Dit is al 12 jaar ná die wrede moord op klein Jordan Leigh Norton deur huurmoordenaars wat haar pa se nuwe minnares, Dina Rodrigues gereël het.

Dina is in 2007 tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Zanethemba Gwada en Bonginkosi Sigenu is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis terwyl Sipho Mfazwe en Mongezi Bobotyane ook ’n lewenslange vonnis opgelê is. Dina het die mans R10 000 betaal om die moord te pleeg.

In die eerste seisoen van die TV-reeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA (DStv-kanaal 147) is Jordan Leigh se dood herbesoek. Die tweede seisoen van die dokkiereeks begin op 16 Augustus op VIA.

Tydens die moordverhoor het Huisgenoot gaan uitvind wat besiel iemand om ’n baba te laat vermoor.

Lees die artikel hier:

Haar ouers is gebroke. Vir hulle was dit “soos om van die strand af te moet toekyk hoe ’n skip met ’n geliefde aan boord sink” toe hul 25-jarige dogter, hul enigste, skuldig bevind word aan die moord op ’n babadogtertjie van net ses maande oud.

“Sy is die teerste mens wat ek al ooit ontmoet het,” het haar broer, Orlando, Rodrigues buite die hooggeregshof in Kaapstad gesê waar sy suster, Dina, tereggestaan het weens die moord op baba Jordan Leigh Norton.

“Sy sal ruspes tuin toe dra en met my ma raas wanneer sy ’n vlieg wil doodslaan.”

So onwrikbaar glo hy in haar onskuld dat hy nie sy hare of baard wil skeer voor sy weer uit die tronk kom nie. Dit kan nou ’n baie lang tyd word . . .

“Ek wens julle mense kon Dina ken soos ek haar ken,” skryf ’n vriendin, Meghan Brice, in ’n webjoernaal oor die hofsaak. “Sy is so ’n wonderlike mens en sy is versot op kinders.”

“Dina is soos Jesus gekruisig”
- Hofganger

Sy het nooit getuig nie, en presies wat haar gedryf het om moordenaars R10 000 te betaal om haar kêrel se baba by ’n ander vrou met ’n messteek om die lewe te bring, sal dalk nou nooit aan die lig kom nie.

Daar is soveel onbeantwoorde vrae. Was dit jaloesie, soos regter Basheer Waglay gesê het, omdat haar minnaar ’n kind by ’n ander vrou gehad het vir wie hy sou moes help sorg? 

Het Neil Wilson dalk onwillekeurig daardie saadjie geplant toe hy glo gesê het die onderhoud wat hy vir die kind moet betaal, is ’n probleem wat hy graag sou wou laat weggaan?

Of was Dina bloot, soos Jordan Leigh se oupa Vernon Norton dit gestel het, ’n “bose, knoeiende vrou”?

In die vroeë dae in die hof was sy meestal emosieloos, vroetelend en afgetrokke.

Maar in die laaste dae was onvergenoegdheid en selfs woede voortdurend op die eens uitdrukkinglose gesig te bespeur.

En toe sy skuldig bevind word, was sy vir die heel eerste keer sigbaar geskok, maar het voor haar bly uitstaar. Kan dit wees dat sy glo sy is onregverdig behandel en veroordeel?

Of het sy eenvoudig die insig gekort om die gevolge van haar verskriklike daad te besef?

Die geval Dina Rodrigues is so tergend onverklaarbaar dat ’n forensiese kenner dit nou wil gebruik om ’n profiel van ’n babamoordenaar vir wetenskaplike
gebruik saam te stel.

Dit kan wees dat Dina aan ’n grenspersoonlikheidsteuring ly. 

“Mense met hierdie steuring kan op verskillende maniere onstabiel wees,” verduidelik dr. Brenda Beukman, forensiese kriminoloog aan die Walter Sisulu-universiteit in Oos-Londen. 

“Dit kan blyk uit hul optrede teenoor ander, gemoedsteurings en hoe hulle hulself sien.”

Gevoelens van verveeldheid en leegheid kom dikwels by hulle voor. Hulle kan impulsief en onvoorspelbaar optree, en maklik gefrustreerd, kwaad en selfs gewelddadig raak waar ander nie so sou optree nie.

