Isobel Bytautas (55) het op Saterdag 8 Junie in ’n bergrif in Glencoe, Skotland, gestap toe sy en nog ’n lid van die groep van sewe stappers deur ’n enkele weerligstraal getref is.

Volgens die Skotse polisie is twee stappers per helikoper na ’n hospitaal in Fort William geneem, maar Isobel het later aan haar beserings beswyk. Die tweede stapper is in ’n stabiele toestand.

Andy Nelson, leier van die Glencoe-bergreddingspan, sê die stappers was net baie ongelukkig om in die situasie te beland.

“Die meeste van hulle is ongedeerd,” het Andy gesê.

“Die groep was net op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Dit was ’n kort donderstorm wat 20 minute geduur het. Daar was ’n blits en toe ’n gerommel. Ons het ’n weerligstraal gesien. Die groepie het per selfoon kontak gemaak. Ek kan nie onthou dat daar al ’n sterfgeval in Skotland se berge was as gevolg van weerlig nie.

“Dis algemeen in die Alpe en ’n bekende risiko, maar ons kry nie gewoonlik sulke weerstoestande in die Skotse Hooglande nie.”

Isobel se man, Andrew, ’n bouer, en hul dogter, Ashley, word deur hegte vriende en familie bygestaan.

Ashley het op Facebook aan haar ma hulde gebring.

“My ma het dadelik gesterf in ’n een-uit-’n-miljoen-fratsongeluk wat jy nooit sou dink is moontlik nie,” het sy geskryf.

“Ek kan nie die lewe sonder haar voorstel nie; ek is verlore. Ek kan dit nie verwerk nie. Dit voel nie werklik nie. Ek is gebroke.”

Bronne: independent.co.uk, skynews.com, theguardian.com