Op die rugbyveld het hy enige teenstanders grond toe gebring en uitoorlê. Hoewel hy motorneuronsiekte, wat in 2011 by hom gediagnoseer is, met dieselfde durf aangevat het as wat hy elke wedstryd aangevat het, het dié siekte vroeër in 2017 Joost se lewe geëis.

In die eerste seisoen van die televisiereeks, Huisgenoot: Ware Lewensdramas op Via (DStv-kanaal 147) is Joost se verhaal vertel. Die tweede seisoen van die reeks keer op 16 Augustus terug na die kassie.

Kort voor sy dood in Februarie, het Joost ’n laaste keer in ’n roerende onderhoud met Jana van der Merwe nog gesê: “Ek bid saam vir almal wat siek is, want met Jesus gebeur daar nog wonderwerke. Terwyl ons nog asemhaal, het God ’n plan met ons.”

Lees die eksklusiewe onderhoud

Eers was dit net sy regterarm wat krag verloor en sy tong wat traag geword het om woorde te vorm. Maar in die byna ses jaar sedert motorneuronsiekte (MNS) by die eens fikse en gespierde Bokheld gediagnoseer is, het dit Joost van der Westhuizen een vir een van die goed beroof wat hy vroeër as vanselfsprekend aanvaar het: om een voet voor ’n ander te sit, sy kinders in sy arms op te raap, sy kop regop te hou sonder dat dit vorentoe val . . .

Al was hy aan ’n rolstoel gekluister, al moes hy gevoer word en met die hulp van ’n rekenaarstem praat, was daar een ding wat hy nog met ’n mate van gemak kon doen: asemhaal.

Maar ook dit het geleidelik ál swaarder geraak, tot dit een nag twee maande gelede ’n keerpunt bereik het.

Sy verswakte borsspiere wou dié nag nie saamwerk om die volgende noodsaaklike teug lug in sy longe in te trek nie.

Ten spyte van die skrikwekkende gevoel van asemnood het hy die nag oorleef.

Die volgende oggend het Joost vir sy broer Pieter vertel hy sukkel soms om asem te kry. Joost (45) en sy familie het daarna besluit om op aanbeveling van sy huisdokter, dr. Henry Kelbrick, ’n draagbare suurstofmasjien as hulpmiddel aan te skaf (sien die kassie).

“Ons het dit stilgehou, want dit ontstel Kylie,” verduidelik Joost in ’n eksklusiewe onderhoud oor die jongste verwikkeling in sy uitgerekte stryd teen MNS. Vir sy 10-jarige dogter is dit een te veel om haar pa aan pypies en ’n masjien gekoppel te sien.

Joost het eers die gebruik van die masjien stilgehou vir sy kinders, Kylie en Jordan. Hy wou sy dogter nie daaraan blootstel nie omdat dit haar ontstel, sê hy.

Selfs in die kloue van ’n siekte wat hom ál meer aftakel, bly hy ’n pa wat hom oor sy kinders se welsyn bekommer.

Oral teen die mure van die leefgebied by sy huis in Dainfern, Midrand, waar ons gesels, is foto’s van Kylie en haar broer, Jordan (13), Joost se kinders by sy vervreemde vrou, die sangeres, aktrise en televisieaanbieder Amor Vittone. Op een foto ry Kylie perd en op ’n ander speel Jordan sokker.

Hulle woon by hul ma op dieselfde landgoed. Verlede jaar het Joost nog dikwels saamgery wanneer een van sy versorgers Jordan soggens by die skool gaan aflaai, maar nou gebeur dit selde. Hy sien sy kinders nog gereeld, veral oor naweke.

Joost is afgetrokke en stil, nes die res van die huis waarin sy versorgers rondbeweeg.

Hier in die leefgebied met sy grootskermtelevisiestel bring hy die grootste deel van sy dae deur. Die wind deur die sydeur na ’n ruim stoep bring effense lafenis teen die hitte.

Wanneer hy praat, is dit in kort sinne. Hy kommunikeer danksy ’n rekenaarprogram waarmee hy woorde kan tik deur bloot sy oë te beweeg. Dit word dan in ’n geblikte stem in Engels uitgespreek. Aan die oorkant van die vertrek staan sy suurstofmasjien op wiele. Die maandelikse huurgeld daarvoor is billik, vertel Pieter.

Al werk dit met elektrisiteit, is Joost nie bekommerd oor ’n moontlike kragonderbreking nie. Hy sal oukei wees, want dis vir hom net ’n hulpmiddel, verduidelik hy.

Die grootste verskil wat die masjien in sy lewe gemaak het, is dat hy nou baie beter slaap. “Ek volg ’n gesonde dieet en ’n mens se liggaam herstel wanneer jy slaap. Toe kry ek suurstof om vir dit alles te help.”

’n Mens kan nie die sterk en gesonde man vergeet wat hy eens was nie.
Pieter van der Westhuizen

Joost is steeds betrokke by die J9-stigting, wat hy op die been gebring het om ander MNS-lyers by te staan, maar hy het sy bedrywighede afgeskaal.

“Ek help nog waar ek kan,” vertel hy.

