In die afgelope byna drie dekades het hy en sy span weldoeners al ingespring en mense te midde van aardbewings, tsoenami’s, vloede en droogtes, oorlog en gyselaarsdramas gehelp. Maar die hulpverlening tydens die huidige covid-19-pandemie is soos geen vorige ramp nie, sê dr. Imtiaz Sooliman van die organisasie Gift of the Givers.

“Met iets soos ’n aardbewing kan jy sien waar daar gevaar vir jou span is. Hulle kan seerkry of selfs sterf terwyl hulle die puin deursoek. Maar jy kan nie die virus sien nie. Jy is nooit seker of iemand siek is nie, want hulle kan asimptomaties wees. Hulle kan weens die virus sterf of baie siek word.”

Maar nie eens dié onsigbare gevaar kan hom en sy 140 personeellede landwyd keer om tydens die coronaviruskrisis na mense in nood uit te reik nie. Nie net moet Suid-Afrikaners nou die virussiekte trotseer nie; weens die ekonomiese gevolge van die inperking het werkloosheid en hongersnood ook toenemend toegeslaan.

“Die mense se desperaatheid en verdriet is hartverskeurend,” sê Imtiaz (58). “Baie mense het honger kinders of ’n baba of iemand wat siek is. Talle het geen inkomste nie en gaan ná die inperking geen werk hê om na terug te gaan nie.”

In hierdie onseker tyd het hy stories van sy “mense op voetsoolvlak” gehoor wat hom aan die hart gegryp het. Soos oor ’n desperate ma op Peddie in die Oos-Kaap wat haar kinders met plante uit die veld aan die lewe probeer hou omdat hulle niks anders het om te eet nie. Ander ouers krap op ashope vir iets te ete rond, vertel Imtiaz vanuit sy kantoor in Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal aan Huisgenoot.

Van sy spanlede het met hul eie oë gesien hoe honger kinders konfyt- en grondboontjiebotterflesse uitlek wat hulle in asblikke gekry het.

“Daar is ’n verstommende aantal kinders wat kom na waar kospakkies uitgedeel word, kaalvoet en met min klere, selfs al is dit yskoud,” sê Imtiaz.

Gift of the Givers
Die hoofdoel van Gift of the Givers is om mense te help wat deur natuurlike rampe haweloos gelaat is. Tans fokus hulle op die gevolge van die covid-19-krisis.
Gift of the Givers
Gift of the Givers
Gift of the Givers

Hy het al 700 m lange toue van mense gesien wat staan en wag tot kort voor die tyd dat hulle volgens die aandklokreël by die huis moet wees. Ook mense uit die middel- en selfs die hoër klas reik uit om hulp.

“ ’n Senior bestuurder by ’n hotel het nou die dag gebel. Sy het vertel sy het ’n huis en ’n motor en vier kinders by ’n topskool. Sy moet nou haar huis verkoop. Sy het asseblief kospakkies nodig.

“Die laaste paar maande het boere gevra as ons kospakkies vir hul werkers bring, moet ons asseblief vir hulle en hul gesinne ook kos bring,” vertel Imtiaz oor hul hulpverlening in droogtegeteisterde gebiede, veral in die Oos-Kaap en dele van die Noord-Kaap.

Tot twee weke tevore was daar nog 8 000 e-posse in sy inboks wat om hulp vra. Hy moes vier ekstra mense aanstel om al die e-posse en oproepe te beantwoord. Oral klink dieselfde noodkreet op: “Ons is honger; ons het niks om te eet nie. Waar kan ons kos kry?” Hy klink verslae: “Dis onmoontlik om almal te help. Ek moes maar daarmee vrede maak.”

Vandat hy kan onthou, wou Imtiaz, ’n boorling van Potchefstroom in Noordwes, mense help; daarom het hy ’n dokter geword. Sy roeping om die wêreld te red het in 1991 begin toe hy saam met die Suid-Afrikaanse regering betrokke geraak het by ’n hulpverleningsprojek tydens die Golfoorlog. Tydens hul reis na die Midde-Ooste het ’n ontmoeting in Turkye met ’n geestelike leermeester, Mohammed Saffer Effendi al-Jerrahi, sy lewe verander.

“Hy het gesê: ‘My seun, ek vra jou nie; ek gee jou opdrag om met ’n organisasie te begin. Die naam sal Gift of the Givers wees. Jy sal alle mense van alle rasse, van alle godsdienste, van alle kleure, van alle kulture, van alle klasse dien. Jy sal hulle onvoorwaardelik dien. Jy sal niks in ruil aanvaar nie, nie eens ’n dankie nie.’ ”

Aanvanklik het hy die bedryfskoste van die organisasie self en met die hulp van familie gedra. In Junie 1994 het hy sy mediese praktyk laat vaar om net op Gift of the Givers te fokus. Die organisasie maak nou op skenkings staat. Vir Imtiaz, ’n pa van ses, kom sy gesin eerste, tensy hy aan ’n saak van lewe of dood werk.

