In die eerste seisoen van die TV-reeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA (DStv-kanaal 147) is die dood van klein Kevin (12), Katelyn (10) en Craig (9) Adlington herbesoek.

Dié drie kinders is op 16 Januarie 2002 deur hul pa, Tony Adlington met ’n byl aangeval waarna hy brandstof oor hul lyke gegooi en hulle aan die brand gesteek het. Tony het toe sy eie lewe geneem. Die kinders se ma, Debbie, wat ook deur Tony met ’n byl aangeval is, het die gruaanval oorleef.

In 2010, byna nege jaar ná die kinders se dood, het Huisgenoot ’n hartroerende onderhoud gedoen met Debbie, Manju Moodley en Debra Bouwer. Manju se man, Ashwin, het hul twee kinders, Yadin (3) en Tamesha (2), vermoor, terwyl Debra se gewese man, Mornay Edgar, homself en hul driejarige seuntjie, Lee, met ’n mes doodgesteek het.

Lees die artikel hier

Op die oog af is dit ’n klassieke prentjie: Drie pragtige ma’s sit op die strand en gesels oor hul kleingoed. Al drie is beroepsvroue, maar hul kinders gee sin aan die lewe.

Manju Moodley (34) vertel liefderik van haar twee, Yadin (3) en Tamesha (2). “Ek kon nooit vir Yadin ’n lekker gee as sy sussie nie ook een kry nie . . . Ek leef vir hulle,” sê sy.

“Dis hy wat my aan die gang hou,” vertel Debra Bouwer (41) van haar driejarige Lee.

Debbie, Debra en Manju gesels op die strand terwyl hulle om die beurt speel en sandkastele bou met Kylie-Ann, Debbie se vyfjarige wat ná haar drie kinders se dood deur kunsmatige bevrugting verwek is. Foto: Peet Mocke

Debbie Adlington (46), wat vir die naweek in Kaapstad gasvrou speel vir Manju van Johannesburg en Debra van George, stem heelhartig saam. Was dit nie vir haar drie kinders wat sy nie wou teleurstel nie, het sy nooit geveg om oorlewing toe sy amper nege jaar gelede byna met ’n byl doodgekap is nie.

Soos ma’s by die skoolhek of oor tee oor hul kinders gesels, ruil hierdie drie vandag vrolike staaltjies uit.

Maar die kinders oor wie hulle gesels, is almal dood. Almal vermoor deur hul eie pa’s.

Dis nou al ’n jaar dat Manju elke aand na ’n leë huis moet terugkeer nadat haar vervreemde man, Ashwin (40), albei haar kinders en homself om die lewe gebring het.

’n Paar maande gelede lees sy toe die tragiese verhaal van Debra, wat haar kindjie nes sy verloor het (“Vroue, leer uit my fout”, 26 Augustus).

Met ’n hart wat wou krimp van pyn, het sy gelees hoe Debra se gewese man, Mornay Edgar, gereël het om klein Lee in die botaniese tuin op George te sien terwyl Debra ’n wakende oog oor hulle sou hou.

Toe die ma haar onwillige en huilende blondekop aanmoedig om saam met sy pappa na die vissies in die dam te gaan kyk het sy nooit kon droom sy sou hom nie weer lewend sien nie. Kort daarna is hy en sy pa dood met meswonde onder ’n bos aangetref.

Debra met Lee. Al dié kinders is ook deur hul pa’s vermoor.

Toe Manju van Debra lees, wou sy met haar in aanraking kom. “Is daar ooit ’n lig aan die einde van die tonnel?” wou sy weet. Toe dat ons Debbie in Kaapstad vra om hulle te ontmoet en te vertel hoe sy self ná die verlies van drie kinders weer sin in die lewe kon vind.

By ’n gastehuis in Kampsbaai het die drie vroue toe onlangs ’n naweek saam gekuier, saam gelag en dikwels ook saam gehuil . . . en tog uiteindelik met nuwe hoop uitmekaargegaan.

