Die oomblik waarop hy ons Bokke al ’n jaar lank voorberei, het eindelik aangebreek: Die Groen-en-Goud is in Japan, en Rassie Erasmus en sy nasionale rugbyspan mik nou na ’n sege in die Wêreldbekerrugbytoernooi.

Kort ná Huisgenoot se druktyd – terwyl dié uitgawe op die rakke is – sou die Springbokke die Nieu-Seelandse All Blacks in hul eerste amptelike wedstryd van dié toernooi aandurf.

Maar Rassie se span kon toe reeds breed glimlag, want hulle het die gasheerspan in hul opwarmingswedstryd behoorlik ore aangesit.

En met hul oorwinning van 41-7 teen Japan kon die Springbokke eindelik vir daardie vernederende nederlaag teen dié land in die openingswedstryd van die 2015-toernooi in Engeland vergeld.

Die bokke in Londen
Van die spelers in die Springbok­span ná een van hul oefensessies. Die Bokke is tans in Japan vir vanjaar se Wêreldbekerrugbytoernooi wat vandeesweek afskop. Die span sê hulle is topfiks en slaggereed om die trofee huis toe te bring. Foto: Twitter

Groot druk is op sy skouers, ja, én die verwagtings en drome van ’n hele nasie.

Maar toe Huisgenoot kort voor die Bok-span se vertrek na Japan op ’n amptelike mediadag met Rassie (46) gesels, was sy aandag ’n oomblik lank nie op strategie en wedstrydplanne gevestig nie – eerder op die kameraderie in sy span.

Hier by die MultiChoice-kantoor in Randburg, Johannesburg, sit hy dan ook sy arm om die skouers van Gregory Levendahl, die Springbokke se busbestuurder van die afgelope 10 jaar.

Die twee lag saam vir ’n grappie voor Rassie Gregory op die skouer klop en groet. Dis hoe hy met almal is, sien jy gou: ’n grappie hier, ’n tik aan die arm daar.

Die res van die bestuur is dit eens: Rassie is die snaaksste persoon in die span.

“Hy laat ons almal so lag,” sê René Naylor (47), een van die fisioterapeute. Maar, voeg sy by, hy is ernstig “wanneer hy moet wees”. Die Springbokgroep is kort tevore aangekondig, en Rassie lyk opgewek.

“Hoe lyk dit, Franna?” sê hy met ’n knipoog vir die Springboksenter Francois Steyn (32) toe dié verbyloop.

“Ons bring baie tyd saam deur en ek is daar vir hulle,” sê hy oor sy gemoedelike verhouding met die spelers.

Dié verhouding is kort voor die Bokke se vertrek getoets toe ’n klag van rassisme teen die slot Eben Etzebeth (27) by die SA Menseregtekommissie ingedien is nadat dié tydens ’n rusie op Langebaan na bewering ’n rassistiese uitlating kwytgeraak het.

Eben ontken dit.

Ná die voorval het Rassie aan Netwerk24 gesê: “Die speler en die afrigter het ’n verhouding, so elke keer wanneer iemand iets sê, kan jy nie reageer nie, want ek ken nie daardie persoon nie. Maar ek ken Eben. Ek het gesit en na sy storie geluister en ek glo hom. Tot iets anders uitkom, gaan ek nie optree nie.”

Hy is nie ’n pa-figuur vir die spelers nie, sê hy aan Huisgenoot.

“Mense vra dit altyd, maar hulle het hul eie pa’s. Ek is hul coach en hulle is die spelers. Ons steun mekaar, maar ek bly hul afrigter.”

Rassie sit gemaklik agteroor vir sy onderhoud met Huisgenoot.

Om ons gons die MultiChoice-kantoor soos die spelers vrae van die media beantwoord. Dis tyd vir die vraag op almal se lippe: Kan die Springbokke weer – soos in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi in 1995 hier in Suid-Afrika en in 2007 in Frankryk – op 2 November die Webb Ellis-trofee omhoog hou?

“Ek dink ons het ’n realistiese kans om te wen,” sê hy en kyk jou reguit in die oë. Dié keer maak hy nie grappies nie. “Ons het hard gewerk en die span is gereed.”

En hy? Is sy spanpraatjie gereed vir die oomblik in die kleedkamer voor die Bokke moet uitdraf?

“Ek maak nie ’n groot ding van team talks nie. Vyf minute voor ’n game praat ek met hulle en sê daar en dan wat nodig is. Dis nooit langer as ’n paar minute nie.

