Wat het geword van die ses meisies wat die pedofiel Gert van Rooyen en sy houvrou, Joey Haarhoff ontvoer het?

Die antwoord op dié vraag is saam graf toe die dag toe Gert ná ’n jaagtog met die polisie eers vir Joey doodgeskiet het voor hy sy eie lewe geneem het.

In die eerste seisoen van die TV-reeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA (DStv-kanaal 147) is daar teruggekyk na dié gebeure wat die land geruk het. Die tweede seisoen van die dokkiereeks keer vanaf 16 Augustus terug na die kassie.

25 jaar nadat Gert en Joey dood is, het Joey se dogter in ’n eerste eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot vertel van die pyn waardeur sy is toe sy uitgevind het haar ma is betrokke by die verdwyning van die kinders.

As jy na haar kyk, sien jy iets van haar ma in haar. Miskien is dit in haar oë, of die manier waarop sy glimlag.

Nie dat Ingrid* juis glimlag wanneer sy oor haar ma, Joey Haarhoff, praat nie. Dan loop die trane eerder, “want dis ’n seer wat nooit weggaan nie”.

“Ek sal altyd haar dogter bly. Maak nie saak wat sy gedoen het nie, sy bly my ma,” sê Ingrid van die vrou wat 25 jaar gelede saam met Gert van Rooyen verbind is met die opspraakwekkende verdwyning van ses meisies tussen 11 en 14 jaar (Skrikbewind sonder end, 29 Januarie). 

“Sy het drooggemaak. Dit bring skade aan die verhouding, maar dit verander niks aan die feit dat sy my ma is nie. Niks sal dit verander nie. Ek is lief vir haar.”

Dit het Ingrid (51), die naasoudste van Joey se vier kinders, jare geneem om nie meer skaam te wees oor haar ma nie. Om nie meer kwaad te wees nie dat sy en Gert “die maklike uitweg gekies het om dood te gaan en ons met die gebakte pere gelos het”.

Om nie meer bang te wees nie om op straat in mense se wysvingers vas te kyk en te hoor “daar loop die pedofiel se dogter”.

So het Rapport destyds oor Gert en Joey se dade berig.

Dit het haar ook jare geneem om vandag vir die eerste keer eksklusief haar hart uit te praat oor haar ma en die pyn wat sy deurgemaak het sedert sy uitgevind het Joey het die vermiste kinders help ontvoer.

Dit was die dag voor Gert eers haar ma en toe homself op 15 Januarie 1990 doodgeskiet het – met die polisie warm op hul spoor. En vandag wil Ingrid iets doen wat sy al jare lank wil doen: Sy wil graag sê hoe jammer sy is.

“Ek vra namens my ma verskoning vir die mammas van daardie kinders,” sê sy. “Ek weet dit is nie ons skuld nie en ek weet dit sal nie die kinders terugbring nie en dit sal ook niks aan die pyn doen nie, maar ek vra verskoning vir die seer wat my ma hulle aangedoen het.”

Ingrid is vandag self ’n ma van drie en ouma van vier kleinkinders op wie sy versot is. Dit is juis ter wille van hulle dat sy nie haar naam genoem wil hê nie, want sy kan die “wrede mense” se aanmerkings hanteer, maar nie haar kleinkinders nie. “Ek dink baie aan die ouers van daardie kinders. Ek het die Here al gevra om my te gebruik om daardie kinders te vind, want ek wens so ek kan hulle aan hul ouers teruggee.” 

Ingrid is Joey se enigste dogter, maar hulle het nooit ’n goeie verhouding gehad nie, vertel sy. 

Sy en haar drie broers het op Winburg grootgeword. Hulle was ’n gewone gesin. Wanneer die familie vir Kersfees by hulle kom kuier het, het haar ma vir almal ’n driegangmaaltyd berei.

Haar ouers het nou nie die beste huwelik gehad nie, “maar elke huwelik het sy probleme”. Ingrid wil nie uitbrei oor wat die probleme was nie.

“My ouers het moeilike tye gehad, maar my pa het altyd gesorg dat daar kos in die huis is.

“My ma het ’n boekhou-soort werk gedoen. Sy was baie goed in haar werk. Sy kon ook baie goed kos maak.

“My ma was ’n perfeksionis. Sy het ’n sterk geaardheid gehad en was ’n go-getter. Sy was hardwerkend. Sy was streng met ons kinders. Sy het nie maklik liefde gewys nie, maar sy het ons goed versorg en was altyd daar vir ons.”

Al wat oor is van Gert se huis, is ’n groen staalhek. Agter die hek is ’n beboste erf. Foto: Dino Codevilla

Joey was glad nie so sleg soos mense haar uitgemaak het nie, sê Ingrid. Sy het net in die verkeerde man se hande beland. 

