Milissa Geldenhuys (26), ’n haarstilis van Centurion, en haar twee kleuterdogters, Zaylee (3) en Zané (17 maande), het vroeër vandeesweek weer ’n tuiste van hul eie gekry nadat hulle alles in ’n verwoestende brand verloor het.

Milissa en haar twee dogtertjies, Zaylee (nou 3) e
Milissa en haar twee dogtertjies, Zaylee (nou 3) en Zane (nou 18 maande). Foto: Verskaf

“Ons het ’n hele huis gekry. Beddens, kombuisgoed, klere. Alles. ’n Ten volle gemeubeleerde huis,” sê Milissa in ongeloof. 

Sy en haar kinders woon nou in die gehuurde meenthuis met drie slaapkamers waarvoor ’n barmhartige Samaritaan ’n jaar vooruit betaal het. 

“Ek kan steeds nie glo ons bly verniet vir ’n jaar lank nie,” voeg Milissa by. 

Milissa se huis is nou ten volle gemeubileerd. Fot
Milissa se huis is nou ten volle gemeubeleerd. Foto: Verskaf
Milissa se huis is nou ten volle gemeubileerd. Fot
Milissa se huis is nou ten volle gemeubeleerd. Foto: Verskaf

Zaylee en Zané begin ook eersdaags met kleuterskool en ’n ander skenker het hul skoolgeld vir die jaar reeds gedek. 

Twee maande gelede het Milissa wakker geword toe vlamme hul sitkamer verswelg het. Hulle vermoed ’n kers wat aangesteek was tydens beurtkrag het die brand veroorsaak.

Sy het haar twee kinders gegryp en uit die huis probeer wegkom, maar het gesukkel om die veiligheidshek oop te kry.  

“Ek het gesukkel om die deur oop te sluit en toe brand ek erg aan my bene en rug,” vertel sy.

Dit terwyl sy vir haar twee dogtertjies met haar eie lyf geskerm en brandwonde opgedoen het.

Die ma het glo haar dogtertjies beskerm teen die v
Die ma het glo haar dogtertjies beskerm teen die vlamme. Foto: Verskaf

Milissa was daarna weke lank in die hospitaal en moes veloorplantings kry, maar genadiglik was albei haar kinders ongedeerd. 

“My wonde het nou al baie goed genees en elke tweede dag maak ons dit skoon en verander die verbande,” sê sy. 

Die gesin het nie eens ’n teelepel oorgehad ná die verwoestende brand nie, maar nadat kliënte van Milissa haar verhaal in die sosiale media gedeel het, het skenkings vir die gesin ingestroom. 

Elke dogtertjie het ook haar eie kamer. Foto: Vers
Elke kind het haar eie kamer. Foto: Verskaf
Al die meubels is geskenk. Foto: Verskaf
Al die meubels is geskenk. Foto: Verskaf

“Die kinders is so gelukkig. Hulle het hul eie kamers met mooi beddegoed en hulle speel so lekker met al die speelgoed. Hulle het soveel speelgoed gekry, dis net scootertjies en balle en poppe waar jy kyk,” vertel Milissa. 

Milissa het geen kombuisware oor gehad na die bran
Milissa het geen kombuisware oorgehad ná die brand nie. Dit is alles geskenk. Foto: Verskaf

Milissa moet versigtig wees vir brandwond-infeksies en is daarom nog nie weer op haar pos as haarstilis nie.

“Ek is nog vol verbande, maar ek vorder. Ek kry fisioterapie, want veral my arm het erg gebrand en die vel is styf,” vertel sy. 

Milissa sê die brand het haar geruk en sy kry berading om die trauma en angs van die nag van die vlammehel en die pyn van haar brandwonde te probeer verwerk.

“Die ongeluk het my oë oopgemaak en my laat besef hoeveel mense vir my omgee, maar ook dat soveel mense vir hul medemens omgee. Baie van die skenkings is van vreemdelinge.

Die kinders se kaste is vol klere wat geskenk is.
Die kinders se kaste is vol klere wat geskenk is. Foto: Verskaf

“Ons is so dankbaar. Ek weet nie wat ek sou doen sonder mense soos Jenny Coetzee, my baas, en Marda Janse van Rensburg nie. Hulle het ingespring en geld ingesamel toe ek in te veel pyn was om te beweeg,” sê Milissa.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe