Riekie is geskok en geslaan; daar is gepoog om haar te versmoor en lugborrels in haar are in te spuit. Eindelik is sy met ’n mes doodgesteek. Johan is met ’n koord verwurg. Die ergste van die moorde? Dit was aan die hand van hul eie twee kinders, Nicolette en Hardus Lotter.

Die hof het later bevind hulle het dit gedoen onder die invloed van Nicolette se verloofde, Mathew Naidoo. In die eerste seisoen van die TV-reeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA (DStv-kanaal 147) is die verhaal vertel van dié moorde wat die land geruk het. Die tweede seisoen van die dokkiereeks keer vanaf 16 Augustus terug na die kassie.

In 2016 het Nicolette ’n brief geskryf vir die Huisgenoot-joernalis, Jana van der Merwe. Lees hier wat Jana onthou van Nicolette en Hardus saam met wie sy op skool is. Lees ook ’n uittreksel uit Nicolette se brief.

“Liewe Jana, ek is nou al amper agt jaar in die tronk . . .”

So lui die onverwagte brief wat my amper twee dekades terugvoer na die parkeerterrein van die Port Natal Skool in Durban.

Die veroordeelde moordenaar Nicolette Lotter was in 1991 aan Port Natal Skool in Georgina van der Merwe (regs) se gr. 3-klas. Georgina besoek haar dikwels in die Westville-vrouegevangenis.

Ek wag dat my pa my kom haal. 

Saam met my wag ’n fyn, mooi meisie in dieselfde vlootblou skooldrag: ’n jaar ouer as ek, stil en teruggetrokke, maar met heelwat maats. Haar ma is soos gewoonlik een van die eerste ouers wat opdaag en ons kyk hoe sy in die yslike geel bakkie klim.

So onthou ek altans die skrywer van die brief in my hande. Maar vir die res van die land is Nicolette Lotter die jong vrou wat in Julie 2008 op 26 jaar haar ma, Riekie (52), in die kombuis met ’n mes doodgesteek het – op aandrang van haar verloofde, Mathew Naidoo (toe 21), wat homself “die derde seun van God” genoem het. Terselfdertyd het haar broer, Hardus (toe 20), hul 53-jarige pa, Johnny, in hul slaapkamer met ’n koord verwurg.

Daar is niks buiteop die wit koevert wat verklap wie die skrywer is nie. Ook nie dat dit uit ’n Durbanse tronksel kom nie. My naam en adres is in ’n sierskrif geskryf. My ma, Georgina (59), wat Nicolette se gr. 3-klasonderwyseres was, sou my later vertel die kind was so lief vir sierskrif dat sy vir Nicolette ’n kalligrafiepen present gegee het.

My ma is die skakel tussen my, Nicolette en die brief, want net twee dae ná die moorde het sy Nicolette (nou 33) en Hardus (nou 29) in die selle van die Westville-polisiekantoor besoek – en sy besoek hulle vandag steeds in die gevangenis.

“Nicolette lyk goed, nog so fyn soos wat jy haar sal onthou,” vertel my ma toe sy ’n paar dae ná die koms van die brief in Johannesburg by my kuier.

“Sy is moedig; nederig.”

In Maart 2012 is Nicolette Lotter, haar broer, Hardus, en haar verloofde, Mathew Naidoo, in die KwaZulu-Natalse hooggeregshof skuldig bevind aan die moord.

My ma en ’n predikantsvrou was daar toe Nicolette in Desember vereer is as die topstudent in die Westville-vrouegevangenis. Sy presteer in haar teologiestudie aan Unisa, skryf gospelmusiek en gee kitaarlesse.

Met Hardus in die Sevontein-tronk in Pietermaritzburg gaan dit minder goed, vertel sy. “Hy leef net van dag tot dag. Hardus het nie drome nie; hy het moed verloor.”

Ek vertel haar hoe Nicolette op die wit A4-velle hul suster, Christelle (30), om vergifnis vra.

In die brief skryf sy: “Jou ma het voorgestel dat ’n artikel miskien my sussie kan raak om my eendag te vergewe, ons het nog nie kontak gemaak nie, maar daar is wel familie waarmee ek wel in kontak is en dit beteken vir my baie.”

