Teen die muur van die huisie in Lentegeur op die Kaapse Vlakte glimlag ’n laerskoolknapie met blink ogies uit ’n fotoraam. Dis Bronwyn, die “last-born” van haar drie kinders, vertel Hermoyn Strevens (58).

“Wanneer hy soet was en iemand gee hom ’n koekie of lekkerny, het hy dit saamgebring huis toe om met my te deel,” onthou sy. Maar dis nou als net herinnerings, want op 18 is Bronwyn se lewe skielik kortgeknip toe bendelede verlede November in ’n straat hier naby op hom losgebrand en hy in ’n koeëlreën gesterf het.

Die trane stroom soos die winterreën buite oor Hermoyn se wange. “Ek mis sy teenwoordigheid,” sê sy sag.

Net vanoggend, 18 Julie, is die weermag in Manenberg, elders op die Kaapse Vlakte, ontplooi om die polisie in die voortslepende stryd teen bendegeweld op brandpunte soos Nyanga, Delft, Khayelitsha, Philippi-Oos, Harare, Gugulethu, Mfuleni, Kraaifontein, Mitchells Plain en Bishop Lavis by te staan. Maar dis te laat om die lewe van kinders en jong mense soos Bronwyn te red.

“Hy wou ’n pilot word,” vertel sy ouer suster, Stephanie Strevens (30), aangedaan. Haar kinders, Charnique (7) en Trevoline (2), kyk na die gewilde animasiereeks Peppa Pig op die televisiestel, en hul borrellaggies breek deur die hartseer.

“Hulle mis hul oom,” sê Stephanie. Dan voeg sy by: “Hulle weet wat met hom gebeur het . . .”

Hermoyn Strevens van Lentegeur met ’n foto van haar seun, Bronwyn, wat weens bendegeweld gesterf het.

“Dit was nog daglig. Hy was winkel toe namens iemand anders,” vertel Hermoyn, wat op haar jongste se sterfdag besig was om haar ma te versorg. Toe Stephanie van ’n besoek aan die daghospitaal terugkeer, het sy haar kleinboet vir die laaste keer gesien.

Bronwyn het vroeër “verkeerde vriende” gemaak, vertel sy.

“Maar lank voor sy dood het hy sy lewe reggeruk en met kerkdienstige mense bevriend geraak. Maar sy ou vriende het hom bly sien in die lig van sy ou lewe.”

Dus het sy nog daardie dag vir hom gesê: “As jy jou regruk, verwag die Here jy moet ook met jou slegte vriende klaarmaak. Gee jouself aan die Here oor en neem afskeid.”

Hy het sy kop geknik en weggestap. ’n Kwartier later het sy nege skote gehoor. “Dis my boetie,” het sy beangs gedink. En dit was.

“My seun was op die regte pad toe hy vermoor is,” sê Hermoyn beslis. “Die enigste manier hoe die bloed gaan stop, is om die gangster-boelies stop te sit.”

En dít is waarop ma’s soos Hermoyn hoop nadat Bheki Cele, die minister van polisie, in Julie aangekondig het dat die weermag drie maande lank saam met polisielede op die Kaapse Vlakte ontplooi sal word om bendegeweld te probeer bekamp.

Linte is by ’n parkie in Lavender Hill opgehang met die name van bendegeweldslagoffers.

Volgens die misdaadstatistieke wat Cele in September 2018 bekendgemaak het, het 83% van die bendeverwante moorde wat in die 2017-’18-boekjaar gepleeg is in die Wes-Kaap plaasgevind.

Dit was 808 van die 973 bendeverwante moorde landwyd. In dieselfde tydperk is 20 336 moorde volgens die amptelike statistieke aangemeld, waarvan 3 729 moorde in die Wes-Kaap was.

Dit beteken minstens een uit elke vyf moorde in dié provinsie was weens bendegeweld.

Die mense van Lavender Hill hou op hul eie manier rekord van die moorde in hul strate. Op rooi linte wat in bondels rondom ’n speelparkie in die wind wapper, staan die name van inwoners wat weens bendegeweld gesterf het in viltpen geskryf.

In die middel van die verlate parkie, waar ’n kinderlaggie deesdae selde opklink, is ’n klein kruis vir Bradley Arendse (13) opgerig. Hy is hier doodgeskiet, om die draai van die veiligheid van sy ouerhuis.

“Vandat die law die afgelope tyd meer patrol, hoor ons nie meer ’n skietery nie. Dalk sal die army nog help,” meen Karen Downs (43) van Hillview neffens Lavender Hill.

Dis hier waar Ellen Pakkies haar tikverslaafde seun uit desperaatheid verwurg het. Dié aangrypende verhaal is verlede jaar in die rolprent Die Ellen Pakkies-storie uitgebeeld.

Maar Karen se seun, Nathaeniel, was geen dwelmslaaf nie, eerder ’n ywerige leerder op skool. Hy was net 16 toe hy doodgeskiet is. Op ’n betonmuur net ’n paar meter van sy huis staan sy noemnaam, Tenie, in helder-oranje verf saam met sy sterfdatum, 4 Julie 2018, en Psalm 23 geskryf.

“’n Drive-by deur gangsters,” vertel Karen hartseer.

Karen Downs by die muur waar haar seun in ’n koeëlreën gesterf het.

“Hy het uit die huis gegaan om iets te koop en op pad terug het ’n kar daar gaan stop. Toe ek die skote daardie dag hoor, het ek net ’n gevoel gehad dis my kind.”

Dit was net genade dat sy nie op daardie oomblik buite by haar wasgoeddraad was nie, want dan sou hy voor haar oë gesterf het. “Hy was nie by die gangs betrokke nie,” voeg sy by. “In dieselfde jaar het hulle my oudste seun in die been geskiet. Hy het darem oorleef.”

Die bendes voer ’n skrikbewind in die buurt, vertel sy, en dit beteken dat almal beangs na binne moet leef. “Kinders speel nie meer buite of by die neighbours wanneer hulle van die skool af kom nie. Ons gaan winkels toe, maar van seven, half past seven is ons almal in ons huise. Almal is al vroeg agter geslote deure.

“Die klein kindertjies weet nou al wanneer daar ’n skietery is, moet hulle binnetoe hardloop. Uit die skool so vinnig moontlik by die jaart in. Dis ’n terrible lewe vir hulle,” sê Karen.

Om die draai is die huisbiblioteek, Siyafunda, wat past. John Nicholson in ’n motorhuis ingerig het. Hier kom die buurt se kinders nie net meer ontvlugting in storieboeke soek nie; hulle kom ook teen die koeëls skuil.

Die biblioteek moes tydelik sluit sodat die struktuur van die motorhuis se dak versterk kon word om seker te maak dis ’n veilige hawe. “Dis amper gereed,” vertel sy vrou, Gail, met ons besoek.

In Philippi-Oos, waar 55 mense volgens ’n verklaring van die Stad Kaapstad in die naweek van 13 en 14 Julie dood is, vertel ’n evangelisasiewerker by ’n kerk: “Ek hoor die morgue hierso het laat weet hulle het hulp nodig. Daar’s nie meer plek vir al die kinderlyke nie. Dis vir my baie erg om te sê dat bid nie eens help nie . . .”

Die weermag is ontplooi om met die polisie saam te werk, bevestig brig.genl. Mafi Mgobozi, die nasionale woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Weermag. Dis gedoen omdat die bendegeweld vir die polisiediens buite beheer geraak het, sê Angus McKenzie, ’n Bonteheuwel-wyksraadslid in die Kaapse stadsraad. In dié gebied op die Kaapse Vlakte is 44 mense sedert die begin van die jaar weens bendegeweld dood.

’n Kruis vir Bradley Arendse, wat naby sy huis gesterf het.