Want dit wat hulle met mekaar gedeel het, was nie die trooswoorde van iemand wat onbeholpe na bemoediging soek nie. Elkeen kon uit bitter ondervinding praat.

Dit raak deur die jare makliker, is die eerste versekering wat Debbie hulle gee, “maar dit gaan nooit, ooit weg nie. Hulle is gedagtes,” voeg sy by. “En elke verjaardag of herdenking tref my. Mense weet al hulle moet my dan net in vrede los, want ek is nie myself nie.”

Sy omhels die vyfjarige Kylie-Ann wat by ons ’n sandkasteel sit en bou. “Om daardie soet woord ‘mamma’ weer te hoor was my redding,” sê sy van haar jongste, wat deur kunsmatige bevrugting verwek is.

“Ter wille van my kinders – dat hulle trots op my kon voel – het ek myself gedwing om op te staan. Kylie-Ann was die finale skakel om my weer mens te laat voel. Sy vervang nie een van hulle nie; sy is ’n nuwe lid van ons gesin,” sê Debbie.

Debbie (regs) wys die kas vol aandenkings en foto’s van haar drie vermoorde kinders aan Debra en Manju, vir wie sy ’n naweek lank gasvrou was. Foto: Peet Mocke

Kylie-Ann gaan gereeld saam met haar ma na die woud naby hul huis in Kirstenhof waar die as van haar broers en suster gestrooi is.

Die lewendige bondeltjie vreugde steel vandag almal se hart. Sy kielie Manju se rug en oorreed Debra om met haar te tiekiedraai. Haar lewenslus is aansteeklik, ook vir hierdie twee bedroefde ma’s.

Die trane kom toe hulle onwillekeurig terugdink aan hul eie kleuters wat weg is, en Debbie verstaan dit maar te goed.

“Dis oukei, dis normaal,” sê die vrou wat agt jaar gelede maande lank net by die venster uitgestaar en troosteloos gehuil het asof niks ooit weer goed of reg sou voel nie.

“Ek was lief vir my man en het nooit so iets verwag nie,”sê sy. Sy onthou nog die oggend van 16 Januarie 2002 toe sy half deur die slaap haar man se skaduwee by die glasskuifdeur van hul slaapkamer sien. En die byl . . .

Tony het haar drie keer met die stomp kant gekap. Toe sy drie weke later uit ’n koma bykom, moes sy die verskriklike nuus hoor: Tony het Kevin (12), Katelyn (10) en Craig (9) ook met die byl aangeval, toe brandstof oor hul lyke gegooi, hulle aan die brand gesteek en homself geskiet.

Debbie met ’n foto van Craig, Katelyn en Kevin. Foto: Corrie Hansen

“Daar is dae dat julle gaan wonder of julle nog ’n tree vorentoe kan of moet gee, maar julle sal dit doen . . . vir jul kinders. Niemand kan die mooi herinnerings wat julle gedeel het, ooit wegvat nie. Herleef dit, huil en geniet dit,” sê sy.

Haar kinders was al drie verskillend. Sy lag hardop toe sy vertel van Kevin wat ’n eier leer bak het en toe nie soggens gou genoeg kon opstaan om dit in die pan te gooi nie.

“Hy sou vanjaar 21 geword het en ek wonder of hy dalk ’n sjef sou geword het . . .

“En Katelyn – sy was so goed met ballet, nes ek tevore. Ons was so opgewonde toe sy met klopdans sou begin, en ek wou nog eendag in ’n konsert saam met haar dans.

“En klein Craig, hoe sou my laatlammetjie ontpop het?”

Debra het nog skaars kans gehad om haar tragedie te verwerk. Dit voel nog vir haar soos ’n nagmerrie waaruit sy moet wakker skrik. Maar sy onthou hoe sy daarna uitgesien het dat Lee dié somer met swemlesse begin, en ná sy vierde verjaardag ook met karate.

