Die neuroloog dr. James Butler het Maandag in die Kaapse hooggeregshof getuig oor epilepsie en die moontlike verband wat dit met Henri se "skielike geheueverlies" kan hou.

Butler het Henri tydens sy ondersoek gevra of iemand hom tydens die grusame moordnag teen die kop geslaan het. “Nee”, was sy antwoord.

Hy het glo ook nie iemand gehoor wat hom volg of na hom toe kom toe hy op die trappe was nie.

Henri het aan Butler gesê hy het die aand voor die moorde ’n bottel wyn met sy pa gedeel. Hy kon glo nie daardie aand aan die slaap raak nie. Butler wou weet wat hy van die moordnag onthou.

Volgens Henri onthou dat hy met sy selfoon in die hand die trappe opgeloop het, besig om die nommer vir die nooddienste op te soek. Dis glo toe dat hy Marli sien beweeg en dat daar bloed was. Dit was op daardie oomblik dat hy sy geheue verloor het. Volgens hom het hy vir die volgende 2 uur en 40 minute sy bewussyn verloor.

Volgense Butler se getuienis onthou Henri dat hy op die trappe bygekom het, sy kop hoër as sy voete. Hy het gedisoriënteerd gevoel en was onseker hoe lank hy op die trappe gelê het. Hy kon sien hoe dit besig was om lig te word buite.

Sy selfoon het onder op die trappe gelê.

Henri het aan Butler gesê hy het baie sterk daarop gefokus om die nooddienste te ontbied.

Volgens Butler is die donker kringe om Henri se oë, die kneusing bo een van sy oë en sy algemene voorkoms – wat verdoof voorkom - alles tekens wat ooreenstem met die toestand van iemand ná ’n epileptiese aanval.

Dié foto’s is op 17 Januarie 2015 geneem

Henri het aan Butler gesê dit wat hy wel van daardie spesifieke dag onthou, is deurspek met oomblikke wat hy nie kan onthou nie.

Hy onthou byvoorbeeld nie die aankoms van die ambulans of dat hy binne-in een was nie. Hy onthou wel dat die paramedici iets op sy snywonde gesit het.

Dan onthou hy ook net gedeeltes van die ondervraging deur die polisie.

Paniekaanvalle en epilepsie

In ’n video wat aan die hof gewys is, word Henri tydens sy hospitaalverblyf versoek om ’n knoppie te druk wanneer hy enige van die simptome ervaar wat aanleiding kan gee tot ’n epileptiese aanval. 

Volgens Butler is die impak wat epilepsie op Henri se lewe het, minimaal.

Wat na vore gekom het, is dat Henri paniekaanvalle in die hof ervaar het. Die enigste ander simptoom van epilepsie wat hy ervaar, is ’n rukkerigheid in sy lyf.

Butler gaan voort deur te sê daar is sterk getuienis dat Henri 'n "algemene epileptiese aanval" gehad het die nag van die moorde.

Hy sê dit is moontlik vir sodanige aanval om 1 uur en 40 minute lank te duur. Dit word "status epilepsie" genoem.

Dit kan ook die rede wees hoekom daar oënskynlik geen dringendheid in Henri se oproep na die nooddienste was nie.

Volgens hom is 'n traumatiese breinbesering nie die oorsaak dat Henri nie daardie tydperk kan onthou nie. Hy sê ook die verskil tussen die verlies van bewussyn en geheueverlies is baie belangrik. In die geval van geheueverlies kan 'n persoon wel nog praat en loop.

Butler sê wanneer niemand sien 'n persoon beleef 'n aanval nie, en die persoon het 'n nat broek, kan die voorval op epilepsie dui.

Regter Siraj Desai vra aan Butler of die trauma van sy familie wat vermoor word, daartoe kon lei dat Henri sy broek natgemaak het en of dit van enige belang is. Butler sê: "Dis nie net 'n glipsie nie."

De Zalze-bylmoorde
  • Henri van Breda word daarvan beskuldig word dat hy sy pa, Martin (54), ma, Teresa (55), en ouboet, Rudi (22), met ’n byl om die lewe gebring het.
  • Die Van Breda’s se lyke is die oggend van 27 Januarie 2015 omstreeks 07:00 op die luukse landgoed De Zalze by Stellenbosch aangetref.
  • Henri se kleinsus, Marli (18), het die aanval met ernstige kopwonde oorleef.
  • Hy pleit onskuldig op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en dwarsboming van die reg.
  • Die kamer met die vaal beddegoed waarin Rudi en Henri geslaap het, is tydens die aanval in ’n bloedbad omskep.
  • Op die foto’s wat op 3 Mei vanjaar in die hof gewys is, kan gesien word hoe Rudi aan die voetenent van die een bed lê en Martin halfpad op die ander. Hulle was albei hemploos en in ’n slaapbroek.
  • Teresa lê in die gang buite die kamer met haar nagklere wat halfpad opgetrek is. Langs haar staan ’n boekrak.
  • Die lakens van die bed waarop Martin lê, is deurdrenk van die bloed en die gedeelte van die houtvloer waar Rudi met sy arms onder hom ingevou lê is vol bloedsmere. Twee verdwaalde blou tekkies lê naby Rudi in die bloed op die grond.
  • Daar is ook bloedspatsels teen die lampskerm op die tafel.
  • Van die foto’s toon verskeie kapwonde aan Rudi en Martin se skedel, maar dis onduidelik presies hoeveel keer hulle getref is.
  • In die lywige lêer vol foto’s sien ’n mens ook foto’s van ’n ongespoelde toilet, ’n wasgoeddraad met linne op, asook dié wat tydens die nadoodse ondersoek geneem is.