Daardie man was Gert van Rooyen. En hy het Joey “die pad laat byster raak”.

Ingrid was 21 toe haar pa aan ’n hartaanval dood is. Kort daarna het haar ma Pretoria toe getrek saam met haar jongste seun, wat toe in die destydse st. 7 (nou gr. 9) was. Die ander kinders was al uit die huis.

Nadat Joey Gert deur ’n vriendin ontmoet het, het sy by sy huis in Malherbestraat in Capital Park ingetrek. Gert wou nie hê haar jongste seun moet by hulle woon nie; daarom het hulle vir hom ’n kamer naby sy skool gehuur. “Almal sê my ma was Gert se houvrou. Dit is nie waar nie. Hulle was verloof en sou trou.”

Ingrid en haar man het toe in Pretoria -Wes gewoon en haar ma het Gert aan hulle kom voorstel. Van die eerste oomblik het Ingrid niks van hom gehou nie. “Ek kan nie vir jou sê hoekom nie. ’n Vrou se sesde sintuig sê mos jy moet versigtig wees.” Ingrid-hulle het ’n paar keer by haar ma en Gert by sy huis in Malherbestraat gaan kuier, waar hy vermoedelik die vermiste meisies aangehou het.

“Jy weet daardie foto van Gert en my ma wat altyd gepubliseer word? Ek was by toe daardie foto’s geneem is. Iewers moet daar ’n foto van my wees saam met hulle. Ek onthou nog daar was ’n fotograaf by die huis en my ma het my geroep om saam met hulle te kom staan,” vertel Ingrid.

“Dit was in die tyd dat die kinders verdwyn het dat ons daar gekuier het, maar ons het nooit iets vermoed nie.” 

Selfs op die identikits in koerante van die man en vrou wat in verband met die ontvoering van die jong meisies gesoek word, kon sy geen ooreenkomste met haar ma sien nie, sê Ingrid.

Toe verdwyn Yolanda Wessels, Ingrid se 13-jarige niggie, op 3 November 1989 in Kempton Park. Sy was Joey se susterskind, maar toe Ingrid daarvan praat, het haar ma net gesê sy het dit in die koerante gesien, maar nie verder daaroor gepraat nie.

“Ek het agtergekom my ma tree anders op. Sy was baie op haar senuwees, heeltyd. My ma het ook begin drink – iets wat sy nooit gedoen het nie.

“Ek en my ma het eendag in die Wimpy gesit. Sy was weer so op haar senuwees en het goed gesê wat nie sin maak nie, soos dat sy nie uit die verhouding (met Gert) kan wegbreek nie. Toe ek vra hoekom, het sy gesê ek sal nie verstaan nie.

“Ek het agtergekom iets in hul verhouding is nie lekker nie, maar ek het nie geweet watter houvas hy op my ma gehad het nie.

“Hy was ’n vark. Die laaste keer dat ek in sy huis was, het my ma my kamer toe gestuur om iets te gaan haal. Toe ek uitkom, het hy my teen die muur vasgedruk en gesoen. Ek het gegril. Ek het my man daarvan vertel en ek het vir hom gesê hy los my nooit weer alleen saam met daardie man nie.”

Die laaste keer dat Ingrid haar ma gesien het, was toe sy en haar man op ’n Sondag by die huis kom nadat hulle die naweek by haar skoonouers gekuier het.

Die voordeur se glas was stukkend, want Joey en Gert het by hul huis ingebreek. Hulle het toe reeds ’n paar dae in Ingrid-hulle se huis gebly.

“Toe ons hulle in ons huis sien, wou ons dadelik weet wat hulle daar soek. Gert het gesê ons moet net rustig sit.

“Ek en my ma het kombuis toe gegaan. My ma het vir my gesê hulle is in die moeilikheid en vlug vir die polisie. 

“Sy het gesê hulle het iemand in die polisie se kind ontvoer en die mens vir geld afgepers. Die kind het weggekom en nou vlug hulle vir die polisie.

“Ek het begin praat en huil en haar gesmeek dat hulle nie moet weghardloop nie, maar dat hulle hulle aan die polisie moet oorgee. Sy het gesê hulle kan nie.

“My ma wou gehad het my man moet saam met Gert ry. Maar oomblikke later het sy gesê ek moet my man keer, want Gert het ’n rewolwer in die bakkie. My ma het gesê hulle wil ’n rukkie by ons bly. Die volgende oomblik het Gert iets vir my ma gesê. Hulle het in die bakkie geklim en weggery.

“Ek en my man het tiekieboks toe geloop en my tannie Poppie (Joey se halfsuster) gebel. Ons het vir haar gesê my ma was by ons en hulle vlug vir die polisie. 

“My tannie het my gevra of ek nie kliek dat dit my ma-hulle is wat die kinders ontvoer het nie.”

