Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens gaan ’n groot kouefront Donderdag en Vrydag oor die Wes-Kaap en Noord-Kaap beweeg.

Teen Saterdag sal die front die land begin verlaat en die koue, droë lug sal dan na die binneland versprei. Dit sal tot koue dagtoestande in die Vrystaat, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga lei.

Veral die Kaapse stadskom, Wynland, Overberg en Weskus kan regmaak vir swaar reën wat na verwagting tot oorstromings kan lei. Ongeveer 10-25 mm reën sal Donderdag en Vrydag tussen laatoggend en laatmiddag val en nog 30-50 mm sal in die berge val.

Die verwagte reënval in millimeter vir Donderdag, 14 Junie. Grafika: Suid Afrikaanse Weerdiens

Sterk winde van tussen 50 en 70 km per uur sal die Kaap in dié tyd ruk.

Aan die Weskus sal stormwinde Donderdag vir rowwe seetoestande sorg met golwe van 4-6 m hoog. Teen Vrydag sal dit deinings van 5-7 m al langs die Oos-Kaapse kus veroorsaak.

Kleiner bootjies moet dit nie op die see waag in hierdie tyd nie, word gewaarsku.  

Die verwagte reënval in millimeter vir Vrydag,15 Junie. Grafika: Suid Afrikaanse Weerdiens

Winde van 75-93 km per uur sal in die binneland waai, spesifiek in die Wes-Kaap, Noord-Kaap, suidelike Vrystaat en veral die sentrale Karoo.

Boere word gewaarsku om hul vee betyds onderdak te kry.   

Padgebruikers word gewaarsku om versigtig te wees op die snelweë, veral die N1, aangesien die stormwinde en swaar reën tot ongelukke kan lei.   

Die dagtemperature van 11-15 Junie. Grafika: Suid Afrikaanse Weerdiens
Die hoogliggende dele van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en suidelike dele van die Noord-Kaap sal ook van Donderdag tot Saterdag snerpend koud wees.