“Ek glo nie daarin om hulle op te psych nie. Hulle gaan net vir my lag, en wat sal dít help?” sê hy en haal sy skouers op.

Wat ook al Rassie se resep is, tot dusver lyk dit asof dit werk. Hy is sedert Februarie 2018 die afrigter van die Springbokke nadat Allister Coetzee die trekpas gekry het.

Waar Allister se wenpersentasie 44% was, kon die Bokke onder Rassie se leiding 60% van hul wedstryde wen.

Stelselmatig het die prestasie van sy span – en die skouspelagtige drieë van nuwe sterre soos Herschel Jantjies (23) en Makazole Mapimpi (29) – ook weer by Suid-Afrikaners opgewondenheid oor ons rugbyspan laat vlam vat.

‘Ons het nie toeskouers in SA nie. Ons het ondersteuners. Hulle kan soms vir jou kwaad word, maar hulle bly ondersteuners, en hulle kén rugby’

Hy herinner die spelers dikwels dat hulle net op die rugby moet fokus, sê Rassie.

“Om mense trots te maak en jong kinders se helde te wees . . . Daai dinge kom vanself as jy jou goed van jou taak kwyt.” Tog wil hy hê Suid-Afrikaners moet weet die Bokke luister na hul raad.

“Ons het nie toeskouers in Suid-Afrika nie. Ons het ondersteuners. Hulle kan soms vir jou kwaad word, maar hulle bly ondersteuners, en hulle kén rugby,” sê hy.

Hy het dit ook as ’n speler beleef – vir die Vrystaat en die destydse Cats, sowel as die Springbokke, vir wie hy self in 36 toetse uitgedraf het.

Hy is al sedert 2007 by Springbokafrigting betrokke, maar as die Bokke se hoofafrigter moes hy opnuut leer hoe om dit te hanteer as die span goed én sleg vaar.

“Ná die game gaan ek kleedkamers toe voor enigeen daar is en ek is ’n paar minute lank stil. Ek dink aan wat ’n mens moet sê en nie moet sê nie. Soms vloek ek saggies; ander kere glimlag ek.”

Ná al die jare as speler en afrigter bly dit moeilik om lank van die huis af weg te wees, erken Rassie.

As hulle vanjaar die eindstryd van die toernooi haal, sal die Springbokke 10 weke lank in Japan wees. Maar Rassie se vrou van die afgelope 21 jaar, Nicolene, is al daaraan gewoond.

Sia,Faf en Rassie
Rassie maak ’n grappie saam met twee van die nasionale rugbyspan se sterspelers, die flank Pieter-Steph du Toit (links) en die Bokkaptein, Siya Kolisi. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die egpaar woon in Durbanville saam met hul drie dogters: die tweeling Carli en Nikki (15) en kleinsus Jani (8).

“Ek en Nicolene het mekaar in my army-dae ontmoet; sy het my toe al ge-nurse wanneer ek beserings op die veld gekry het,” vertel hy met ’n vonkel in sy oog oor die oudverpleegster.

Voor hy in Desember 2017 as direkteur van rugby by Saru aangestel is en kort daarna afrigter geword het, was hy die uitvoerende hoof van die Ierse rugbyklub Munster.

Vir dié pos het Nicolene en die kinders twee jaar lank saam met hom in Ierland gebly. Hulle verstaan dat hulle in ander stede of selfs lande moet bly sodat hy sy drome kan najaag en berus daarin, sê hy.

Maar al speel rugby so ’n groot rol in die gesin se lewe, gee hulle hom nie raad wat sy spankeuses en taktiek betref nie.

“Nicolene weet wanneer om iets te sê.

Maar ons praat nie rugby in die huis nie. Behalwe as my meisies giggel wanneer hulle Siya of iemand ontmoet,” lag hy.

Ondanks die aard van sy werk probeer Rassie uit die openbare oog bly.

“Ek’s net ’n gewone ou wat lief is vir rugby. Ek hou daarvan om saam met pelle ’n bier te gaan drink en dat my persoonlike en werklewe geskei is.”

En een ding is seker: As Rassie en sy Bokke in November met die Wêreldbekertrofee onder die arm terugkeer, sal daar sommer ’n héle paar Suid-Afrikaners wees wat vir dié plat-op-die-aarde afrigter ’n bier wil koop . . . 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.