Barnard het supersterstatus bereik en is in dieselfde lig beskou as die ruimtevaarder Neil Armstrong en die held van Everest, Edmund Hillary.

Sy sukses is voorafgegaan deur dekades se harde werk en intensiewe navorsing, maar dit het alles uitgeloop op daardie suksesvolle operasie 50 jaar gelede. Hier volg ’n uittreksel van wat volgende gebeur het uit die boek Hartebreker deur James-Brent Styan.

As daar een mens was by wie Barnard in later jare aanklank gevind het, was dit prinses Diana van Engeland.

Dit was waarskynlik ’n soort karma dat dié twee mense wat dikwels deur die media gekritiseer is, bevriend geraak het.

Die twee het dikwels in Kensington-paleis in Londen gekuier, waar Diana haarself gevestig het nadat sy en prins Charles van bed en tafel geskei is.

Die oorkoepelende rede vir Diana en Barnard se aanvanklike vriendskap was die idee om ’n hartstigting vir kinders te stig.

Diana wou hê Barnard moes aangaan met die werk wat hy die belangrikste geag het – om kinders met hartsiektes te red.

As chirurg het Barnard gedurende sy loopbaan dikwels gratis geopereer op kinders van arm onderontwikkelde lande, kinders wie se ouers nie die operasies kon bekostig nie.

Die werk is grootliks deur die media en sy kritici misgekyk.

“Hy sou in sy tyd as chirurg dae lank langs die bed van ernstig siek kinders omsit en persoonlik vir hulle sorg,” sê Otto Thaning.

“Ek het hom dikwels drie dae per week by die Rooi Kruis-kinderhospitaal sien opereer. Hy sou die dag opereer en die nag langs die kind se bed deurbring, en die proses herhaal, nog twee dae agtereenblopend. Daardie aandag het dikwels die verskil tussen lewe en dood beteken vir dié kinders.”

Toe sy artritis vererger, kon Barnard die operasies nie meer self uitvoer nie. Hy het besef hy het geld nodig en Diana sou baie as beskermvrou kon beteken.

Hul vriendskap het uit hul samewerking ontwikkel tot Diana se ontydige en tragiese dood op 31 Augustus 1997 in ’n motorongeluk in Parys.

Barnard was vasbeslote om Diana se droom te verwesenlik en het aanvanklik met behulp van die Arthur Andersen Group in 1998 die Christiaan Barnard-stigting begin. 

’n Paar jaar lank het die stigting uitstaande werk gelewer. 

Operasies is onder meer uitgevoer deur een van die wêreld se min vroulike hartchirurge en ’n goeie kennis van Barnard, dr. Susan Vosloo. 

Barnard se vriendskap met Diana het ’n interessante stertjie daarby oor Diana se droom om haar in Suid-Afrika te kom vestig. Haar afsterwe het haar vir ’n ewigheid aan ’n blink laventelhaan, Dodi Al Fayed, verbind. 

Jare lank word egter bespiegel dat haar verhouding met Al Fayed dalk niks meer was as ’n boodskap aan die man met wie Diana kort tevore uitgegaan het nie, ’n Pakistanse hartchirurg Hasnat Khan.

Diana en prins Charles het sedert 1992 apart geleef. 

Die prinses het Khan terloops op 1 September 1995 ontmoet, maar hy het haar so te sê geïgnoreer. 

Haar verhouding met hom was daarna lank ’n groot geheim, maar die twee was glo langer as twee jaar ’n paartjie. Hulle het hul tyd in Kensington-paleis deurgebring waar hulle die paparazzi kon vermy.

Wanneer hulle wel buite die hekke gegaan het, was dit in Khan se buurt in Chelsea en Diana het haar met ’n donker pruik en sonbril vermom. Khan was ’n ernstige man wat dikwels 90 uur lange weke vir die nasionale gesondheidsdiens in Engeland gewerk het. 

Diana en Khan het daaroor gepraat om te trou en sy het hom selfs aan haar seuns voorgestel. Maar hy was lugtig vir al die persaandag wat Diana gekry het. 

In Julie 1996 het prins Charles vir Diana ’n egskeiding aangebied. 

In Oktober het Diana na Italië gereis, waar sy en Barnard ’n humanitêre prys ontvang het. By die geleentheid het sy vir Barnard gevra om vir Khan ’n pos as hartschirurg in Suid-Afrika te reël.

Die boek Diana in Search of Herself: Portrait of a Troubled Princess deur Sally Bedell Smith voer aan Diana was dolverlief en bereid om tot Islam te bekeer om met die hartchirurg te trou. 

“Diana het by dr. Barnard gepleit om vir (Khan) werk te kry in Suid-Afrika. Sy wou ’n paar dogters by hom hê en wou ’n huis opsit naby haar broer.”

Diana se broer, graaf Spencer, het toe nog in die Kaapstadse voorstad Constantia gewoon. 

Dit sou egter op niks uitloop, ten spyte van Barnard se hulp.

Die probleem was waarskynlik dat hy teen dié tyd min invloed in Kaapstadse mediese kringe oorgehad het.

“Die hoof van Groote Schuur se kardiotorakale departement in die laat 1990’s het min agting en respek vir prof. Barnard gehad. Hy kon skynbaar ook nie verstaan watter voordele dit [Khan se aanstelling] moontlik vir die departement kon inhou nie,” verduidelik dr. Vosloo, wat nog in daardie stadium by die departement gewerk het. 

Vir Diana het ’n storie wat mooi kon eindig, tragies afgesluit. 

Eers Kahn hul verhouding beëindig – grootliks weens die volgehoue media-aandag in Europa – en toe is Diana oorlede in ’n motorongeluk in ’n donker Paryse tonnel, omring deur paparazzi. 

Vir Chris Barnard het die lewe ook nog ’n paar draaie gehad om te maak.