Christelle het nog nie weer kontak met Nicolette of Hardus gemaak nie. Nicolette stuur wel elke jaar vir haar ’n verjaardagkaartjie.

Hoekom besoek my ma hulle dan? 

Hardus Lotter.

“Ek kan dit nie verklaar nie,” antwoord sy. “Ek ken daai kinders . . . As my kinders my sou vermoor, sou ek nog wou hê iemand moet hulle ondersteun.”

Op skool was ek nie vriende met Nicolette nie, maar ons het in dieselfde kringe beweeg. Ons is na verskillende hoërskole, maar ná skool het ons in dieselfde Durbanse restaurant gewerk. Dis in dié tyd dat ek ervaar het hoe sy verander het van die stil, slim meisie op laerskool na iemand wat met haar identiteit en geloof worstel. Dan het sy swart klere gedra en die kerk afgesweer; dan was sy weer stemmig en in ’n nuwe kerk.

Godsdiens was die vraagstuk waaroor sy gewoonlik in haar sagte stem gesels het terwyl ons as kelnerinne gewerk het.

Hardus was ook in Port Natal, maar was vier jaar jonger as ek. Ek het hom en hul ma eers ná skool leer ken toe ek in my laaste jaar as onderwysstudent sewe weke lank prakties gedoen het aan die Grosvenor Girls’ High in Durban, waar Riekie ’n onderwyseres was.

Smiddae ná skool het ek saam met Riekie van Grosvenor na Port Natal gery, waar Hardus – toe in matriek – en my ma ons ingewag het.

Uit my geselsies met Riekie het ek agtergekom sy leef vir haar kinders. Hardus het ek in hierdie tyd leer ken as ’n introvert en ’n eenkantmens, met ’n klein vriendekring wat soos hy versot was op rekenaarspeletjies.

Die moorde was ’n groot skok. Dit was die laaste gesin wat ek gedink het so iets sou oorkom.

Mathew Naidoo.

My ma vertel oor haar eerste besoek aan Nicolette en Hardus by die polisiekantoor, waar ’n polisiebeampte hulle met geboeide hande uit die selle gebring het.

“Nicolette was verslae. Sy het gelyk soos iemand wat pas in ’n helse ongeluk was. Hardus was net so geskok. Hulle het my vertel wat gebeur het, die hele verhaal, hoe Mathew hulle om die bos gelei het om te glo hy is die derde seun van God.”

(Die hof sou later kenners se getuienis aanvaar dat Mathew die sibbes gebreinspoel het en dat hulle oortuig was hulle doen die werk van die Here.)

Terwyl hulle in 2009 verhoorafwagtend was, is ek eenkeer saam toe my ma by Nicolette gaan kuier, dié keer in Westville. Selfs deur die dik glas van die besoekhokkie kon ek sien haar vel lyk grys. Sy was maer; haar oë gesonke. Haar lang hare het in slierte gehang.

Nicolette is in 2012 in die hooggeregshof in Durban effektief vir 12 jaar tronk toe gestuur en Hardus vir 10. Regter Shyam Gyanda het beslis Mathew was die baasbrein agter die moorde en hom twee keer lewenslange tronkstraf opgelê.

Haar brief uit die tronk aan Huisgenoot se joernalis Jana van der Merwe, wat haar op skool leer ken het.

Tydens al haar besoeke met die jare het die twee nooit hul storie verander nie, vertel my ma. Tot onlangs moes hulle deur glasvensters en oor ’n interkomstelsel praat. Nicolette en Hardus kan nou kontakbesoeke ontvang. Nicolette is nog skraal, maar lyk gesonder.

Hardus, wat intussen van Westville verplaas is na Sevontein buite Pietermaritzburg, het volgens haar ’n man geword. Sy neem vir hom wegneemhoender. Hy het inligtingstegnologie begin studeer, maar het dit gelos omdat hy glo rekenaarspeletjies gespeel het wat hom destyds nadelig beïnvloed het. Hy wil pastoor word.

Die twee vra haar gedurig uit oor hul suster. “Nicolette wil elke bietjie nuus oor Christelle hoor; sy het ’n hunkering na haar familie en vergifnis.” 