“Die grootste oorsaak van dié geweld hier is die dwelmhandel en ’n geveg tussen die bendes oor wie waar dwelms mag verkoop of nie,” sê Angus.

Hy sê die ontbinding van ’n gespesialiseerde teenbendepolisie-eenheid in 2004 het bendeaktiwiteite op die Kaapse Vlakte laat toeneem, en nes talle ander kenners glo hy daar is nie genoeg polisie- beamptes in dié buurte nie.

Terwyl die Verenigde Nasies voorstel dat daar een polisiebeampte vir elke 250 mense moet wees, is in Bonteheuwel byvoorbeeld net een polisieman vir elke 10 000 mense, sê Angus.

“Op die oomblik is die bendes glad nie vir die polisie bang nie,” sê hy, en hy voeg by die mense het boonop hul vertroue in die polisie verloor. “As polisiëring sigbaarder is, sal mense hulle meer begin vertrou en vir hulle inligting oor bendebedrywighede gee.”

Daar is verskeie redes vir die toename in bendegeweld, sê Dalli Weyers van die Koalisie vir Sosiale Geregtigheid, ’n organisasie sonder winsoogmerk. Hy sê sosiaal-ekonomiese faktore soos armoede, werkloosheid, veral onder jong mense, en dwelms speel ’n groot rol.

Hier op die Kaapse Vlakte het beloftes oor werkskepping immers net by beloftes gebly toe ganse gemeenskappe onder apartheid van die reg op gelyke geleenthede en toegang tot hulpbronne ontneem is. Drome is in die stof vertrap, en bendelede met hul blink motors en goue kettings het die helde geword na wie kinders in arm huise opsien.

Die weermag doen hul rondes op die Kaapse Vlakte. Volgens die Wes-Kaapse regering is daar reeds ’n afname in die getal moorde in party omgewings.

Een generasie bendelede het ’n volgende generasie gelok, en dit het ’n bose kringloop geword wat op armoede en werkloosheid floreer.

Terwyl die weermag en polisie die Kaapse Vlakte nou vir onwettige vuurwapens en dwelms deursoek, is die gemeenskaps- polisiëringsforum van Grassy Park met hul eie veldtog doenig: om van lewensgetroue speelgoedgewere ontslae te raak.

“Dis initiation guns. Kinders raak gewoond daaraan en dan vervang die gangsters dit met regte skietgoed,” sê die gemeenskapsleier Philip Bam. “Nes met armoede aanvaar ons gemeenskappe bendegeweld,” deel hy sy kommer.

“Dis die ‘normaal’. Mense raak geakklimatiseer en dis nie ’n goeie posisie om in te wees nie.”

Dan pleit hy: “Asseblief, moenie vir die hele land vertel ons is sleg nie. Bendes is ’n klein deel van die gemeenskap wat ons met geweld in die hand gyselaar hou. Ons is moeg daarvoor om ons kinders te begrawe.”

Met ’n noodkreet teen die einde van sy sin roep hy uit: “Ons weet die weermag kan nie vir altyd bly nie, maar hulle moet stabiliteit kom skep – nou!” Ook die motiveringspreker en joernalis Nicola Daniels (29) is hoopvol dat die weermag ’n verskil kan maak in Manenberg, waar sy van kindsbeen af woon.

‘Dis vir my baie erg om te sê dat bid nie eens help nie . . .’
Skote klap gereeld op die Kaapse Vlakte en jare lank leef mense en kinders in vrees vir die dwaalkoeëls wat rondvlieg weens die skietery van bendes. Dwelmhandel en ’n geveg oor wie waar dwelms mag verkoop, is die grootste oorsaak van bendegeweld. Die weermag is ingeroep om dié geweld te probeer bekamp.

