Op die Bangkok-lughawe word sy voorgekeer. In die harde uitgeholde voorblad van ’n boek wat sy vir ’n vriend saamgebring het Suid-Afrika toe, vind die polisie 2,7kg heroien.

Waar Vanessa daardie dag gedink het sy vlieg terug Johannesburg toe, was dit toe eintlik die begin van 16 jaar in die Lard-Yao-vrouegevangenis buite Bangkok. Daarby was sy toe reeds drie maande swanger.

Foto's: Argief

In die eerste seisoen van die TV-reeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA (DStv-kanaal 147) is Vanessa se verhaal vertel. Die tweede seisoen van dié reeks keer op 16 Augustus terug na die kassie.

Net na Vanessa se vrylating en terugkeer na Suid-Afrika het sy in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot vertel van haar hel in die tronk, die dag toe sy haar dogter vir die eerste keer in 13 jaar gesien het en oor die man wat haar lewe weer op koers help kry het.

Lees die artikel hier:

Twee maande lank het sy haar dogtertjie elke dag in haar arms geneem en vir haar  woordprentjies van ’n sonskynland geskep – ’n land waar daar warm storte is en matrasse waarop klein dogtertjies kan slaap.

Maar snags, wanneer die tronkdeure agter Vanessa Goosen (37) toegeklap het, kon haar eie woorde haar nie troos nie en het sy die donker ure op ’n koue sementvloer omgehuil oor die kind wat sy binnekort sou moes wegstuur.

“In my kop het sy nooit alleen by die tronk uitgestap nie. Ek het nooit gedink hulle sou haar by my wegvat nie. Ek het geglo ons sou saam daar uitstap,” vertel die voormalige Mej. Suid-Afrika finalis wat 16 jaar in ’n tronk in Thailand was nadat sy met dwelms betrap is. Sy hou steeds vol sy was onskuldig, die niksvermoedende slagoffer van haar vriend van destyds wat die dwelms in haar bagasie weggesteek het.

Haar oë skiet vol trane en haar stem word ’n dowwe fluistering toe sy daardie dag van afskeid 13 jaar gelede in die tronk weer soos gister onthou.

Twee maande voor Felicia drie geword het, het Thailand se tronkbeleid verander. Gevangenes se kinders kon voortaan net tot op eenjarige ouderdom by hulle bly. Vanessa het ’n keuse gehad. Sy kon die dogtertjie wat in die tronk gebore is na familie in Suid-Afrika stuur, of andersins sou haar dogter se nuwe huis ’n weeshuis in Bangkok wees.

Vir Vanessa en Felicia, toe amper drie, was die tyd vinnig besig om min te raak. Sy moes haar kleuter voorberei op ’n vreemde land ver van die Lard-Yao-vrouegevangenis buite Bangkok – al wêreld wat sy toe geken het.

Felicia saam met haar pleegma, Melanie Holmes, wat haar grootgemaak het.

“Ek het nie die woorde gehad om aan ’n driejarige te verduidelik dat sy weggevat gaan word nie. Dat sy na ’n vreemde land moet gaan nie. Maar êrens het ek die moed gekry. Ek het haar twee maande lank elke dag vertel hoe wonderlik Suid-Afrika is.’’

Felicia het uiteindelik “ingestem om te gaan” na Suid-Afrika waar Vanessa se beste vriendin Melanie Holmes, en haar man, Hilton, haar sou versorg.

“Sy was verskriklik opgewonde die dag toe sy saam met hulle moes vlieg,” vertel Vanessa. 

’n Hartseer glimlag sprei oor haar mooi gesig. “Maar 15 minute voor sy moes gaan, het sy van plan verander. Nie ek of Melanie of Hilton het geweet wat om te doen nie. Ons was almal in trane. My hart was in twee geskeur,” vertel sy in ’n stem wat wegraak tussen haar trane."

"My hart was in twee geskeur"
Vanessa Goosen

Met drie minute oor het sy Felicia eindelik oortuig. Die driejarige was sterker as haar ma en het met droë ogies in Vanessa se betraande oë gekyk. “Sy het gesê sy sal vir my wag . . .

