Raymond Juliano van New York in Amerika wou iets anders doen toe hy sy meisie, Charnelle, vra om te trou.

Hy reël toe ’n kamma-rooftog in ’n winkel sodat hy vir haar die groot vraag kan vra.

Op die winkel se sekuriteitsbeeldmateriaal lyk die paartjie baie verlief terwyl hulle bier en peuselkos koop tot ’n gewapende man by die winkel instorm. 

Die man rig ’n nagemaakte vuurwapen op die kassier en eis dat hy vir hom die geld in die kasregister gee.

Die akteur hardloop by die winkel uit, maar keer dan terug en skree “terug, terug” op die paartjie terwyl hy die vuurwapen op hulle rig en hulle weer by die winkel indwing. Die kamma-rower stap dan na hulle en begin hulle uitvra.

Hy vra of hulle kinders het en wil weet hoekom hulle nie getroud is nie. Hy vra Raymond wat hy daaroor gaan doen en gee vir hom ’n boksie met die verloofring in.

Raymond draai dan na sy vreesbevange vrou – wat huil en vir haar lewe vrees – en vra haar die jawoord.

“Is jy ernstig?” vra Charnelle vir haar kêrel toe sy besef hy vra haar om met hom trou. 

Die toekomstige bruid sê dan 'ja' voor sy haar verloofde vra om vir haar ’n bier uit die winkel se yskas aan te gee. 

Raymond het darem later vir die petalje vergoed deur op ’n meer gepaste, minder gevaarlike manier vir Charnelle ’n huweliksaanbod te maak.

Hy het haar verras deur op ’n brug in Central Park in Manhattan voor haar te kniel.

“Ek het sleg gevoel. Ek wou haar bang maak, nie vreesbevange nie. En ek dink ook nie dis die aanbod wat sy wil onthou nie,” sê Raymond.  

Bronne: Fox News, Daily Mail, The Sun