“In die inperking sien hulle my meer by die huis, maar ek kan nie met hulle gesels nie, want ek is te besig.”

Hy werk immers tot 20 uur per dag.

By sy eerste vrou, Zohra, het hy vier dogters – Sumaya (35), wat ’n dieetkundige geword het nadat sy ondervoede kinders op haar reise saam met haar pa gesien het, Saffiya (32), wat haar eie gim bestuur, Saaleha (29), ’n dokter, en Samee’a (19), ’n kulkunstenaar en universiteitstudent in sielkunde – en ’n seun, Muhammad Rayhaan (29), ’n rekenaaringenieur wat in 2017 by Gift for the Givers aangesluit het. Hul ma, Zohra, is die medestigter van Gift of the Givers en die hoof van berading daar.

Imtiaz is nou met sy tweede vrou, Ayesha (41), getroud, ’n teatersuster wat sy mediese span met voorraadbeplanning help. By haar het hy ’n dogter, Rahmah (4).

Maar die mense na wie dié ruimhartige medikus en weldoener omsien en uitreik, strek ver verby die grense van sy huis en omgewing. Gift of the Givers, wat op 6 Augustus hul 28ste verjaardag vier, het al deur die jare hulp van R3,2 miljard in 44 lande verleen.

Agter Imtiaz in die reusepakhuis kom en gaan mense en goedere. Maar hy bly ’n onverstoorbare teenwoordigheid op die rekenaarskerm terwyl hy oor al Gift of the Givers se bedrywighede in die tyd van die covid-19-pandemie gesels.

“Ons verskaf persoonlike beskermende toerusting aan 180 gesondheidsfasiliteite hier in ons land. Dit sluit maskers, oorpakke, handskoene, reinigers, hoofbedekkings, skoenbedekkings en hazmatpakke in. Onlangs het ons herbruikbare chirurgiese pakke begin verskaf. Baie hospitale het eenvoudig nie voorraad nie. En ons gee ook termometers waaraan ’n mens nie hoef te raak nie.

“Die belangrikste gereedskap is die pols-oksimeter wat die hoeveelheid suurstof in ’n mens se bloed meet. Ons het 1 000 daarvan gekoop en aan hospitale uitgedeel. Ons het ook landwyd oor die 20 000 toetse vir die virus gedoen.”

Hy tel die feite en getalle op sy vingerpunte af. Hy weet duidelik presies wat in hierdie organisasie gebeur wat al jare lank lewens dwarsoor die wêreld red, maar veral dié van Suid-Afrikaners. Nie net deel hulle in die inperking kospakkies uit nie; hulle is steeds betrokke by droogtehulp, veral in die Oos-Kaap.

Dié innemende dokter is ook ’n gedugte onderhandelaar tydens gyselaarsdramas. In 2014 het hy die Suid-Afrikaner Yolande Korkie, wat in Jemen deur Al-Kaïda aangehou is, se vrylating bewerkstellig. Nog ’n Suid-Afrikaner, Stephen McGown, is in 2017 deur Gift of the Givers se toedoen uit Mali gered, waar hy ses jaar lank gevange gehou is. Imtiaz onderhandel steeds om Gert van Deventer, ’n Suid-Afrikaner wat in Libië ontvoer is, te bevry.

“Geen van ons ander projekte hou weens hierdie virus op nie,” benadruk hy. Net soos Gift of the Givers en hul stigter nog lank nadat die coronavirus hom uitgewoed het, sal voortgaan om te help waar daar ook al nood is. 

Die gewers se hulp – in syfers
  • 120 000 kospakkies is sedert die begin van die inperking deur Gift of the Givers in Suid-Afrika uitgedeel, en altesaam 40 000 in Zimbabwe, Malawi en Namibië.
  • Een kospakkie kan vyf mense 30 dae voed. In elkeen is 10 kg mieliemeel, 10 kg rys, 2 kg droë boontjies, 2 blikkies vis, 3 blikkies boontjies, grondboontjiebotter, spaghetti, noedels, sout, olie en sop.
  • Die organisasie ondersteun 100 voedingskemas wat tussen 800 en 1 200 mense per dag kos gee.
  • 400 boorgate is in droogte- geteisterde gebiede gesink.
  • 11 miljoen L water is in tenks op dorpe met ’n waterkrisis afgelewer.

Besoek hul webtuiste vir nog inligting.

FOTO'S: GALLO IMAGES/SUNDAY TIMES/THAPELO MOREBUDI, INSTAGRAM/@GIFT.OF.THE.GIVERS, FACEBOOK/@GIFTOFTHEGIVERS