Teen Januarie 2013 het Oscar gevoel dis nodig om privaat beskerming by sy huis te oorweeg in die lig van die intimidasie en dreigemente wat hy van verskeie karakters in die onderwêreld ontvang het.

Oscar het opreg vir sy lewe gevrees. Hy het hierdie vrees in gedagte gehou toe hy ’n aanbod onderteken om ’n veilige huis in Johannesburg te koop. Dit sou ’n veilige hawe vir hom en Reeva wees. 

Hy was op die toppunt van roem en onder geweldige druk. Hy moes die angs hanteer van ’n dubbelgeamputeerde atleet wat in ’n niegestremdesportarenameeding en aan die publiek se verwagtings moet voldoen, en het gesukkel met sy eie vrese dat hy geteiken en aangeval kon word.

Dis dalk moeilik vir ons wat nie in Oscar se skoene staan nie om die ware angs te begryp waarmee hy in die vroeë oggendure van Valentynsdag 2013 saamgeleefhet. Maar sy angs was opreg en ek weet dit.

Dit was bisar en ontstellend dat Mikey en sy vennote – wat ’n vername deel was van die vrees wat ek weet daardie oggend tot Oscar se reaksie aanleiding gegee het – besluit het om by die hof op te daag terwyl my broer vir strafbare manslag gevonnis word (in Oktober 2014) en Aimée te dreig.

Mikey het ná die tyd met die omroeper Xolani Gwala van (die geselsradiostasie) 702 gepraat en ontken dat hy Aimée gedreig het. Hy het beweer hy was net in die hof om sy vriend Jared Mortimer by te staan. (Jared is ’n Johannesburgse sakeman met wie Oscar in 2014 in ’n rusie in ’n nagklub betrokke was en wie se naam op die getuielys was.)

Mikey het gesê hy het gesukkel om ’n sitplek in die hof te kry en het selfs hofbeamptes uitgedaag om die beeldmateriaal van die beweerde voorval met Aimée te bekyk.

Foto: Argief

Toe ’n inbeller na Xolani se program Mikey uitvra oor hoekom hy die moordsaak bywoon terwyl hy ’n selferkende moordenaar is, het hy oor die lug op die luisteraar gevloek.

Ek is nie ’n regskenner nie, maar ek sukkel om te verstaan hoe dieselfde aanklaer (Gerrie Nel) wat vrywaring van vervolging gevra het vir ’n selferkende moordenaar soos Mikey nadat hy ses koeëls op Kebble afgevuur het, nou kan kla dat Oscar se vonnis veels te lig is.

Ek verstaan dat die staat hierdie vrywarings wou gebruik om ’n doeltreffende korrupsiesaak teen die voormalige nasionale polisiekommissaris Jackie Selebi te bou, maar die feit bly: Mikey en sy medebeskuldigde het met moord weggekom. Almal weet dit.

Dieselfde kan beslis nie van Oscar gesê word nie.

Hy is tronk toe vir strafbare manslag en is pas terug tronk toe nadat hy vir moord gevonnis is.

Die broer saam met wie ek grootgeword het, wat ek die atletiekwêreld sien oorwin het, is ’n skadu van wat hy eens was. Hy het alles verloor – en hy het Reeva verloor. Hy sal nooit weer wees wie hy eens was nie.

Sy parool is verlede jaar ná sy eerste vonnis met twee maande vertraag, ’n totale skending van die normale praktyk.

Die moontlikheid staar hom in die gesig dat die staat teen sy vonnis kan appelleer – en weer sal hy moet ervaar hoe die staat opsetlik weier om toe te gee dat Oscar reeds gebreek is deur dit wat hy gedoen het, en dat hy vir altyd sal sukkel om homself te vergewe dat hy ’n vrou doodgemaak het wat hy liefgehad het.

Dit is die derde waarheid: Die broer saam met wie ek grootgeword het, wat ek die atletiekwêreld sien oorwin het, is ’n skadu van wat hy eens was. Hy het alles verloor – en hy het Reeva verloor. Hy sal nooit weer wees wie hy eens was nie.

Wat moeilik is om te verwerk vir ons wat Oscar ken en liefhet, is die knaende gevoel dat die appèlaansoek nie, soos die staat aanvoer, gaan oor hoe minimum vonnisse toegepas word nie.
 
Hierdie saak, met al sy hoofopskrifte en televisiekameras, het iets heel anders geword. My broer het nooit probeer ontken wat hy gedoen het nie, en hy is eindelik skuldig bevind na aanleiding van sy eie weergawe van die skietery. Hy aanvaar dit en moet met die gevolge daarvan saamleef.
Mikey Schultz, daarenteen, is betaal om iemand te skiet wat hy geken het.

Oscar is my broer, maar ek is seker nie al mens vir wie dit kommerwekkend is nie. As ons omgegee het dat geregtigheid geskied ongeag wie die beskuldigde is, moes mense soos Mikey Schultz ook tronk toe gegaan het. Geregtigheid kan nie beslis word deur dié wat agter skuilname op Twitter skuil en besluit om te haat nie. Geregtigheid kan nie ontduik word deur dié wat politieke doeleindes dien nie. Die propaganda wat die afgelope drie jaar deur die aanklaer aangedryf is, was nie in belang van geregtigheid nie.
Ek kan nie al een wees wat so voel nie. 

  • Toe Huisgenoot Samantha Taylor nader om kommentaar op die bewering dat sy Oscar met Quinton van der Burgh verneuk het, het sy gesê: “Dis nie waar nie. Ek het met Quinton uitgegaan nadat ek en Oscar uitgemaak het en het toe teruggegaan na Oscar.

“Dit is bewys in die hof dat ek nie saam met Oscar was toe ek en Quinton uitgegaan het nie.”