Foto: Dino Codevilla

Ingrid was geskok, want die gedagte het nooit eens by haar opgekom nie.

Haar tante het daarna die polisie gebel en hulle vertel Gert en Joey was by Ingrid-hulle. Kort daarna het die polisie verklarings by hulle kom afneem. Die polisie het daarna hul huis begin dophou, soos Ingrid-hulle later sou uitvind.

“Die volgende aand het my man opgestaan, want ons seuntjie het gehuil. Hy kyk toe deur die voorvenster en sien ’n motor oorkant die pad.

“Die volgende oomblik het my ma-hulle in die straat afgery gekom. Hulle wou net by ons oprit indraai toe die motor oorkant die pad sy blou ligte aansit. Daar het die jaagtog begin tot by die Apiesrivier, waar Gert eers my ma en toe homself doodgeskiet het.

“Ons verwyt onsself baie. Ons loop nie en tob elke dag daaroor nie, maar dit bly in jou gedagtes. Wat as ons vroeër gekliek het wat aangaan? Miskien kon ons iets gedoen het. My man verwyt homself dat hy nie self die polisie gebel het nie. Ek verwyt my dat ek nie ’n beter verhouding met my ma gehad het nie. Miskien sou sy my dan vertel het wat aangaan en kon ons iets daaraan doen. Dalk het sy dan nog geleef.”

Die dag toe dit bekend word Gert en Joey het oor ’n tydperk van ’n jaar en ’n paar maande sewe meisies ontvoer van wie die laaste een ontsnap het, het Ingrid se lewe vir ewig verander. 

Haar en haar man se name het in die media verskyn. Joernaliste en fotograwe het buite hul huis kampeer. 

Weens al die publisiteit het haar man sy werk by ’n versekeringsmaatskappy verloor “omdat hy nie goeie advertensie vir die maatskappy is nie”.

Hulle het alles verloor en sak en pak by haar skoonouers in Klerksdorp gaan bly. Ná ’n paar maande het haar man werk in die mynbedryf gekry en hulle het Kimberley toe getrek.

Daar het die mense gou agtergekom wie hulle is. Wanneer mense hulle in die straat sien stap, het hulle hul kinders wat buite speel binnetoe geroep. Ander het vingergewys en gesê: “Daar is daardie pedofiel se dogter.”

Later het Ingrid skaars die moed gehad om haar gesig buite die huis te wys. Sowat twee jaar ná Joey se dood, toe Ingrid se jongste seun net ’n paar maande oud was, hoor sy op ’n dag sirenes en sien polisievoertuie voor haar huis stilhou. Polisielede het ingestap en gesê hulle soek haar en haar man, want hulle vermoed hulle was by die kinders se ontvoering betrokke. 

Ingrid het na haar man se werk gebel. Toe hy by die huis kom, het die polisie hulle en hul twee seuns in die motor gelaai en die kinders by haar skoonouers in Klerksdorp gaan aflaai. 

“In die motor het hulle ons met vrae gepeper. Hoe meer ons gesê het ons weet niks, hoe minder het hulle ons geglo,” vertel Ingrid terwyl die trane loop. 

“Toe ons van my skoonouers se huis wegry, het my oudste verskriklik gehuil. Hy was histeries.

“Van Klerksdorp af het hulle ons iewers na ’n plaas geneem. Hulle het heeltyd vrae gevra. Hulle saai soveel twyfel in jou dat jy later wonder of jy nie tog betrokke was en dat jy dit net nie kan onthou nie. 

“Van daar af het hulle ons na iewers in die Kaap geneem. Hulle het gesê ons gaan na ’n uitkenningsparade, want ’n vrou het gesien hoe ek ’n kind iewers in die Kaap ontvoer. Ek was nog nooit tevore in die Kaap nie. 

“Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het ’n pienk trui aangehad wat ek self gebrei het. Jy staan daar met ’n klomp vroue langs jou. Ek kon hoor hoe my hart klop.

“Toe kom hierdie vrou en kyk my in die oë en loop verby. Sy loop terug, kyk my weer in die oë en sê: ‘Dis jy.’ Hulle het haar gevra of sy seker is en sy het ‘ja’ gesê. Daardie oomblik het ek geweet hoe Jesus gevoel het toe hy voor Pontius Pilatus gestaan het, ’n onskuldige man wat aan die kruis moet gaan hang vir iets wat hy nie gedoen het nie.

“Hulle vat my toe by ’n kamer in en begin weer vrae vra.

“My man het my later vertel hy het daar iewers doodrustig

op ’n stoel gesit toe ’n vrou by hom vassteek en begin skree: ‘Hy was daar, hy was daar.’

