Die 12de jaarlikse Global Peace Index-verslag is onlangs deur die Institute for Economics and Peace, ’n internasionale dinkskrum, bekendgestel. 

Volgens die verslag is Ysland vir die tiende jaar agtereenvolgens as die vreedsaamste land ter wêreld aangewys. Ysland hou sedert 2008 dié titel. 

Die land se sosiale veiligheid en sekuriteit, deurlopende binnelandse en internasionale konflik en die vlak van militarisering is in ag geneem. 

Die tweede vreedsaamste land is Nieu-Seeland en Oostenryk is in die derde plek. Dit word gevolg deur Portugal en Denemarke, wat die vyfde plek op dié lys gehaal het. 

Ysland het nie ’n weermag nie en die polisie dra nie wapens nie, berig Iceland Magazine.

Maar om alles in perspektief te stel: Ysland het ’n bevolking van net ’n bietjie meer as 330 000 mense. 

Rusland, die gasheer van die 2018 Fifa-wêreldbeker-sokkertoernooi wat Donderdag begin, beklee die 154ste posisie op die lys, naas Soedan in noordoos-Afrika. 

In Afrika suid van die Sahara se streekranglys is Mauritius die vreedsaamste nasie en Suid-Afrika is no. 30 op dié streekranglys; net een posisie bo Zimbabwe. 

Volgens die verslag het die ekonomiese impak van geweld in 2017 met 2% in Suid-Afrika gestyg. Op die wêreldlys is Suid-Afrika die 125ste vreedsaamste land. 

Sirië is heel onder op die lys.

Bronne: ForbesIceland Magazine, Verslag (PDF)