“Nou praat jy,” sê Manju oor haar Jadin, wat dieselfde ouderdom as Lee was. “Swemlesse was ook volgende op ons program.”

En dan kom die trane maar weer oor die kinders wat hulle nooit sal sien grootword nie.

Manju en Debra deel hul fotoalbums met mekaar. Die foto’s maak hulle hartseer, maar die herinneringe maak hulle oneindig gelukkig, sê die twee kinderlose ma’s. Foto: Peet Mocke

Daardie aand is dit stil aan die etenstafel. Al verstaan die vroue mekaar, is hulle in verskillende stadiums van hul genesingsproses en elkeen worstel met haar eie emosies.

Kylie-Ann sit by die restauranttafel en teken. In haar onskuld is sy sorgeloos en gelukkig. Debbie vertel sy is net so streng met haar as wat sy met haar ander kinders was.

As sy praat, kan jy hoor sy is ’n gebore ma. Sy glo in roetine, gehoorsaamheid en goeie maniere, en haar laatlam is die toonbeeld daarvan.

Debra vryf met haar vinger oor haar hand en sing round and round the garden goes the teddy bear, step by step . . .

Woerts kielie sy haar arm terwyl die kleintjie kraai soos sy lag. Manju merk op: “Dis ongelooflik om te sien hoe elk van ons op ons reis gevorder het, ook Debra wat maar baie onlangs haar seuntjie verloor het.”

Dié reisagent op George erken ruiterlik: “Ek het vreeslik na hierdie naweek uitgesien, maar ek voel nou emosioneel moeg. Wil ons nie maar almal net ’n kindjie hê wat ons liefhet en vir wie ons leef nie?”

Die trane loop onkeerbaar.”En ek wil graag net vir Lee hê, niemand anders nie, net my klein Lee . . .”

Maar al is hul kinders nie meer daar nie, is hulle nou vir dié drie vroue die aansporing om tog aan te gaan.

In haar stadium van rou is dit asof sy nog alles wil vries soos dit is, bieg Debra. “Ek slaap elke aand in Lee se  se kamer. Dis soos ’n heiligdom. Ek het sekere speelgoed in die motorhuis gesit waarmee ander kinders mag speel, maar daar is ander in sy kamer waaraan niemand moet raak nie.”

“Ek het ook nog alles van my twee,” bieg Manju. “En ek het onlangs nog hul kamers opnuut gerangskik en mooi gemaak.”

Manju met klein Yadin en Tamesha. Die kinders is verlede jaar vermoor deur hul eie pa, wat daarna selfmoord gepleeg het.

Manju vertel eers die volgende dag hoe sy haar lieflingkinders verloor het.

Heel eerste sê sy sy het haar man vir hul dood vergewe. “Nes Debbie vir haar man, was ek baie lief vir Ash. Hy was ’n baie goeie pa vir ons kinders en sou hulle nooit leed wou aan doen nie . . .

“Ons was nege jaar getroud, maar daar was probleme. Twee weke voor die tragedie het ek en die kinders die huis verlaat en by my familie gaan bly. Ek het ’n beskermingsbevel by die hof aangevra, maar ek het gehoop ons sou met professionele hulp uiteindelik weer versoen raak.”

Daardie Saterdag, 12 September verlede jaar, sal Manju nooit vergeet nie. Hy wou die kinders sien en sy het hulle halfvyf die middag by hom afgelaai. Hy sou hulle agtuur die aand huis toe gebring het.

Pleks daarvan het sy kort ná sewe ’n oproep van hom gekry.

“Noudat jy my verlaat het, sal ons lewens vir altyd vernietig wees. Ek het die kinders pille ingegee. Praat met Yadin en sê tot siens.”

Sy sal nooit haar kinders se gehuil vergeet nie, en Yadin wat oor die foon pleit: “Mamma, ek wil jou hê . . .”

“Vreesbevange het sy haar swaer gevra om Ash te bel om te hoor wat aangaan. Ash het vir hom gesê hy wag vir die pille om te werk en dan gaan hy die kinders en homself skiet.

