Ons het dit al tot vervelens toe gehoor en dit klink dalk maklik, maar te danke aan een voormalige Nasa-ingenieur weet ons nou hoe kieme versprei en hoekom hierdie reël werklik so belangrik is.

“Ek het nog altyd gedink as ons net op ’n manier die kieme rondom ons kon sien, sou almal baie meer versigtig wees en ons sou baie minder siek word,” verduidelik Mark Rober (40) in die YouTube-video.

Met mense wat regoor die wêreld oor COVID-19 gons, het Mark besef dat hy op ’n baie eenvoudige manier vir mense kan wys hoekom so baie mense in verskillende lande die coronavirus onder lede gekry het.

Hiervoor het hy die hulp van ’n groep woelige graad 3-leerders ingespan om met ’n sintetiese stof visueel te wys hoe kieme versprei.

Deur slegs die juffrou en een ander kind se hande met die stof Glo Germ te “beset”, kon hy later vasstel dat die “kieme” feitlik orals in die klaskamer is. Selfs op die ander klasmaats se gesigte en hande.

Die skokkende video wys hoekom soveel kenners pleit dat mense hulself moet isoleer en hul hande gereeld moet was.

Dit is egter nie die eerste keer wat Mark op ’n pret manier mense wil leer oor wetenskap en aktuele kwessies wat die mensdom in die gesig staar nie.

Voor Mark sy kennis as ingenieur gebruik het om mense regoor oor aktuele kwessies in te lig op YouTube, het hy by die Amerikaanse ruimteagentskap, Nasa, gewerk. Hy het sewe van sy nege jaar by dié agentskap aan die Curiosity-tuig gewerk, wat tans steeds die oppervlak van Mars verken.

Mark het al talle kere vantevore sy kennis as ingenieur ingespan om die wêreld ’n beter plek te maak en het veral groot opslae verlede jaar gemaak toe hy ’n projek begin het om klimaatsverandering te probeer keer.

Mark en nog ’n YouTube-persoonlikheid Jimmy Donaldson (21) het ’n veldtog van stapel gestuur om geld in te samel om bome te plant. Hulle het binne twee maande $20 miljoen (sowat R354 miljoen) hiervoor ingewin.  

Tog, nes met klimaatsverandering wil Mark nie vrees in mense opstook nie en is hy optimisties dat ons ook die COVID-19 kan laat les opsê. Mits ons ’n ernstige poging aanwend om ons gewoontes en gedrag te verander.

“Dit gaan ’n rowwe rit wees vir ons, maar die ekonomie sal eindelik weer terug bons soos dit altyd doen en ons sal as ’n globale gemeenskap beter af wees omdat ons hierdeur gegaan het,” sê Mark oor die virus.

“Weereens, neem dit ernstig op, maar daar is absoluut niks om oor angsbevange te raak nie. Ons sal oukei wees,” voeg hy by.