“Sy het 10 keer omgedraai en my elke keer kom soen. Ek het gedink as sy dit nog een keer moet doen, gaan ek voor haar ineenstort.”
Felicia het vir haar mamma gesê om nie te huil nie. Maar die oomblik toe die deure tussen hulle toeklap, het die dogtertjie histeries begin huil en skree. “Sy was bang vir so baie dinge. Vir die karre, vir alles.”

En vir ’n toekoms sonder haar mamma wat sy eers 13 jaar later weer sou vashou . . .

Dit het destyds wêreldwyd opslae gemaak toe ’n Mej. SA-finalis in 1994 op die Bangkok-lughawe aangekeer is. Die 20-jarige skoonheid was drie maande swanger toe sy met 2,7 kg heroïen betrap is.

Nou is sy eindelik vry nadat sy koninklike kwytskelding van haar lewenslange tronkstraf gekry het, en vir die eerste keer vertel sy van alles wat sy deurgemaak het.

In Suid-Afrika het Vanessa destyds ’n blink toekoms gehad. Sy en haar kêrel en sakevennoot – ook Felicia se pa – het ’n boetiek in Johannesburg besit. Hulle het mansklere van onder meer China en Bangkok gekoop, en ook klere laat ontwerp vir hul winkel.

’n Vriend van hom wat soms oorsee gegaan en klere aan hulle verkoop het, stel toe voor dat Vanessa na Bangkok reis om self klere daar te gaan koop en na modestyle te kyk.

Vanessa was baie opgewonde en het besluit sy wil gaan. “Ek was nog nooit oorsee nie.”

Haar kêrel het al die reisreëlings getref en haar gebel terwyl sy oorsee was. Toe vra hy dat sy vir sy vriend wat voorgestel het dat sy oorsee reis, boeke oor ingenieurswese saambring. Die fyn poeier was in die harde, uitgeholde voorblad van die boeke versteek. Toe hulle dit kry, het Vanessa nie eens geweet wat dit is nie. “Ek het nog gevra of dit dan kokaïen is.

“Ek het heeltyd gevra hulle moet net my kêrel bel. Hy sal alles kan verduidelik. Een beampte het my so op die voorkop getik,” verduidelik sy en druk liggies met haar vingers op die voorkop van Markus Gyssler, haar verloofde wat hier langs haar haar hand bemoedigend vashou. “Hy het gesê: ‘Moenie bekommerd wees nie. Jy sal net 10 jaar sit.’ ”

’n Pyntrek flits oor haar gesig.

“Ek kon nie glo wat besig was om te gebeur nie. Ek het bly siek raak en aanhou sê ek is swanger, maar niemand het my geglo nie.”

Die klein geboutjie waarheen hulle haar daarna gevat het, was ’n polisiekantoor. ’n Amerikaner in die sel waarin sy gesit is, het vir haar ’n matjie en kussing gegee om op te slaap. “Ek het net hierdie tonele in die flieks voor my oë gesien . . .’’ Haar stem breek weer. Dit was die oomblik dat sy besef het sy sou nie terugvlieg huis toe nie.

Vyf dae later is haar Engelse verklaring in die hof verwerp en is sy na die vrouegevangenis gestuur.

Toe sy daar instap, het dit gevoel asof ’n doodsvonnis oor haar uitgespreek is.

“Ek kan nie onthou wanneer ek ophou huil het nie. Ek kon nie eet nie. Ek kon nie slaap nie. Ek het verskriklik maer geword.” In die tronk het hulle uiteindelik met ’n bloedtoets uitgevind sy is swanger en haar aangemoedig om meer te eet. “Ek is gewaarsku dat ek my baba sou verloor en my eie lewe in gevaar stel as ek nie na myself begin omsien nie.”

Vanessa is vas oortuig haar ekskêrel was verantwoordelik vir die dwelms wat in haar besit gevind is. “Dis onmoontlik dat hy nie kon geweet het nie. Dit was sy vriend.”

