Sy was skaars 18 jaar oud toe sy op 'n dag op die filosofiedosent Peter Heinrich se YouTube-kanaal afkom. Op daardie oomblik was sy nie op soek na liefde nie, maar toe sy die een video ná die volgende begin kyk, het sy besef dat die man vir haar skoenlappers in haar maag gee.

Jana Leonhardt van Jena in Duitsland het besluit om 'n kans te waag en vir hom 'n e-pos te stuur.

Sy het vir hom ’n bietjie oor haarself vertel en gesê sy sou graag oor filosofie met hom wou gesels. Peter het binne enkele ure op Jana se e-pos gereageer en vir haar oor sy persoonlike agtergrond en siening oor filosofie vertel en hulle het albei besef hulle het heelwat gemeen.

Dit is nou al drie en 'n half jaar later en Peter (48) laat steeds haar hart vinniger klop. Ten spyte van die feit dat hy 27 jaar ouer as sy is. Hoewel Jana van die eerste oomblik af geweet het sy wil 'n verhouding met Peter hê, was dit die ouderdomsverskil wat Peter gepla het.

Maar die bekommernis is gou by die agterdeur uit nadat hulle mekaar ontmoet het. Want toe was dit liefde met die eerste oogopslag vir albei.

Ná Jana se eerste e-pos het hulle eers drie maande lank vir mekaar boodskappe gestuur. Peter het toe vir Jana gevra om deur FaceTime te gesels sodat hulle ’n meer indiepte-gesprek kon hê. Hoewel Jana huiwerig was omdat sy skaam is, het haar belangstelling in hom die oorhand gekry omdat sy hom regtig graag wou leer ken.

Hulle het ure lank gesels en die twee het toe besluit dis tyd om mekaar van aangesig tot aangesig te ontmoet. Peter het die sowat 400 km van Frankfurt in Duitsland waar hy woon, na Jana se tuisdorp gery om haar vir die eerste keer in Desember 2017 te ontmoet. Die liefde het dadelik geblom.

Hulle het vir twee jaar op afsprake gegaan voor Peter die moed bymekaargeskraap het om Jana te vra om sy meisie te wees. Ten spyte van sy bekommernis oor die groot ouderdomsverskil, kon hy nie meer sy gevoelens vir Jana keer nie.

Die twee se liefde is nie aanvanklik deur hul ouers en vriende verwelkom nie. Maar vir Jana het dit nie saak gemaak nie, want vir haar was geluk al wat tel. Hul ouers en vriende het tog later hul verhouding aanvaar.

Jana en Peter het intussen ’n Instagramblad, @30chronia, saam begin en versprei hul boodskap dat die liefde nie ’n ouderdomsbeperking het nie.

“Ek het nooit gedroom daarvan om met ’n ouer man te wees nie, veral nie op 18 nie. Ek het op my studie gefokus en het nie tyd gehad om aan verhoudings te dink nie,” sê Jana. 

“Ek het gehoop om filosofie of sielkundige op universiteit te studeer, want ek stel belang in albei onderwerpe; daarom het ek meestal in my vrye tyd opvoedkundige video’s op YouTube gekyk en dis hoe ek afgekom het op een met ’n interessante titel.

“Ek het die video begin kyk toe ek besef ek luister nie na wat gesê word nie. Ek het gefokus op hoe oulik die man in die video is en hoe dromerig sy stem klink. Ek het nog nooit tevore so gevoel nie – en het toe besef ek hou baie van hom.

"Die verliefdheid het oorgeneem en ek het besluit om vir hom ’n e-pos te stuur en ’n bietjie oor myself en my belangstelling in filosofie te vertel.

“Ek het ’n paar uur later ’n e-pos ontvang – ek kon dit nie glo nie. Terwyl ek sy e-pos met ’n groot glimlag op my gesig gelees het, het ek besef ons het heelwat gemeen en deel dieselfde siening oor baie onderwerpe.

“Ons het elke dag vir mekaar e-posse gestuur vir sowat drie maande toe Peter vra om deur FaceTime te gesels omdat hy my stem wou hoor. Ek was senuagtig, maar wou ook graag behoorlik met hom gesels.

"Ek het gedink dit gaan ongemaklik wees, maar dit was maklik om met hom te gesels. Ons het ure lank tot laatnag gesels en toe eindelik ooreengekom om in persoon te ontmoet.

“Ek het geweet my ouers sou dit nie goedkeur dat ek iemand veel ouer ontmoet nie. Ek het hom toe gevra om by my op my tuisdorp te kom kuier, al het ek byna 250 myl weg van hom gewoon.

“Ons het mekaar sowat vier weke ná die video-oproep ontmoet en die oomblik toe hy my nader, het my hart 'n slag gemis. Ek het liefde met die eerste oogopslag ervaar en binne enkele ure se gesels en rondstap in die stad het ons gesoen.

“Hoewel ons albei net daar smoorverlief was, het ons steeds seker gemaak albei is gemaklik met die situasie en ooreengekom om ’n paar keer te ontmoet om seker te maak dis reg. Ek het nie omgegee wat enigeen dink nie, maar Peter was onseker weens die ouderdomsverskil. Ons het aanhou gesels en mekaar elke af en toe ontmoet, maar ons liefde geheim gehou van almal, wat moeilik was. Ek moes jok vir my ouers oor waarheen ek gaan en met wie ek gesels.”

Jana het eers verlede jaar, nadat sy by haar ouers uitgetrek het om universiteit toe te gaan, vir haar ouers en vriende van Peter vertel. Haar ouers het die verhouding heeltemal verwerp. Maar dit het Jana en Peter nie gekeer om mekaar meer gereeld te sien nie.

“Ek dink dit het my verhouding met my ouers skade berokken. Peter se ouers weier om ons saam te sien, maar ons gaan nie opgee op ons liefde net oor wat hulle en ander dink nie.

“Ons het ons uitdagings met dié dat ons so ver van mekaar woon, maar het albei gegroei in ons verhouding en het soveel pret saam. Hy laat my wonderlik voel. 

“Ons het nog nooit ’n rusie gehad nie, want ons weet hoe belangrik is kommunikasie, veral met ’n langafstandverhouding. Ek voel ek het my sielsgenoot ontmoet.

“Ek sal enigeen in ’n verhouding met ’n ouderdomsverskil aanmoedig om eerlik met almal daaroor te wees – moenie dit wegsteek nie. Selfs as mense dit nie aanvaar nie, maak dit nie saak wat hulle dink nie, want die belangrikste ding is dat julle albei gelukkig is. 

“Jy kan nie ’n ouderdom aan die liefde of geluk koppel nie, en ek kan my nie die lewe sonder my sielsgenoot voorstel nie.”