Hy is nou klaar gereis nadat hy vroeër gereeld vir gesondheidstoetse Londen toe gevlieg het. “Dis nou tyd om te rus,” verduidelik hy.

Terwyl hy in ’n bruin gemakstoel met ’n grys kombers oor sy bene met ons sit en praat, val sy kop gedurig vorentoe.

Dan is Pieter gou by om dit te lig.

Sy broer is steeds sy steunpilaar, maar Joost stel dit duidelik: “My vriende en familie versorg my nie meer nie. Dit is nie regverdig teenoor hulle nie.”

Op die agtergrond werskaf sy versorgers, Mike Burger (66) en Bell-inn Muzarewetu (35). Bell-inn se neef Blessed Muzarewetu (32) help ook die oudrugbyheld dag en nag bystaan.

Pieter het hulle deur ’n agentskap vir versorgers aangestel op aanbeveling van ander wat al van hul dienste gebruik gemaak het. Al drie woon by Joost in en werk in skofte om 24 uur per dag na hom om te sien.

Hulle sorg dat hy elke uur versapte groente en vrugte inkry. Dit word deur ’n buis na sy maag gelei.

Toe Mike en Bell-inn hom vir sy voeding kom haal, gesels ons buite op die stoep met Pieter.

“Ons vat dinge net soos dit kom,” vertel hy oor Joost se suurstofgebruik.

Die suurstofmasjien wat Joost gebruik het wanneer hy benoud voel. Foto: Lubabalo Lesolle

Al veg Joost al sedert Mei 2011 teen MNS, bly dit vir Pieter moeilik om sy broer se toestand te aanvaar.

“Elke dag skok dit my. Dit is nie lekker om hom so te sien nie.

“ ’n Mens kan nie die sterk en gesonde man vergeet wat hy eens was nie,” sê Pieter.

Noudat Joost die afgelope twee maande suurstof gebruik wanneer hy benoud voel, wil Pieter nie eens dink wat volgende kan kom nie.

“Joost sal vir lang tye baie stabiel wees, maar dan ewe skielik,” beduie hy met ’n hand wat val, “sal hy net nie lekker voel nie en nog meer agteruitgaan.”

Ook finansieel beleef Joost steeds ’n krisis, sê Pieter.

Joost delg die meeste van sy mediese uitgawes uit sy eie sak. Gelukkig is die R385 665 wat sy vermoorde prokureur, Robert Klinkenberg, vermoedelik voor sy dood op 3 Desember 2015 verduister het, ná ’n lang hofgeding teen die Getrouheidsfonds vir Prokureurs aan hom uitbetaal (Psalm 91 is nou my troos, 6 Oktober 2016).

Intussen bly hy op God vertrou. Sy jare lange vriend past. Nevil Norden van die Lewende Woord-bediening besoek hom gereeld en gee hom geestelike leiding.

Joost bly moedig. “Dit gaan baie goed met my onder die omstandighede,” sê hy.

“Ek bid saam vir almal wat siek is, want met Jesus gebeur daar nog wonderwerke. Terwyl ons nog asemhaal, het God ’n plan met ons.”

Waarom ’n suurstofmasjien?

Met motorneuronsiekte (MNS) is suurstofhulp later onvermydelik omdat pasiënte nie altyd so diep kan asemhaal nie, sê dr. Henry Kelbrick, Joost van der Westhuizen se huisdokter en familievriend.

Die asemhalingspiere is gewoonlik die laaste spiere wat deur MNS aangetas word. “Maar elke mens verskil; dus beteken dit nie Joost gaan noodwendig binnekort ’n ventilator nodig hê nie.”

Die suurstofmasjien is geen ventilator nie, beklemtoon Henry.

“Dit is glad nie ’n pyp wat jou help asemhaal nie; dit is net ’n lugtoevoer met meer suurstof daarin. Normale lug het net so 18 persent suurstof in en hierdie masjien kan jou 30 tot 40 persent suurstof gee. Die suurstofryke lug vloei deur ’n pyp voor Joost se neus. Hy haal nog heeltemal op sy eie asem. Die masjien is net ’n hulpmiddel vir tye dat hy voel hy wil ’n bietjie dieper asemhaal.”

Nie net die verswakte spiere in Joost se diafragma kan hom kortasem maak nie; spanning en selfs weersomstandighede kan ook ’n rol speel. “Dit is ongelooflik dat hy nou eers ’n bietjie suurstof nodig kry. Sommige mense (met MNS) sal heelwat vroeër reeds begin sukkel.”

Suurstofhulp kan ’n pasiënt se lewe help verleng, sê Henry. “Wanneer jy ’n tekort aan suurstof het, plaas dit baie druk op ander stelsels in jou liggaam,” verduidelik hy.

Die suurstofmasjien kan tussen 1 en 5 L gesuiwerde suurstof per minuut lewer, verduidelik die vervaardigers daarvan in ’n digitale brosjure. Die masjien trek lug uit die vertrek en skei die suurstof en ander gasse van mekaar deur ’n lugbevogtiger met water daarin.

Die gesuiwerde lug kan deur neuspypies of ’n gesigsmasker tot by die pasiënt vloei en word deur ’n knoppie beheer.

– Charlea Sieberhagen en Pieter van Zyl

  • Nuwe episodes van Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00.