Rich Cox (53) het voor sy dood 'n ooreenkoms met 'n blommewinkel gemaak, en vir die afgelope agt jaar het hy blomme aan sy vrou, Tracey (63) laat aflewer vir haar verjaarsdag en Valentynsdag, wat 'n dag uitmekaar is. 

Toe Tracey die jaar ná sy dood in 2013 die eerste blomme-aflewering kry, was sy geskok.

“Dit was baie emosioneel. Ek was hartseer, maar terselftertyd ook gelukkig, omdat ek geweet het dat hy altyd by my sal wees,” het sy aan CNN gesê. 

Tracey, al kan jy my nie sien nie, is ek altyd daar. Ek is lief vir jou. Liefde, Rich

Maar die blomme-aflewerings het nie in 2013 gestop nie.

Dit het aangehou elke jaar daarna, en elke keer was daar 'n nuwe briefie saam met die blomme. 

Die kaartjie wat in 2018 saam met die blomme afgelewer is, lui: Tracey, al kan jy my nie sien nie, is ek altyd daar. Ek is lief vir jou. Liefde, Rich.

“Elke jaar wanneer ek die blomme kry wek dit baie emosies en trane van blydskap op. Dit bring al die goeie herinneringe wat ons saam gehad het, terug,” vertel sy.


Rich het in 2012 sy stryd teen keelkanker verloor.

Hy is die rolmodel van ’n man wat elke vrou wil hê.

Die egpaar het vier kinders gehad wat van hul pa se planne geweet het. 

“Ons weet nie presies hoe dit werk nie, maar ons weet dit gaan nie sommer gou ophou nie,” het Bethany, hulle dogter, gesê.

Bethany het vertel sy was geensins verras toe haar pa haar destyds van sy planne vertel het nie. 

“Dit was die soort mens wat hy was. Hy is die rolmodel van ’n man wat elke vrou wil hê.”

Tracey het gesê as daar een ding is wat sy vir Rich sou sê as sy kon, sou sy dankie sê vir hulle tyd saam en vir alles wat hy steeds vir haar doen. 

Bronne: CNNFox News

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.