“Ek was buite myself. Ons het dadelik die polisie laat weet. Dit was naweek en die hof sou toestemming moes gegee het dat ons deur die selfoonnetwerk mag vasstel waar Ash met die kinders is.

“Ons het nie geweet waar om te begin soek nie. Hulle het sy motor by ’n winkelsentrum gekry en ek het by die een hotel ná die ander gaan vra, maar vergeefs. Dit was soos om ’n naald in ’n hooimied te moet vind.

My hele wêreld het ineengestort.
Manju Moodley

“Ek kon net oor en oor hoor hoe my seuntjie pleit. Dit was onmoontlik om te slaap. Sou Ash regtig so ver gaan? Ek wou nie glo dis moontlik nie.”

Doodmoeg het Manju die Maandagoggend na die polisiekantoor gestrompel. “Ek wou dadelik toestemming hê om by MTN vas te stel waar Ash was toe hy gebel het.”

Toe lui haar foon. Die polisie het hulle gekry, in die Holiday Inn by die O.R. Tambo-lughawe.

“Ek was oorstelp van vreugde,”vertel Manju. “Dankie tog!” het sy verlig gedink, maar moes die volgende oomblik die ondenkbare waarheid by haar swaer hoor: Ash het dit toe gedoen. . .

“My hele wêreld het ineengestort. Onmiddellik was daar die selfverwyt, want my seuntjie wou nie daardie dag na sy pa gaan nie, al was daar beloftes van McDonald’s en die speelsentrum wat hulle sou besoek.”

Sy wys foto’s van haar kinders in die album wat sy saamdra. Daar sit klein Yadin, nog nie ’n jaar oud nie, ’n fris en sterk babaseuntjie ewe kordaat met ’n groot sonbril op sy gesig.

“Dit maak my hartseer om na hul foto’s te kyk, maar die herinnerings maak my so oneindig gelukkig,” sê sy.

Debra stem saam. Toe Huisgenoot haar onlangs in Lee se kamer afneem en sy sy gunsteling-storieboek uit die rak haal, was dit asof sy meteens teruggevoer is in tyd, asof hy enige oomblik ingehardloop kon kom.

Wat met ons gebeur het, kan jou vertroue in mense en die lewe vernietig. Dis nie net jou kinders se dood wat jy moet verwerk nie. Jy bevraagteken alles, maar daar is maniere om op te staan.;
Debbie Adlington

Die ander hoor hoe sy gestraal het terwyl sy sy plastiekvissies een vir een uitgepak het, en hoe die trane haar weer oorweldig het omdat sy so daarna verlang dat haar kind teen haar opspring en sy arms om haar nek gooi.

Ons kyk verder na Manju se foto’s en almal dink Tamesha lyk tog te oulik met haar hoedjie.

“My kinders was ontsettend na aan mekaar. Yadin, ons klein Spider-Man, was so beskermend teenoor sy sussie, en Tamesha, ons skoenlappertjie, was nie op haar mond geval nie en ’n regte Mej. Onafhanklik,” vertel Manju trots.

Sy kyk peinsend na ’n foto van haar saam met hulle by ’n Oujaarspartytjie in 2008. “Min het ek toe geweet wat 2009 sou bring . . .”

In Debbie se huis sien ons foto’s van haar kroos. Kylie-Ann gaan haal so ewe haar eie gunsteling-foto van hulle uit die vertoonkas vol aandenkings. Sy sit dit op die koffie tafel neer en wys met haar vinger na haar oorlede broers en suster.

Sy weet hulle is dood, maar sy weet nog nie hoe dit gebeur het nie. Wanneer sy gereed is, sal Debbie haar vertel, maar nou is sy tevrede net om van hulle te weet en dat sy die laatlam is.

Debra draai en swaai met Kylie-Ann. Foto: Peet Mocke

As dit nie vir Kylie-Ann was nie, sou sy seker nooit weer die moed gehad het om ’n Kersboom in hul huis te versier nie, sê Debbie. “Ek het Kersfees gehaat, veral as hulle daardie musiek in die winkels speel. Dit het my te hartseer gemaak.”

