Jo Black het destyds ’n oornagsensasie geword danksy sy diep stem, arms vol tatoes en yslike baard.

Maar Vrydagoggend het Martin hom tydens sy en Tumi se regstreekse Vrydag-uitsending uitgedaag om aan die sogenaamde The Big Beard Challenge deel te neem. Martin het die luisteraars gevra om te stem wie moet hul baard laat waai.  

Nie lank daarna nie het die Jacaranda-span ’n video op hul Facebook-blad gelaai van waar Jo op ’n stoel sit en regmaak om sy baard af te skeer.

Oomblikke daarna is ’n foto van ’n baardlose Jo op Martin en Tumi se Facebook-blad geplaas.

Binne sekondes het Jo se aanhangers hul mening oor die sanger se "nuwe voorkoms" gelug.

In die kommentaar is hy as Suid-Afrika se eie George Clooney bestempel.

Talle aanhangers het egter gevoel Martin het met die stemme gekroek. “Los Jo Black,” het van die inskrywings van sy aanhangers gelui.

Later is ’n tweede regstreekse video op die blad geplaas. Daarin kan gesien word hoe die sanger nog met sy groot baard en al sy snit Skepe sing. Sy gelyknamige album het onlangs platinumstatus bereik.

“Dit is ongewoon dat ’n album in vandag se musiekbedryf platinumstatus bereik, veral omdat alles digitaal aangebied word,” het Aida Steyn,  besturende direkteur van Inhoud-agentskap, aan Huisgenoot.com gesê.

Maar het Jo se baard regtig gewaai? Sy agent wou nie veel uitwei oor Jo se baard nie en het hardop gelag toe ons kommentaar vra op Vrydagoggend se radio-onderhoud.

“Jo het mos gesê niemand raak aan sy baard nie,” was al wat sy wou sê.