Min Shaw by haar tagtigste verjaarsdag. Foto: Tumelo Leburu

“Dis eintlik te kostelik. Ek lag lekker daaroor,” vertel Min aan huisgenoot.com. In reaksie op ’n vrou se inskrywings op haar Facebook-blad:

“Dankie tog vir Botox en fillers,” skryf Lucy Kruger in reaksie op ’n onlangse foto van Min. Dan vra sy wat dit is. “Die goed in jou gesig, pop. Enige aap kan dit sien.”

“Ek het vanoggend met die ou gepraat wat my grimering gedoen het vir die foto. Ek het gespot daaroor: ‘Julle wil my mos so glamorous laat lyk. Ek weet nie watse nuwe tegnieke julle gebruik het om my so goed te laat lyk nie.’ Ek is gelukkig al lank in die bedryf en sulke dinge is ek al gewoond.”

Min Shaw se stilis in Centurion, Bernard Mullaney, het op 22 Augustus gesorg vir haar grimering en hare wat die kommentaar uitgelok het.

Oor die 300 mense het reageer en vir Min opgekom, soos Marieta Koekemoer: “Jy hoef nie kommentaar te lewer op sulke nydige opmerkings van mense nie, liefste Min! Jy sprankel en al jou fans weet hoekom. God kyk na Sy kinders. Wees geseënd! xxx”

Min stem saam dat haar liefde vir Jesus een van haar skoonheidsgeheime is. Sy gebruik ’n bekende olie wat beskadigde weefsel herstel. “Ek gaan slaap altyd met ’n skoon gesig,” sê sy.

Een van haar bekendste flieks was Hoor My Lied (1967) saam met Gé Korsten, waarin sy saam met hom Die Heidelied sing.

Sy is ook bekend vir haar kinderbedienings wat generasies begeester het. “Die ander dag by ’n vertoning het ’n meisie kom vertel haar ouma het gehoor ek sing daar en het haar gestuur, want dalk kan ek iets met haar uitrig,” onthou sy. “Dis vir my wonderlik dat mense my nog vertrou om kinders te inspireer.”

Min se outobiografie verskyn volgende jaar en sal by die Woordfees bekendgestel word. “Ek sien baie daarna uit,” sê sy. Sy skryf dit saam met die Brackenfell-sanger Shaun Mynhardt, wat ook ’n boek oor die Afrikaanse countrysangeres Cora Marie geskryf het.

“Ek wil ook begin om elke dag iets inspirerends op Facebook te skryf. Ek gaan dit noem: Skitter en skyn vir Jesus,” vertel sy opgewonde oor haar bediening wat sy ook in die kuberruim wil versprei.

Haar boodskap vir vandag is: “Die lekkerste is om vir iemand iets te doen en hulle waardeer dit.”