Hy was die naaswenner in vanjaar se The Voice South Africa, en nou is Josh Ansley se dagboek op sy volste.

“Ek werk al die afgelope dekade voltyds in die vermaakbedryf en maak nou eindelik regtig ’n loopbaan daaruit,” vertel die deelnemer vir wie Bobby van Jaarsveld afgerig het.

Josh Ansley saam met sy The Voice-­afrigter, Bobby van Jaarsveld, en mededeel­nemer Caroline-­Grace Brüssow (ook in Bobby se span).

Die laaste paar maande het hy talle musiektoere onderneem en sy enkelsnit 1 000 Nights uitgereik. Intussen begin hy binnekort opneem aan sy eerste solo-CD. Maar nou is hy eers tot 10 Desember in Gold Reef City in Johannesburg te sien as Drew Boley, die manlike hoofkarakter in die musiekspel Rock of Ages.

Op toer saam met van die deelnemers aan vanjaar se The Voice. Agter (van links) is Caroline-­Grace, Armand Joubert en Craig ­Lucas (vanjaar se wenner). Voor is Josh en Fatman.

“Toneelspel was my eerste passie, nog lank voor ek ’n noot voor ’n gehoor kon sing,” vertel Josh.

Die stuk handel oor ’n jong paartjie, Drew en Sherrie, en hul droom van musiekroem in Los Angeles.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, geniet Josh ’n potjie gholf en gehaltetyd saam met sy vrou, Kerryn.

As Drew Boley in Rock of Ages.

Albei se ouers woon in Zimbabwe en dis altyd vir hulle ’n hoogtepunt om terug te keer na hul vaderland. Kerryn is ook ’n verhoogkunstenaar: Sy dans en sing en het ’n ware aanleg vir onderwys, spog Josh oor sy vrou wat ’n graad in musiekteater het.

“Sy is my wêreld. Sy is die gom wat my bymekaarhou.”

Foto's: Instagram, Verskaf