Foto’s en speelgoed van Nadya Roos voor in die ker
Foto’s en speelgoed van Nadya Roos voor in die kerk by haar gedenkdiens. Misha Jordaan/Gallo Images

Haar naam beteken hoop. En Nadya Roos Stirk se ma het nooit die hoop laat vaar dat haar babadogter aan die lewe sou bly vasklou nie, al het medici voor haar geboorte voorspel dat sy nie langer as ’n paar dae of weke sou oorleef nie.

Maar vier jaar nadat sy met vog op haar brein gebore is, moes Melissa Roos afskeid neem van haar dogtertjie met die krullebol en laggende blou ogies.

Op 2 November het ouma Christa Roos per WhatsApp laat weet: “Nadya is gister oorlede. Dit voel ek wil doodgaan. Sy was en is nog al die pad my lewe. ’n Mens weet nie hoe om nou aan te gaan nie . . .”

Ma Melissa, oom Morné, oupa Werner en ouma Christa
Ma Melissa, oom Morné, oupa Werner en ouma Christa dra Nadya se wit kissie in die paadjie af tot voor by die kansel. Foto: Misha Jordaan/Gallo Images

Op Dinsdag 27 Oktober moes hulle, nes soveel keer tevore, met Nadya hospitaal toe jaag. Die pypie het losgekom wat vog van haar brein moes dreineer, sy wou nie eet nie en was gedehidreer. Maar dié keer het sy nie weer huis toe gekom nie.

Al was haar lewe op aarde dalk vol pyn, het sy altyd van blymoedigheid gestraal, herinner past. Philip Strauss die roubeklaers by haar gedenkdiens vyf dae ná haar dood.

In die voorportaal van die Gemeente met Oop Deure in Proteahoogte, Brackenfell, ’n noordelike voorstad van Kaapstad, sien jy op groot geblokte foto’s Nadya se gesig met haar kenmerkende oopmondlaggie, dikwels in die arms van geliefdes. Sy het altyd haar lippies gesmak om soentjies te vra, vertel hulle.

Ná die roudiens by die Heidekoppiegemeente in Brac
Ná die roudiens by die Heidekoppiegemeente in Brackenfell, Kaapstad, is ballonne losgelaat om hemelwaarts op te styg. Foto: Misha Jordaan/Gallo Images

Op ’n tafel saam met die begrafnisbriewe, bottels water en sneesdoekies is daar ook blou strikkies ter ondersteuning van kinders wat nes Nadya met hidrosefalie – vog op die brein – gebore is.

Agter in die linkerkantse hoek van die kerk staan bewoë familielede by haar wit kissie met geel en pienk rose.

Voor die kansel is ’n tafel met nog foto’s van Nadya, blomme en haar gunstelingspeelding, Minnie Muis. Tussen twee keramiekengele lyk die pienk mediese stewels wat haar krom voetjies reg getrek het nog kleiner.

Foto’s van haar, onder meer as ’n pasgebore baba, wat op ’n skerm flikker, herinner ’n mens weer aan hoe haar koppie te groot en swaar vir haar klein lyfie was. En aan die seerkry en vrees in haar ogies.

“No Longer Slaves” van Bethel Music klink oor die luidsprekers op – ’n gunsteling-liedjie wat haar ma of ouma vir Nadya gespeel het wanneer sy saggies gekreun het van pyn: “From my mother’s womb/ You have chosen me/ Love has called my name . . . I'm no longer a slave to fear.”

Oupa Werner (55), Christa (49) en oom Morné Roos (29) dra saam met ma Melissa haar wit kissie in die paadjie af tot voor by die kansel. Melissa se kêrel, Michael Smith (31), is die slippedraer.

Oupa Werner, ouma Christa, ma Melissa en oom Morné
Oupa Werner, ouma Christa, ma Melissa en oom Morné Roos. Hulle het vier jaar lank geveg om Nadya aan die lewe te hou. Foto: Misha Jordaan/Gallo Images

“Vandag wil ek ’n boodskap van hoop bring,” sê Philip. “Ek bid ook dat die Here elke traan sal opvang. Sy het vier jaar lank hier op aarde outentiek geleef. Soos ’n bokser in ’n kryt het sy altyd weer opgestaan.”

Nadat hy op Melissa se versoek voorgelees het uit Markus 10:14 met Jesus se bekende woorde, “Laat die kindertjies na My toe kom”, sê die pastoor: “Nadya ken nou die koninkryk van God. Sy het ’n ball of a time in die paleis met goue strate. Sy wil vandag vir ons sê: ‘Daar is hoop.’ ”

Die vierjarige sou net drie maande leef

Nadya en Christa in 2019. Foto: Corrie Hansen

Met haar dood was sy net 1, 2 m lank, maar met ’n kop van sowat 65 cm in omtrek – veel groter en swaarder as dié van ander kinders van haar ouderdom.

