Ploeteraars

DONALD TRUMP (73), Amerika

Donald Trump. Foto: Gallo Images/Getty Images
Donald Trump. Foto: Gallo Images/Getty Images

Uit sy mond “Dis soos ’n griep, dié. Jy behandel dit soos ’n griep. Dis amper soos gewone griep waarvoor ons inspuitings het.”

Die Amerikaanse president word deur sy land se media gelooi oor hoe hy die krisis hanteer. Amerika het teen druktyd meer as 1,7 miljoen coronavirusgevalle gehad met ’n dodetal van 100 000 – die hoogste ter wêreld.

Trump was traag om ’n inperking in te stel en het vinnig besluit om die ekonomie weer oop te stel.
Wetenskaplikes, medici en ander wêreld­leiers het hom skerp veroordeel. Oudpres. Barack Obama het die regering se reaksie as “ ’n absoluut chaotiese ramp” beskryf.

Trump het van die begin af die gevaar wat die virus inhou, afgemaak en Amerikaners verseker “dis iets waaroor ons beheer het”.

Hy het eers die krisis ontken en toe ander blameer en selfs aangevoer huishoudelike ontsmettingsmiddel kan as behandeling dien en ’n malariamiddel as ’n kuur verkondig.

JOHN MAGUFULI (60), Tanzanië

John Magufuli. Foto: Gallo Images/Getty Images
John Magufuli. Foto: Gallo Images/Getty Images

Uit sy mond “My eie seun het, nadat hy die virus opgedoen het, ’n suurlemoen-en-gemmer-oplossing gedrink voor hy gesond geword het en kan nou selfs opstote doen.”

Terwyl die meeste lande ’n inperking ingestel en groot byeenkomste verbied het, het pres. John Magufuli van Tanzanië sy burgers aan­gemoedig om voort te gaan om kerke en moskees by te woon.

“Corona is die duiwel, en dit kan nie in die liggaam van Jesus oorleef nie,” het hy gesê.

Sy opdrag om dit weg te bid het nie gewerk nie. Tot dusver was daar 21 COVID-19-sterftes en 509 besmettings; en die syfers neem toe.

JAIR BOLSONARO (65), Brasilië

Jair Bolsonaro. Foto: Gallo Images/Getty Images
Jair Bolsonaro. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jair Bolsonaro dink om Brasilië se ekonomie te sluit sal sy kans op herverkiesing in die wiele ry.
Hy het ook na die pandemie verwys as ’n “bietjie griep” en inperkingsmaatreëls gekritiseer as “die moordenaar van werkgeleenthede”.

Sy minagting vir inperking – hy het in die openbaar aangesluit by betogings teen ’n inperking – saai verwarring in Brasilië, het die Britse mediese joernaal The Lancet berig.

Met 275 000 mense wat besmet is en 18 000 sterftes is dié land vinnig besig om een van die wêreld se coronabrandpunte te raak.

Hy het onlangs in reaksie op ’n joernalis se vraag oor die rekord­getal sterftes geantwoord: “En? Ek’s jammer, maar wat wil jy hê moet ek doen?”

Twee gesondheidsministers het onlangs ná minder as ’n maand in hul pos hul tassies gepak omdat hulle nie saamstem met sy hantering van die pandemie nie.

KIM JONG-UN (36), Noord-Korea

Kim Jong-un. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kim Jong-un. Foto: Gallo Images/Getty Images

Uit sy mond “Daar is geen perfekte en moderne mediese instelling in die land nie, selfs nie in die hoofstad nie.”

Toe Kim Jong-un in April vir drie weke uit die openbare oog verdwyn het, het hy glo na ’n oord gevlug nadat hy uitgevind het assistente het corona-agtige simptome – hoewel die regering volhou daar is geen gevalle nie.

Terwyl staatsamptenare sê die land is virusvry, het die plaaslike media berig oor die dood van sowat 200 soldate wat COVID-19-simptome getoon het. Volgens die land se owerhede is 10 000 mense in kwarantyn geplaas.  

“Outokratiese lande is baie goed daarmee om dinge te sluit, om die bevolking te beheer. En dalk het Noord-Korea sy onderdrukkingsmetodes ingespan om ’n uitbreking te voorkom,” skryf die joernalis Oliver Hotham in NK News.

Die vroeë sluiting van die grense het moontlik die verspreiding van COVID-19 vertraag, maar kenners is skepties oor Noord-Korea se vermoë om ’n uitbreking te hanteer aangesien dekades van sanksies die land se gesondheidsinfrastruktuur op sy knieë gedwing het.

BORIS JOHNSON (55), Brittanje

Boris Johnson. Foto: Gallo Images/Getty Images
Boris Johnson. Foto: Gallo Images/Getty Images

Uit sy mond “Ek het groot vertroue dat ons teen 1 Junie ’n stelsel in plek sal hê wat ons in staat sal stel om hierdie siekte te klop.”