“Ons weet nie wie die vrou was nie, maar is nou oortuig daarvan dit was ’n polisievrou en dit was die polisie se manier om ons te laat knak.

“Ons het teruggery Johannesburg toe. ’n Week lank het dit so aangegaan. Weer en weer word jy dieselfde vrae oor en oor gevra.

“In Johannesburg het ek daardie aand vir my man gesê ek kan nie meer nie. Ons het op die bed gesit en ek het begin bid. Ek het vir die Here gesê daar is nie ’n manier dat ons kan bewys ons is onskuldig nie. Ek was kwaad vir die Here en het Hom gevra hoe lank Hy nog gaan toelaat dat my ma my lewe opf**. Sy is dood en sy f** my lewe steeds op.

“My man het gesê ek kan nie so voor die Here vloek nie. Ek het gesê ek kan, want dit is hoe ek voel.

“Daardie volgende oggend, terwyl hulle weer besig was om my te ondervra, het ’n polisieman ingekom en gesê ons kan gaan. Toe ek hom vra hoekom nou, het hy gesê daardie gebed wat ek gebid het, het hulle finaal oortuig ons was nie betrokke nie.”

Toe eers het Ingrid besef haar en haar man se gesprekke is afgeluister in die huis waar die polisie hulle aangehou het.

Toe Ingrid die onlangse Huisgenoot-onderhoud met Babs Wessels, haar ma se suster, lees,was sy vir die eerste keer hartseer vir haar ma se onthalwe.

Daarna het Ingrid-hulle harde bene gekou. Nie net het mense steeds die vinger na hulle gewys nie; hulle het ook finansieel gesukkel. Hulle het Warrenton toe getrek, maar was nie gelukkig daar nie. Ingrid het in ’n depressie verval en is in ’n inrigting opgeneem.

Daarna het die gesin Limpopo toe getrek, waar haar man by n ander myn werk gekry het. Ná twee maande het Ingrid besef sy het hulp nodig, maar dié keer was daar nie geld vir ’n kliniek nie.

’n Vriendin het haar na ’n pastoor geneem. Daardie dag het sy haar hart vir die Here gegee.

Sy het by die kerk betrokke geraak en later haar studie voltooi om pastoor te word. Al was sy nie in die bediening nie, het sy landwyd getuienis gelewer.

Ingrid was jare lank kwaad vir haar ma.

“Ek het gevoel hulle (Joey en Gert) is lafaards, want hulle het die maklike uitweg gekies en ons, haar kinders en sy kinders, met die gebakte pere gelos.

“Ek was so kwaad dat ek alles vernietig het wat ek van my ma gehad het. Ek het tot vandag nie een foto van haar nie. 

“Dit is ons wat nou nog swaarkry. Wanneer daar oor Joey Haarhoff gepraat word, maak dit seer.

“Ouers is veronderstel om trots te wees op hul kinders en kinders op hul ouers. Hoe kan ek trots wees op my ma ná wat sy gedoen het?

“Ek weet nie waar wat vir my ma verkeerd geloop het dat sy sulke dinge gedoen het nie. Ek weet net ek het ’n keuse in die lewe gemaak dat ek nie soos sy sal wees nie.”

“Die tragiese einde van haar ma se lewe het nie net Ingrid diep geraak nie; dit het op die hele Haarhoff-gesin ’n uitwerking gehad. “Ons vier kinders kon net nie verwerk wat gebeur het nie. Ons het van mekaar onttrek en almal het dit op ons eie manier hanteer.”

Met haar twee oudste broers praat sy al jare lank nie meer nie. Sy het nog kontak met haar jongste broer. Hy was nog op skool met sy ma se skietdood. Later is bipolêre gedragsteuring by hom gediagnoseer.

Ingrid het lank in vrees geleef dat iets met haar kinders sal gebeur. Sy het hulle van kleins af geleer hulle mag nie saam met vreemdes in ’n motor klim nie en niemand mag aan hulle raak nie.

Wanneer haar dogter by die bure wou gaan speel, “het ek al gesien hoe word sy ontvoer”. Op ’n dag het sy besef sy moet die negatiewe gedagtes leer afskud. “Ek moes vertroue in die mensdom leer kry dat hulle nie my kinders sal skade aandoen nie.”

Dit gaan goed met haar noudat die depressie en woede eindelik iets van die verlede is. Sy bestuur nou ’n koffierestaurant wat aan een van haar seuns behoort.

Toe sy onlangs in Huisgenoot lees van haar tannie Babs Wessels, Joey se suster en die vermiste Yolanda se ma (Hoe kon my suster my kind vat?, 5 Februarie), en die foto van haar ma sien, was sy vir die eerste keer in haar lewe hartseer oor haar ma. “My ma het haar lewe weggegooi.”

* Skuilnaam.

  • Nuwe episodes van Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00.