In die tronk het sy vermoed hy is betrokke, maar toe sy ’n paar weke later in die besoekersboek ’n vreemde naam sien en hy lewensgroot oorkant haar in die besoekershokkie sit, was sy oortuig dis sy handewerk.

“Hy het met ’n vals paspoort en naam die land binnegekom en my besoek. Maar hy het ontken dat hy betrokke is.” Sy het die ambassade van hom laat weet en met sy aankoms in Suid-Afrika is hy in hegtenis geneem. Hy het later briewe geskryf en haar steeds van sy onskuld probeer oortuig, “maar dit het my net geïrriteer en ek het dit onoopgemaak weggegooi.Die briewe het later opgehou en hy het verdwyn.”

Haar swangerskap was ’n nagmerrie.

“Ek kon nie eet nie en het verskriklik naar geword. Ek het soveel haat in my gehad teenoor my ekskêrel. Ek kon nie vrede maak met die feit dat ek hier sit en hy los rondloop nie. Ek het nagmerries oor hom gekry en het hom in my drome seergemaak. Ek wou hom net dood hê.”

Felicia is op 31 Oktober 1994 in ’n hospitaal buite die gevangenis gebore. Vanessa was twee dae in kraam. “Daar was 16 mediese studente rondom my. Ek was ’n toetsgeval vir hulle. Hulle kon nie ’n naald in my arm kry nie. Ek het later die naald self gevat en ingedruk. Agterna wou hulle weet of ek dwelms gebruik, want hoe weet ek dan om ’n naald in te druk?”

Sy was so swak met die geboorte dat sy nie die krag gehad het om die baba in die wêreld te bring nie. “ ’n Verpleegster het uiteindelik op my maag geklim  en haar uitgedruk. Ek kon nie.”

Agterna onthou sy hoe erg koud sy gekry het, maar daar was nie komberse in die hospitaal nie en hulle het twee ligte op haar laat skyn vir hitte. Sy het om 11:45 die lewe geskenk en haar dogter eers om 17:00 gesien toe hulle moes teruggaan tronk toe. 

Op pad tronk toe het sy flou geword met die pasgebore baba in haar arms. In die tronk het die jong ma gesukkel om haar baba te versorg.

“Dit was moeilik. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Ek het baie met my emosies gesukkel.”

Om alles te kroon, was Felicia ’n koliekbaba wat snags nie ’n oog toegemaak het in die sel wat hulle met meer as 400 ander vroue en kinders moes deel nie. 

TOE Felicia na Suid-Afrika kom, was Vanessa se hofsaak nog aan die gang. Uiteindelik het sy op ander gevangenes se aanbeveling skuld beken.

Van daardie dae kan sy nie veel onthou nie. “Daar was ’n Amerikaanse vrou wat elke aand met my oor die Here kom praat het. Ek het nie veel aandag gegee nie. Ek was in my eie wêreld. Maar sy het elke aand teruggekom.

“Ek het haar eendag gevra of God my kan terugvat huis toe. En sy het gesê Hy kan veel meer as dit doen. Hy kan vir my vrede gee. En hoop.”

Sy onthou die aand toe sy die Here gevind het baie goed. “Dit was 18 Maart 1995. Ek het die Bybel wat sy vir my gegee het, oopgemaak en dit was op ’n plek waar die Here ook in pyn was. Ek kon my daarmee vereenselwig. Ek het drie dae aanmekaar gehuil toe ek Hom aanvaar het.”

Sy glo dit was die Here wat haar die wil gegee het om aan te hou baklei. En Hy het wonderwerke vir haar laat gebeur.

“Ek is baie geseën. Ek wou aansoek doen om koninklike kwytskelding, maar ’n aansoek kos R15 000. Ek het nie die geld gehad nie.” Op ’n dag het ’n Suid-Afrikaanse lugwaardin van Kaapstad wat van haar gelees het, haar besoek. “Sy sou gaan trou, maar dinge het skeefgeloop. Sy het die geld wat vir haar troue bedoel was, vir my gegee en gesê ek moet daarmee aansoek doen.”