Kritici sê Boris John­son, wat in die hospitaal beland het nadat hy COVID-­19 opgedoen het, het Engeland se reaksie op die krisis verbrou deur aan die begin die bedreiging te onderskat en toe te stadig op te tree.

Terwyl die res van Europa vroeg in Maart sosiale distansiëring ingestel het, het Engeland besluit om kwesbare mense soos bejaardes te beskerm, maar terselfdertyd die virus toegelaat om in die publiek te sirkuleer ten einde “tropimmuniteit” te ontwikkel.

Toe ’n inperking eindelik ingestel is, was die reëls veel slapper as in ander lande.

Die land se oorgerustheid het ’n hoë tol geëis: Byna 37 000 mense het teen druktyd al gesterf en 250 000 is besmet.

Johnson het onderneem om ’n landwye opsporingsveldtog te begin nadat Keir Starmer, leier van die Arbeidersparty, daarop gewys het dat daar langer as twee maande geen doeltreffende opsporing in die land was nie.

Presteerders

JACINDA ARDERN (39), Nieu-Seeland

Jacinda Ardern. Foto: Gallo Images/Getty Images
Jacinda Ardern. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die meestersklas in hoe om te reageer is deur Jacinda Ardern aangebied,” het The New York Times verklaar.

Nieu-Seeland se premier is dwarsoor die wêreld geloof vir haar hantering van die krisis. Sy het die land se grense vroeg gesluit, massabyeenkomste verbied, skole en inkopiesentrums gesluit en sosialisering beperk.

Ten spyte daarvan dat die land een van die strengste inperkings gehad het, het haar gewildheid toegeneem, grotendeels omdat haar benadering op feite en empatie gegrond is.

Dié ma van ’n 21 maande oue seuntjie verskyn gereeld in Facebook Live-gesprekke om in voeling met landgenote te bly.

Danksy haar filosofie van “streng reëls so vroeg moontlik” het Nieu-Seeland teen druktyd net 21 sterftes en 1 153 besmettings gehad. 1 452 mense het al herstel.

En nou vestig sy haar aandag op die her­strukturering van die ekonomie.

Dié progressiewe premier het ’n beroep op werkgewers gedoen om ’n vierdagwerkweek te oorweeg omdat sy glo buigsame opsies kan produktiwiteit en plaaslike toerisme ’n hupstoot gee, wat sal help om die ekonomie weer aan die gang te kry.

LEE HSIEN LOONG (68), Singapoer

Lee Hsien Loong. Foto: Gallo Images/Getty Images
Lee Hsien Loong. Foto: Gallo Images/Getty Images

Singapoer se vinnige en proaktiewe reaksie is as ’n suksesverhaal bestempel. Die premier het die grense gesluit en landsburgers en hul kontakte vroeg tydens die uitbreking begin opspoor.

Toetse is gratis, wydverspreid en gereeld, en enigeen wat positief toets, ongeag die erns van die simptome, is in kwarantyn geplaas.

Die land se regering het ook ’n app ontwikkel om mense se fisieke interaksies te monitor.

Singapoer stuur twee keer per dag via WhatsApp COVID-19-nuus oor die getal nuwe en herstelde gevalle en spesifieke plekke van vermoedelike uitbrekings na landsburgers.

“Singapoer is ’n goeie voorbeeld van ’n omvattende benadering deur die regering – premier Lee Hsien Loong se gereelde video’s help om die risiko te verduidelik en mense gerus te stel,” sê dr. Tedros Ghebreyesus, hoof van die Wêreldgesondheidsorganisasie.

ANGELA MERKEL (65), Duitsland

Angela Merkel. Foto: Gallo Images/Getty Images
Angela Merkel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Duitsland het ’n veel laer sterftesyfer as Brittanje, Frankryk, Italië en Spanje, dalk omdat hulle heelwat meer mense getoets het.

Hulle het 8 270 sterftes, 179 000 gevalle en 157 000 mense wat herstel het en word beskou as ’n voorbeeld van die regte benadering – danksy Angela Merkel.

Die Duitse kanselier, wat ’n doktorsgraad in kwantumchemie het, het haar wetenskaplike agtergrond gebruik om haar reaksie te vorm, wat ’n vroeë inperking, massatoetsing en duidelike kommunikasie behels het.

“Daar was macho politici wat gesê het: ‘Dis oukei; ons sal hierdeur kom,’ ” sê die Duitse politieke wetenskaplike Wolfgang Merkel.

“Sy is omsigtiger en het haar reaksie op haar wetenskaplike kennis gegrond,” sê die politieke wetenskaplike dr. Gero Neugebauer. “En sy stel nie daarin belang om ’n goeie beeld van haarself vir die volgende verkiesing te skep nie.” 

BRONNE: THE GUARDIAN.COM; BBCNEWS.COM; NYTIMES.COM; WASHINGTONPOST.COM; WWW.WORLDOMETERSINFO
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.