Pres. Robert Mugabe (93) is glo “veilig” in sy huis in die spogbuurt Borrowdale in die hoofstad, Harare. Hy en sy vrou, Grace, is onder swaar militêre bewaking. Harde ontploffings en geweervuur is sedert Dinsdagnag in die stad gehoor.

Verskeie kabinetsministers is in hegtenis geneem tydens ’n magsvertoning wat Dinsdag deur die weermag in die hoofstad begin het. Ignatious Chombo, die land se minister van finansies, tel onder diegene wat in hegtenis geneem is.

Foto verskaf.
Foto verskaf.
Foto verskaf.

Die oorsaak?

Zimbabwe se gewese adjunkpresident Emmerson Mnangagwa, wat homself as ’n politikus, advokaat en vryheidsoorlogsveteraan van Zimbabwe beskryf, is verlede week op 6 November deur Mugabe in die pad gesteek.

Dit was na bewering dié stap wat die weermag tot optrede aangespoor het. Mnangagwa is gewild onder die weermag en daar is selfs gegis dat hy moontlik Mugabe sou opvolg as president. 

Mugabe het egter sy vrou, Grace, in die oog vir daardie amp.

Grace v. Mnangagwa

Albei is lede van die regerende ZANU-PF-party. Maar Grace het agterdogtig begin raak en Mnangagwa daarvan beskuldig dat hy ’n staatsgreep beplan. Dit het die party verdeel.

Mnangagwa het in Augustus beweer iemand wou hom vergiftig. Hy moes per lugambulans na Suid-Afrika gevlieg word vir behandeling.

Die vingers het na Grace gewys. Haar reaksie?

“Hoekom sal my suiwelbesigheid ’n enkele vergifte roomys spesiaal vir hom berei? Hoekom sal ek hom wil doodmaak? Ek is die vrou van die president. Wie is Mnangagwa? Wie is hy?”


Mnangagwa en Mugabe werk al langer as vier dekades saam nadat hulle mekaar in die tronk ontmoet het. Mugabe het hom in 1977 as sy spesiale assistent benoem en hy het die hoof van die siviele en militêre vleuel van die ZANU-PF-party geword.


Toe Mugabe in 1980 Zimbabwe se eerste minister word, is hy as die land se minister van nasionale veiligheid aangewys.

Oorname

Die weermag het die Zimbabwiese Uitsaaikorporasie (ZBC) na bewering vieruur Woensdagoggend oorgeneem.


Nuus vanuit die land is na bewering voor Dinsdag onder streng sensuur geplaas.

Die ZBC en die staatsbeheerde dagblad The Herald is glo aangesê om nie oor die situasie in Zimbabwe te berig nie.

In reaksie daarop het Zimbabwe se weermag ’n amptelike verklaring uitgereik waarin aangedui word daardie beweerde opdrag verander die situasie in die land ingrypend.

Maj.genl. Sibusiso Moyo, ’n weermagwoordvoerder, het aangekondig die weermag is nou in beheer om seker te maak daar word opgetree teen die “kriminele” wat Mugabe omring het.

Ons wil dit baie duidelik maak dis nie ’n militêre oorname van die staat nie.

In die verklaring word ook gesê "alles sal na normaal terugkeer sodra die weermag in hul doelwit geslaag het om reg te laat geskied betreffende daardie kriminele wat sosiaal-ekonomiese lyding in die land veroorsaak het".

Alle weermaglede se verlof is gekanselleer en hulle is aangesê om dadelik na hul barakke terug te keer. 

“Aan ons mense en die wêreld buite ons grense: Ons wil dit baie duidelik maak dis nie ’n militêre magsoorname nie.

"Deur die Zimbabwiese weermag se optrede word gepoog om die verbrokkelende politieke, maatskaplike en ekonomiese situasie in ons land te kalmeer wat andersins tot geweld kon gelei het as dit nie aandag gekry het nie.”

'Hoogverraad'

Simon Khaya Moyo, die minister van inligting, het Dinsdagaand agtuur ’n verklaring uitgereik waarin gewaarsku word dat die weermagbevelvoerder, Constantino Chiwenga, uitlatings gemaak het wat as hoogverraad beskou kan word.

Chiwenga het vroeër in die week gewaarsku militêre ingryping sal volg op die groot “suiweringsaksie” deur die regerende party, en het beveel dat Mugabe dit moet terugtrek. 

Is dit ’n staatsgreep? 

Alex Magaisa, voorheen die opposisieleier Morgan Tsvangirai se adviseur, het aan BBC gesê: “Hulle het besluit om dit nie ’n staatsgreep te noem nie. 'n Staatsgreep word nie goed ontvang nie; dit sal verdoem word.

“Maar wat beheer (van die land) betref, lyk dit asof pres. Mugabe nou net ’n president in naam is en dat die beheer by die weermag berus.”

Verskeie polisielede is na bewering deur die weermag in Harare aangehou.


Woensdag in Harare

Die meeste ondernemings se deure is oop, hoewel verkope effe laer as gewoonlik is. Studente is egter aangeraai om tuis te bly. Eksamens is voorlopig uitgestel. Die meeste skole in Harare is wel oop.

Twee joernaliste is na bewering in die hospitaal opgeneem nadat weermaglede hulle aangerand het. 

Bronne: heraldlive.co.za, bbc.com, voanews.com, news24.com