Dina was die enigste dogter in ’n baie hegte gesin. Wat ’n mens laat wonder: Was sy dalk ook so beskerm en bederf dat sy begin voel het sy kan enigiets ongestraf doen? Ouers van medeleerlinge aan die Hoër Meisieskool Wynberg in Kaapstad se boomryke suidelike voorstede het juis vertel sy het van haar briefies met “Queen Dina” en ’n kroontjie daarby onderteken.

Hieroor sê prof. Irma Labuschagne, Pretoriase forensiese kriminoloog, die gesinsopset is maar een aspek van ’n ingewikkelde prentjie.

“Gene en aangeleerde gedrag is ewe belangrik. Maar dan sê dit ook nogal iets van Dina dat sy ander mense by die moord betrek het om haar vuil werk vir haar te doen en so nog lewens verwoes het.”

Dit kon ’n gewoonte by haar gewees het om haar wil aan ander op te dwing. Dit kan ’n teken wees van ’n magsugtige en uitermate jaloerse persoon.
- prof. Irma Labuschagne

“Sy is dalk iemand wat in alle opsigte volkome in beheer moet wees,” sê Irma. “In baie gevalle weet so ’n persoon nie hoekom sy iets gedoen het nie.”

Dit is daarom dat haar gesigsuitdrukking teen die einde van die hofsaak in ’n masker van woede en onbegrip verander het.

“Sy het besef sy is aan die kaak gestel. Haar veranderende gesigsuitdrukkings het dan te doen met die werklikheid wat algaande ál dieper insink. Sy het moontlik geleidelik besef sy kan nie meer haar speletjie verder speel nie.”

Dina het goed geweet wat sy doen en dat dit verkeerd is, sê Brenda. So het sy vir Neil ingelig dat die baba dood is en dat sy tronk toe kan gaan. En indien Neil die “saadjie” geplant het dat die “probleempie” uit die weg geruim kan word, het Dina steeds haar eie behoeftes bevredig deur die moord te eplan.

Daardie behoeftes kon uit ’n obsessie en die vrees vir verwerping gespruit het, meen dr. James de Villiers, Kaapstadse sielkundige. Sy was moontlik so gekwets deur die nuus dat haar minnaar ’n baba by ’n ander vrou het dat haar vrees vir die gevolge van ’n moord minder was as haar onbereidwilligheid om met dié wete saam te leef.

“ ’n Obsessie kan nie deur logiese denke uit die weg geruim word nie,” sê Brenda. Dit gaan gewoonlik gepaard met angstigheid wat tot ondeurdagte, kompulsiewe optrede kan lei.

Neil Wilson het dan ook getuig dat Dina ontsteld, kwaad en “ietwat jaloers” was toe sy van sy baba hoor. Dat daardie verbintenis oor die kleurgrens heen was, kon haar verdere verleentheid besorg het, het in die hof ter sprake gekom.

“Obsessiewe persone glo dat hulle minderwaardig is en dat hulle iemand anders nodig het om hul bestaan te regverdig"
- dr. Brenda Beukman, forensiese kriminoloog

 “ ’n Verhouding waarin obsessiewe gedrag voorkom, is dikwels manipulerend.”

Die publiek se geweldige skokreaksie op hierdie moord kan toegeskryf word aan die sogenaamde tradisionele rolle wat met vroue verbind word en hulle sodoende stereotipeer as moeders en versorgers, voeg sy by.

In Oos-Londen is ’n hofsaak nou aan die gang waarin beweer word die ongebore baba Jenna-May is binne haar ma se maag doodgeskiet deur ’n moordenaar wat die pa gehuur het.

Hierdie twee sake moet gebruik word om saam met ander kenners ’n profiel te probeer saamstel oor hoe iemand lyk wat ’n baba laat vermoor, stel Brenda voor.

Dan sal gevaarligte vroeër begin flikker en kan voorkom word dat nog kinders die onskuldige slagoffer van wanfunksionele verhoudings word. 

  • Nuwe episodes van Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00.