Sy het nie kwytskelding gekry nie en was verpletter. Nadat sy al haar hoop daarop geplaas het, is sy deur diep waters.

“Ek het paniekaanvalle begin kry. Snags kon ek nie slaap nie; ek was bang ek sou doodgaan en dan het ek die hele nag regop gesit.” Sy kon nie eet nie en het gereeld flou geword. In ’n stadium het dit so erg geraak dat sy in die hospitaal behandel is vir haar paniekaanvalle."

Sy wou nie medikasie gebruik nie, maar ná ’n ruk moes sy tog ’n sielkundige gaan sien, en depressie is by haar gediagnoseer.

“Ek was ’n maand in die hospitaal. Ek kon nie loop nie. Ek kon nie praat nie. Ek het net gelê.”
Vanessa Goosen

Later het sy geleer hoe om haar toestand te hanteer. “Ek het daaroor nagelees en as ek ’n paniekaanvalgekry het, het ek my asemhaling probeer beheer. Ek het geweet wat gaan kom.”

En ná vele appèlle oor die jare is haar lewenslange tronkstraf later tot 35 jaar verminder, toe tot 30 jaar en met elke bietjie amnestie – daar was vyf altesaam – nog ’n bietjie korter.

In Mei vanjaar het sy eindelik gehoor sy sou op 30 Oktober vrygelaat word. Dit was ’n dag voor haar dogter se 16de verjaardag.

So vreemd as wat dit dalk klink, was die tronk tog nie net sleg nie. Baie goeie dinge het ook daaruit gekom, vertel Vanessa.

Die tronk met sy meer as 4 000 gevangenes was een van die skoneres in Thailand. “Ons moes alles wat ons nodig gehad het, self koop. Ek het in die rekenaarkantoor as tikster gewerk. Ons het selfs ’n bakkery, ’n skoonheidsalon en ’n klein winkeltjie met kos gehad.”

Sy het deur die jare verskeie kursusse daar voltooi. Sy het ’n kursus in modeontwerp gedoen en klere ontwerp, laat maak en modevertonings buite die tronk gehou.

Die beige-en-rooi rokkie wat sy vandag met die onderhoud dra, het sy juis self ontwerp, vertel sy trots, en wys ook ’n paar handsakke en jeans met blink motiewe wat sy self ontwerp het. Sy gaan dit onder die handelsmerk Van Goosen bemark.

Sy het ook ’n rekenaarkursus, ’n grimeer- en voet-en-lyfmasseringskursus voltooi.

Vanessa is nog net so rietskraal soos in 1992 toe sy ’n kans op die Mej. SA-kroon gehad het. En hoewel sy deur hel is in die tronk, kan jy haar deur ’n ring trek. Sy is keurig gegrimeer en lyk rustig en gelukkig met Markus aan haar sy.

Markus (44) is nog een van die goeie dinge wat in die tronk met haar gebeur het. Die Duitser is ’n
besturende direkteur van ’n sagtewareonderneming in München, Duitsland, en het in 2005 van Vanessa op die internet gelees. Sy vrou is in 2004 aan kanker oorlede en hy het agtergebly met hul sesjarige seun.

“Hy het my vertel van homself en wat met hom gebeur het,” vertel Vanessa met ’n sagte lig in haar oë. Sy is aangegryp deur sy verhaal en het teruggeskryf. “Ek wou hom net weer moed inpraat.”

Die twee het oor en weer begin skryf en ’n paar maande later het Markus laat weet hy kom kuier.

“Vanessa het laat weet dit sal lekker wees as ek hier rond is,” vertel Markus met ’n stout glimlag. “Ek het haar laat weet sy verstaan nie mooi nie. Ek kom kuier spesiaal vir haar.”

Aanvanklik was hulle net vriende, maar ná die derde besoek het dit in iets diepers ontwikkel. En toe Markus haar op 1 Oktober 2007 vra om te trou, het sy dadelik ja gesê. “Ek kon nie eens op my knieë neersak nie, want sy sou my nie sien nie. Ons het nie ’n kontakbesoek gehad nie,” vertel Markus laggend. “Die glasafskorting was tussen ons en die telefoon het nie behoorlik gewerk nie, maar sy het dadelik ja gesê.” 