Dit was maande gelede toe ek aan my ma noem ek wil graag met Nicolette kontak maak. My ma het dit toe tydens ’n besoek vir haar gesê.

Johan en Riekie Lotter is in 2008 vermoor.

Christelle, wat tydens haar ouers se moord fisioterapie aan die Universiteit Stellenbosch studeer het, is vandag getroud en het ’n babadogter. Ek het haar op Facebook genader, maar sy wou nie Nicolette se pleidooi om vergifnis lees nie. “Mense moet verstaan, Christelle het alles verloor: haar ma, haar pa, haar broer, haar suster. Sy is ’n Christenkind. Sy sal self besluit,” het ’n familielid by navraag gesê.

Ek het intussen twee keer telefonies met Nicolette gepraat en sy en haar advokaat het ingestem dat Huisgenoot ’n verkorte uittreksel van die brief publiseer. Tydens haar tweede oproep was sy angstig oor Christelle se reaksie.

“Ek wil nie my sussie verder wegdryf nie,” het sy gesê. “Ek wil net na haar uitreik en haar laat weet ek mis haar.”
haar op skool leer

Pleidooi uit die tronk (verkort)

Liewe Jana,

Ek is nou al amper agt jaar in die tronk: drie jaar en agt maande verhoorafwagtend en Maart dié jaar vier jaar in my vonnis in. Op die oomblik mis ek my familie baie en al is die tronk overcrowded met mense, voel ’n mens baie alleen en eensaam.

Die Here dra my wel deur alles en ek het regtig sy onbeskryflike groot genade ervaar in my lewe . . .

As die Here dit goedvind om mense te vergewe, is dit goed om onsself en mekaar te vergewe. Ek het sy vergifnis die eerste dag in die polisiekantoor se selle ervaar.

Ek wil vrede maak met my familie. Ek was verlig om my boetie te kon besoek terwyl hy nog in Westville was. Ek het hom omtrent vier keer besoek; dit was fantasties. 

Hy het so goed gelyk en vir my gesê hy het my vergewe en dat die verlede past tense is. Sy verhouding met die Here dra hom en hy ken sy Bybel baie goed en hy het gesê hy bid en vas nou ook.

My boetie is baie oulik en ek glo hy sal ’n sukses maak van sy lewe. 

Ek wens net hy kon meer aanmoediging kry. En ek mis my oupas en oumas, en my pa en ma, wat ons aangemoedig het voor ek Mathew ontmoet en dinge begin skeefloop het.

Een van die dinge wat my regtig baie gehelp het om te cope met dit wat gebeur het, is om met Liewe Jesus te praat in gebed, selfs alles wat ek vir my ouers wou sê, soos hoe jammer ek is en dat ek hul vergifnis vra, vir hulle lief is en dankbaar is vir alles wat hulle vir my gedoen het terwyl hulle geleef het.

Ek weet Jesus is in die hemel en dat my ouers daar is. Al kan ek nie persoonlik met hulle praat nie, kan Jesus, want Hy is daar, en ek glo in my hart as Hy lief genoeg was vir my om ’n kruisdood te sterf, sal Hy beslis ook vir my ouers kan sê wat op my hart is.

In die selle het ek gedroom hulle leef nog. Dan sou ek wakker word in ’n nagmerriewerklikheid. Maar deur Jesus is die werklikheid dat hulle wel nog in die hemel leef.

Dit beteken vir my alles. 

Dit beteken ek sal hulle weer sien en dat ons in die hemel weer ’n gelukkige gesin sal wees.

As dit nie vir Jesus was nie, sou ek sonder hoop geleef het.  Maar nou het ek elke dag
hoop!

Ek hoop en bid net dat my sussie my en my boetie wel eendag sal vergewe.

Ek bid elke dag vir die hele familie, insluitend my sussie, en ek glo niks is onmoontlik by God nie.

Ek is ook baie dankbaar vir al die mense wat vir my en my boetie gebid het, want ek glo die Here werk in ons om ons beter mense te maak en ons in die waarheid te lei.

Nicolette

  • Nuwe episodes van Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00.