“Baie mense sê hulle wil nie ons kinders blootstel aan ’n omgewing waar die weermag rondbeweeg nie. Maar wil ons eerder ons kinders aan bendegeweld blootstel?” vra sy. Sy vertel van ’n swanger 22-jarige vrou wat onlangs doodgeskiet is terwyl sy besig was om wasgoed op te hang. “Sy het naby my gewoon.”

Uit haar eie kinderjare onthou Nicola hoe haar ouers haar “altyd gemaan het om in die huis in te hardloop wanneer die bendes begin skiet het”. Maar deesdae is die bendes selfs waaghalsiger, vertel sy.

“Hulle skiet oop en bloot in die dag.

“Ek is heeltyd op my hoede en kyk die hele tyd oor my skouer wanneer ek werk toe en huis toe stap. Ek haat dit. Ek wil nie so leef nie.”

Ter wille van haar seun wil Nicola nou uit Manenberg wegtrek.

“My grootste vrees is dat iemand wat ek liefhet, geskiet sal word terwyl hulle winkel toe loop.’’

Sy vroegste herinnering aan bendegeweld was toe hy 10 jaar oud was, vertel Clint White (31), ’n gemeenskapsaktivis van Heideveld. “Ons moes toe uit Mitchells Plain trek omdat my broer gesien het hoe iemand daar doodgeskiet is.”

Deesdae is die jeug in sy omgewing so aan die geskiet gewoond dat hulle al weet om huis toe te hardloop of plat op die grond te lê wanneer die skote begin klap.

“Ons lewe in konstante vrees, want jy weet nie wanneer dit jou beurt is om deur ’n dwaalkoeël getref te word nie.”

Maar die ontplooiing van die weermag is net ’n fopspeen, ’n tydelike troos, glo hy.

“Dis nie die eerste keer dat die weermag ingeroep word nie. Dit laat mense veilig voel terwyl hulle hier is, maar sodra hulle weer weg is, sal die geweld weer opvlam,” voorspel hy. Hy skud sy kop.

“Jy hoor saans hoe die skote klap, en môreoggend op pad werk toe wonder jy of jy geskiet gaan word.”

En so – só – moet mense mos nie in hierdie land leef nie.

Net ’n pleister?

Kenners meen die ontplooiing van die weermag bied nie ’n langtermynoplossing vir die bendegeweld op die Kaapse Vlakte nie; sosiaal-ekonomiese faktore soos armoede en werkloosheid moet aangepak word om mense op te hef en aan jong mense geleenthede te bied.

Beter polisiëring word ook benodig om dwelmhandel en geweldmisdaad hok te slaan.

“Die bendebase sal nou ’n drie maande lange vakansie neem om te beplan wat hulle gaan doen sodra die weermag weg is,” sê die kriminoloog Don Pinnock, skrywer van die boek Gang Town.

Ook Dalli Weyers van die Koalisie vir Sosiale Geregtigheid sê die ontplooiing van die weermag kan help om die getal onwettige wapens op die Kaapse Vlakte te verminder, “maar verder as dit is die weermag nie die antwoord nie”.

Hy glo meer en beter polisiëring sal ’n volhoubaarder antwoord begin bied. Daar is te min polisiebeamptes in die buurte wat geraak word, beklemtoon hy, en politiekery het onstabiliteit in misdaadintelligensiedienste veroorsaak.

Dit het meegebring dat sindikate hul handel in onwettige goedere kon uitbrei, en dit het weer tot groter mededinging en meer span-ning tussen bendes en misdaadsindikate gelei, sê hy.

Kort voor druktyd is syfers bekendgemaak ná die weermag se eerste week op die Kaapse Vlakte. Die naweek van 19 Julie is 25 moorde gepleeg vergeleke met die vorige naweek se 43 en die 55 moorde die naweek daarvoor.

“Dis steeds 25 moorde te veel, maar ons is bly om te sien dat hul teenwoordigheid ’n uitwerking het in ons gemeenskappe wat moeg is van misdaad en in vrees lewe,” sê die Wes-Kaapse premier, Alan Winde.