Hy het Vanessa in die afgelope drie jaar 16 keer besoek en Felicia twee keer na Thailand laat vlieg om by haar ma te gaan kuier. “In al dié tyd het ons net drie kontakbesoeke gehad,” vertel hy. Die paartjie beplan om volgende jaar te trou en daarna in Duitsland te gaan woon.

Vanessa en Mark Gyssler, haar verloofde, wat sy in die tronk ontmoet het.

Die grootste aanpassing is seker die warm storte wat sy deesdae kry, lag Vanessa. “Ek het die eerste keer uit die stort gespring en weer in koue water gestort; dit was so vreemd.”

Selfone en skootrekenaars is ’n ander nuwigheid en net vanaand gaan sy haar eerste ete berei, spog Markus. “Slaai en biefstuk – ons praat al jare hieroor.”

Sy is nie regtig ’n vleiseter nie en in die tronk het hulle meestal vark gekry, iets wat sy nie eet nie.

“En daar was sulke vreemde voëls wat ek nie kon eet nie. Die ding waarna ek die meeste gesmag het, was kaas.”

Die eerste keer toe sy gaan inkopies doen het, was sy in die wolke. Dit was net ’n supermark, maar sy het drie uur daar deurgebring. “Ek wou alles koop. Ek het die vrugte en groente so gemis. Ek het avokado’s en perskes en aarbeie gekoop. En kaas! Verlede nag het ek eenuur opgestaan en perskes geëet – wonderlik.”

Snags sukkel sy nog om te slaap. Van ’n koue sementvloer na ’n sagte matras met warm komberse is ’n aanpassing, maar een waaraan sy gou gewoond kan raak.

En dan is daar haar dogter . . .

Sy het baie kosbare oomblikke saam met haar familie misgeloop, ook haar dogter se grootwordjare en verjaardagpartytjies. Maar nou is sy hier om in te haal.

“Die dag toe ek hoor ek word vrygelaat, kon ek dit nie glo nie. Ek het by die tronk uitgestap en kon dit steeds nie glo nie. Eers toe ek en Markus op die vliegtuig sit op pad terug Suid-Afrika toe, het die werklikheid ingesink.”

Nogtans was sy doodbang om in Johannesburg deur die lughawe se deure te stap en haar mense te sien. “Ek was bang dat ek nie al die emosies sou kon hanteer nie. Ek het Felicia eerste gesien. Dit was so spesiaal om haar te druk en te druk en te druk en nie op te hou nie . . .”

Sy leer steeds om ’n verhouding met haar dogter te hê. 

“Sy noem my Vanessa en dis reg met my. Melanie was haar grootmaak-ma en sy het haar mammie genoem.”

Vier maande voor haar vrylating is Melanie aan ’n hartaanval dood. Dis ’n groot seer in haar lewe. “Ek was nou die dag by haar graf. Dit was baie swaar.”

Vir eers gaan sy bly in ’n woonstel wat Melanie-hulle vir haar aan hulle huis gebou het. “Sy was altyd bang ek sou Felicia by hulle wegneem, maar ek sou dit nooit doen nie.”

En dan is daar haar dogter se 16de verjaardagpartytjie en haar eie verwelkomingspartytjie wat hulle binnekort hou.

Sy wil graag as motiveringspreker begin optree en is besig om’n boek oor haar lewe te skryf.

“My grootste doel nou is om ander Suid-Afrikaners in soortgelyke situasies te help. Ek kom van ’n plek waar ek verstaan en weet wat hulle voel en waardeur hulle gaan. En ek wil help. Ek sal graag ook eendag berading wil gee.”

As daar een ding is wat hierdie hele ondervinding haar geleer het, is dit dat sy kan oorleef. Dat sy sterker is as wat sy gedink het en dat sy sterker in haar geloof is.

En dat die hoop nooit beskaam nie.

  • Nuwe episodes van Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00.