Maar verlede Kersfees moes Debbie eenvoudig ’n boom vir haar jongste versier, en nou is die ys gebreek.

Kylie-Ann gaan wys vir ons haar diere maatjies – Roger die haas en Benjamin die malmokkie– agter in hul tuin.

“Wat met ons gebeur het, kan jou vertroue in mense en die lewe vernietig. Dis nie net jou kinders se dood wat jy moet verwerk nie. Jy bevraagteken alles, maar daar is maniere om op te staan,” sê Debbie, wat deesdae weer voltyds in die menslike-hulpbronne-afdeling by Pick n Pay se hoofkantoor werk.

Dit was vir haar terapeuties om ’n boek, Mum Interrupted, oor haar ervaring te skryf. Sy het ook nou motiveringspraatjies begin lewer.

Nes Debbie gee Manju en Debra ook elke tree vorentoe ter nagedagtenis aan hul kinders.

“Om ma te wees gee my die meeste vervulling,” sê Manju, ’n reisagent wat ná Ash se dood ook na hul koerier-onderneming moet omsien.

Sy het klaar die bal aan die rol gesit om kunsmatig bevrug te word en ook om ’n kind aan te neem.

“Ek kom uit ’n groot gesin en ons is baie na aan mekaar. Hul ondersteuning en dié van my vriende dra my. Ek lees baie en voel baie sterker in my geestelike lewe en nader aan God,” sê Manju, wat ook getrou elke week haar berader besoek.

Intussen vier sy haar kinders se lewe op verskillende maniere, soos met die partytjie vir Yadin se vierde verjaarsdag wat sy hom belowe het.        

“Ek het daarmee voortgegaan, met familie en 12 kinders uit ’n kinderhuis, met die nar, springkasteel en alles wat Yadin graag wou hê.”

Vir Tamesha se derde verjaardag het sy dieselfde gedoen, met nog 45 kinders uit ’n kinderhuis by.

Sy het ook aan ’n staptog deelgeneem waar elke ouer – almal wat kinders aan die dood afgestaan het – 2 km ver gestap het in ’n T-hemp met foto’s van hul kinders daarop. En sy het ’n wisseltrofee vir haar kinders se kleuterskool geskenk vir die kleintjies se mini-staptog.

By haar huis het sy ’n collage van 400 foto’s van hul gesin saamgestel, en ’n feëtuin by hul gesamentlike graf geskep. Daar gaan sy elke Sondagmiddag vir hulle kuier.

“Dit maak nie saak of die weer lekker is of nie, as ek daar staan en my oë toemaak, voel ek ’n warm briesie en ek weet dis hul teenwoordigheid.”

Manju se oë verhelder toe sy vertel van die mooi drome wat sy kry – veral een, wat sy “ ’n oproep uit die hemel” noem.

“Ek het gedroom Yadin bel my en sê: ‘Hallo, Mamma, hoe gaan dit met jou? Ek is oukei en ek wou net vir jou sê ek het jou lief en mis jou.’ Hierna het Tamesha die foon by hom geneem en dieselfde gesê. Dit was so ongelooflik mooi en werklik.”

Manju vertel hoe sy dagboek hou, elke dag, en kerse opsteek en met haar kleintjies gesels.

Sy het selfs twee keer die hotelkamer besoek waar hulle gesterf het. “Ek het kerse aangesteek en vrede daar gevind.”

Deur alles het sy aanvaarding gekry en Ash vergewe. “Liefde oorwin alles,” glo Manju. “Dis al hoe ons deur die hartseer kan kom en vry kan word.”

Vir Debra is alles nog te rou, maar Manju troos haar dat daartog lig wag – die lig wat hulle almal verdien, die lig van liefde wat genesing bring.

  • Nuwe episodes van Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai en heruitsendings Sondae om 21:00.