Die genetiese toestand hidrosefalie is by Nadya gediagnoseer toe Melissa 23 weke met haar swanger was. Die een ginekoloog ná die ander in Pretoria, waar sy toe in Waverley gewoon het, het die jong ma aangeraai om ’n aborsie te kry. “Nie eens God sal haar kan help nie,” het een dokter glo van die baba gesê.

Maar Melissa het vasgeskop, want haar baba se gesiggie wat sy met ’n skandering gesien het, was vir haar “pragtig”.

Toe sy hoor dokters by die Tygerberghospitaal in Kaapstad het baie ervaring met kinders met ’n waterhoof het sy besluit om daar die lewe aan Nadya te skenk. Met haar geboorte op 30 April 2016 was die omtrek van haar kop 50 cm, maar binne twee dae het dit met meer as 10 cm groter geword. Sy is toe geopereer om ’n pyp in haar kop te plaas wat die vog na die maag dreineer.

Die sogenaamde “water op die brein” is eintlik serebrospinale vloeistof – ’n helder vloeistof wat die brein en rugmurg omring. Weens die drukking wat dit op die omliggende breinweefsel uitoefen, het Nadya gereeld epileptiese toevalle gekry.

Sy was nege maande oud toe Melissa besluit het om haar vir nog mediese behandeling na Kaapstad toe terug te bring. Omdat ’n vlug ekstra drukking op Nadya se brein sou plaas, het Melissa en Christa met haar in Pretoria op die trein geklim en die 24 uur lange rit van meer as 1 400 km afgelê. Hulle het net hul nodigste besittings saamgebring.

Oupa Werner en Melissa se broer, Morné, het later by hulle aangesluit en in die omgewing van Kaapstad werk gesoek om naby Nadya te wees. Maar dikwels moes hulle teruggaan om in Pretoria aan bouprojekte te werk. Nadya se pa woon ook in Kaapstad, maar sy en Melissa se verhouding is twee jaar gelede beëindig.

Teen Mei verlede jaar het die kleinding al vyf verskillende dreineringspype gehad. Dit moes fyn dopgehou word om te sorg dat die pype nie verstop raak of infeksie in die omliggende weefsel veroorsaak nie. Dit was van die lewensnoodsaaklike take wat Christa die afgelope vier jaar behartig het, terwyl Melissa, ’n skoonheidsterapeut, moes werk om die pot aan die kook te hou.

“My hart is so stukkend,” sê Christa. “Ek het altyd daai pilletjie gehad wat my moes help met angs en depressie wanneer Nadya ’n epileptiese toeval gekry het, maar geen pil wil nou die seer wegvat nie.”

In sy boodskap in die begrafnisbrief wat tydens die diens voorgelees word, skryf Werner: “Jy was ’n spesiale kind en ons twee se speel wanneer ek jou hier in die huis rondgedra het, mis ek vreeslik.

Morné skryf aan sy “Engel”: “Jou gesin sal jou nooit vergeet nie; rus dus jou kop wat altyd in pyn was. Daar is nie een mens wat jy nie geraak het nie. Jy was ’n vegter, ’n voorbeeld. Dit sal nooit totsiens wees nie. Maak jou mooi oë toe; geen trane meer nie.”

Ook vir Melissa is haar dogtertjie se plek pynlik leeg. “Sy het twee jaar op my bors geslaap en twee jaar saam met my in die bed,” vertel sy. “Ek wys nie sommer my emosies nie, maar toe ek haar daar in die kissie met haar swart mondjie sien lê . . .”

Haar stem breek. Die dood het haar kind onverwags kom haal. Twee dae tevore het Melissa nog vir Nadya somerklere aanlyn bestel, min wetend dat sy dit nooit sal dra nie.

“Ek sal dit saam met al haar speelgoed aan kinderhuise gee. Maar ek is nog nie reg om haar goedjies in bokse te pak nie.”

Maar sy vind berusting wanneer sy onthou hoe die pienk en wit ballonne, wat buite die kerk losgelaat is, ál hoër in die lug opgestyg en in die wolke verdwyn het – nes die siel van haar dogtertjie, glo sy.

Later vertel Christa dat sy enkele dae ná haar enigste kleinkind se dood in ’n droom gesien het hoe Nadya nou lyk: “Sy het ’n wit valletjiesbroekie, wit hempie, wit sokkies en skoentjies aan en die mooiste glimlag met daai bos krulhare. En sy hardloop rond soos wat sy nie op aarde kon doen nie. Sonder enige pyn.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe