Maar wat gebeur agter die skerms van die gewilde reeks waar net een wenner op die einde gekroon gaan word? Is dit regtig so moeilik soos wat dit op die kassie lyk? 

Ons het gaan uitvind.

• Hoe is die deelnemers gekies? Suid-Afrikaners wat lus was vir die uitdaging is uitgenooi om ’n video-inskrywing in te stuur. M-Net en die produksiespan Afrokaans was op soek na groot aanhangers van die spel.

’n Kortlys is opgestel met wie daar toe onderhoude gevoer is. Die finale kandidate moes almal persoonlikheidstoetse aflê om vas te stel of hulle geskikte materiaal vir so ’n saam-swaarkry-situasie is. Mediese, fiksheid- en sielkundige toetse het gevolg en die finale 18 is toe gekies.

• ’n Tegniese span was ’n maand vooraf in El Nido om die stelle vir die uitdagings voor te berei. Dit neem ongeveer ’n dag om die stelle op te slaan en seker te maak alles werk en is veilig.

• Die 18 deelnemers is elkeen deur ’n chaperone tot in die Filippyne vergesel wat seker gemaak het dat hulle mekaar nie voor die tyd sien of ontmoet nie. Dit was belangrik dat die deelnemers die eerste keer op die boot wat hulle na die verlate eilande geneem het met mekaar kennis maak.

Op pad na die die Filippyne was daar iemand wat hulle 24 uur per dag vergesel het. Die eerste indrukke wat hulle van mekaar gehad het is op kamera vasgevang. 

• Die produksiemaatskappy het vooraf reëlings getref om te verseker dat geen bote of mense naby aan die Survivor-eilande kom nie. Dis om ’n gevoel van totale isolasie te verseker. 

• Daar is veiligheidswagte om die deelnemers op die eiland te beskerm, maar die deelnemers is onbewus van hulle. 

• Waar die deelnemers in vorige seisoene tussen 27 en 29 dae op die eiland was, sal dié wat tot aan die einde van die verfilming van die nuwe seisoen nie uitgestem word nie 39 dae daar wees. Dit het die deelnemers meer tyd gegee om asem te skep tussen die uitdagings en stamberaadsessies en die produksiespan gehelp om hulle spel meer organies vas te vang en sodoende beter inhoud te skep.

• Die kameraspanne was verdeel in ’n span wat in die nag en dag gewerk het. Bedags was daar ’n hoofkameraspan wat die daaglikse spel op die eiland vasgevang het. Vir die uitdagings en stamberaadsessies is die hoofspan uitgebrei om die ekstra aksie vas te vang.

• 273 personeellede het aan die produksie gewerk, waarvan 160 van hulle Filippyne was wat al aan vorige lande se weergawes van die reeks gewerk het. Daar is onder meer al ’n Amerikaanse, Israeliese en Franse weergawe van die gewilde werklikheidsreeks in die Filippyne verfilm.

• El Nido was in 2012 in die spanningsfliek The Bourne Legacy te sien.

• Verskillende eilande is in die seisoen gebruik. Daar was eilande vir spelletjies, eilande waar die onderskeie stamme gewoon het en ’n eiland vir die uitstemproses. Die deelnemers, produksiespan, filmtoerusting en boumateriaal moes per boot na die verskillende eilande vervoer word en sowat 720 liter brandstof is daagliks hiervoor gebruik. 

• Net die inhoudsvervaardigers is toegelaat om met die deelnemers te praat. Hulle fasiliteer die onderhoude waar die deelnemers regstreeks met die kamera praat oor wat hulle op die hart het en reis saam met hulle op die bote tussen die verskeie eilande.

Geen lid van die produksiespan word toegelaat om voor die deelnemers te rook, te eet of te drink nie.

• Op die eiland waar die deelnemers woon, is daar ’n waterput waar hulle altyd toegang tot vars water kan kry. 

• Indien benodig, word die deelnemers voorsien van chroniese medisyne, sanitêre doekies en kontaklense. ’n Mediese span is heeltyd op bystand en ondersoek die deelnemers voor elke uitdaging en stamberaadsessie. Maar vergeet maar van gerieflikhede soos ’n skeermes, muskietafweerders, sonskerm, tandepasta of ’n haarborsel. Die deelnemers word wel vindingryk op die eiland en sal byvoorbeeld ’n skulp vind om hul hare mee te borsel of die as van die vuur gebruik om hulself mee te was of insekte af te weer.

• Die deelnemers kon die klere aan hul lyf, iets warms, ’n hoed en swemklere na die eiland saamneem. Hulle is in die seisoen ook van waterskoene voorsien. Die items wat hulle inpak, word egter baie deeglik deursoek. In ’n vorige seisoen is daar al ’n deelnemer gevang wat probeer het om in die rand van sy hoed ’n vishoek in te smokkel. Nog ’n deelnemer is al uitgevang toe sy probeer het om ’n vislyn en een of ander kosmetiese produk in die soom van haar rok te versteek. 

• Dit vat ongeveer drie uur om die stamberaadsessies te voltooi en verfilm. Gelukkig sien ons danksy redigering net die belangrikste dele. 

  • Die sesde seisoen van Survivor SA word Donderdae om 19:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.