Maar toe die deur agter hom toeslaan, het die kluis outomaties gesluit. En niemand het geweet waar hy hom bevind het nie.

Toe sy ouers eindelik besef hy is in die kluis vasgekeer, het hulle desperaat probeer om die deur oop te maak. Dit was tevergeefs.

Die Berlynse brandweer moes ingeroep word om hom te bevry. Selfs hulle het nie onmiddellike sukses behaal nie.

Hulle het begin deur suurstof deur ’n klein opening in die kluis te pomp om te help verhoed dat die ongelukkige kind wat nou onwillig in “veilige bewaring” is, versmoor.

Die grootste krisis was die kluis se kode.

Die onbenutte kluis, na bewering 80x80 cm groot, se kode was net aan een mens bekend: die seuntjie se oupa. En dié was nie tuis nie.

’n Brandweerman het alle moontlike verjaardagdatums kombineer in ’n poging om die kluis oop te sluit.

Bykans drie uur later is die wenkombinasie tot groot verligting van almal gevind. Die seuntjie is nie beseer nie, maar het wel aan skok gelei. Hy is nie in die hospitaal daarvoor behandel nie en kon die aand by sy ouerhuis deurbring.

Die brandweerhoof het in in sy verslag oor die voorval gesê: “Kersfeesvader het ’n beskermengel vooruit gestuur.”

Kinders en kluise

Dit is nie die eerste keer dat ’n kind, of selfs kinders, hulle met ’n kluis misgis nie.

27 November 2017

Op dié dag moes ’n agtjarige uit ’n vuurwapenkluis in Bluefield, Wes-Virginia bevry word. Hy is na ’n halfuur deur die plaaslike brandweer uit die kluis bevry nadat die werknemers van die betrokke sentrum nie self die kluis kon oopkry nie.

Hy is ook suurstof deur ’n klein gaatjie gevoer. In sy geval het die elektroniese slot die gees gegee en is die kluis se deur met meganiese kake oopforseer. Die seun het na die tyd gesê hy “was ’n bietjie bang.”

Oktober 2017

’n Vier-/vyfjarige meisie is per ongeluk in ’n sportwinkel in Denton, Texas, se kluis toegesluit. Die kluis was op uitstalling en dis onseker hoe sy binne-in beland het.

Klante het hul bes probeer om die kluis oop te maak, maar genadiglik was die brandweer weer byderhand om die nodige te doen.

September 2017

Drie kinders waarvan die jongste drie en die oudste vier jaar oud is, het in September vanjaar in ’n vuurwapenkluis in ’n huis in Detroit, Michigan, gaan wegkruip.

Praat van ongelukkige toeval! Die instruksies om die kluis oop te sluit asook die kode vir die kluis was saam met die drietal in die kluis toegesluit. . .

Dit het die brandwerdiens sowat 12 minute geneem om hulle met meganiese kake en elektriese sae te bevry.

Om die skok te help verwerk, het die brandweermanne hulle op ’n toer van die brandweerstasie trakteer.

Augustus 2015

’n Peuter is tydens die gesin se vakansie in Niagara Falls in ’n kluis toegesluit.

Die peuter se ouer sibbe het gedink dis ’n goeie wegkruipplek en die baba daarin gehelp. ’n Instandhoudingswerker het die ongelukkige peuter uit die kluis gered.

So byna-byna het die ouers in die sop by die polisie beland, maar gelukkig is dit uitsorteer en hulle van alle blaam onthef.

Desember 2008

Dié voorval het in Istanboel plaasgevind. Dit moes skrikwekkend gewees het om daardie geluide  en kaphoue in ’n beknopte spasie te hoor!


Bronne: deutsch.rt.com, tagesspiegel.de, bdtonline.com, globalnews.ca, foxnews.com, nbcdfw.com, news.sky.com