Wanneer die nag op die vlakte van die Goudveld neerdaal en die besige mynstad Welkom stil word, is daar een inwoner wat wakker lê en treur. 

Dit is dan dat sy die meeste verlang na die klein lyfie wat snags langs haar opgekrul het. 

Vir Anna Engelbrecht (37) voel dit onwerklik dat haar Julie (5) so skielik en so wreed van haar weggeruk is die dag voor sy haar enigste kind die eerste keer in twee weke sou sien. 

“Daar is nou niks,” sê Anna verslae, die prentjie van ’n ma wat als verloor het.

Klein Juliana Gomes het by Theuns (39) en Elmarie (38) Lubbe van Allanridge in die Vrystaat gebly terwyl Anna in die hospitaal was toe ’n ondenkbare tragedie die Lubbe-gesin op 29 Maart tref. 

“Daar is nou niks,” sê Anna verslae, die prentjie van ’n ma wat als verloor het.

Terwyl Anna haar laaste aand in die Bloemcare-hospitaal in Bloemfontein deurgebring het nadat sy twee weke tevore met ’n stresverwante siekte gehospitaliseer is, was die Lubbes laataand van Riebeeckstad op pad terug na hul tuisdorp toe hul motor buite Odendaalsrus omslaan. 

Elmarie is op slag dood, maar Theuns kon hom en die kinders uit die wrak bevry.

Hy het in die donker rooi veiligheidsdriehoeke in die pad uitgepak, wagtend op hulp. 

Langs die pad het die kinders staan en bewe: die agtjarige Tristan, sy vierjarige sussie, Amory, en haar maatjie Julie. 

En toe kom ’n wit bakkie om die draai gejaag, swaai vir die wrak uit en ploeg in Theuns en die drie kinders vas. 

Toe die bakkie se bestuurder te voet in die donker wegvlug, was die toneel agter hom stil – sonder asem, sonder lewe. 

Ongeluk vrou Anna Engelbecht
Juliana Gomes. Foto: Verskaf

Sowat 160 km daarvandaan was die slapende Anna in haar hospitaalkamer onbewus van dié hartverskeurende feit: Sy sou haar donkerkoppie nooit weer lewend sien nie. 

Dit is minder as ’n week ná die ongeluk dat Anna met Huisgenoot se besoek by haar huis in Welkom nog die gebeure in haar gemoed probeer uitpluis. 

Sy het haar in die hospitaal laat opneem omdat sy haar eie traumatiese kinderlewe wou probeer verwerk – dit was ter wille van haar kind dat sy mediese hulp gekry het, sê sy. 

“Ek wou die beste mamma vir Julie wees,” ruk dit met ’n snik uit haar bors.

Juliana se pa was nie deel van haar lewe nie, en Anna het haar saam met haar lewensmaat grootgemaak.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Haar lewensmaat kon nie alleen na Julie omsien terwyl Anna in die hospitaal was nie, en een van Anna se kollegas het toe voorgestel dat die meisie vir dié tydjie by die Lubbes gaan bly.

Anna het saam met een van hul familielede by ’n skool vir gestremdes in Welkom as lid van die kombuispersoneel gewerk en geglo haar kind sou veilig wees.

“Hulle was goeie mense, en ons ken hulle al baie lank.”

Anna was opgewonde toe sy die Saterdagoggend uit die hospitaal ontslaan is; binnekort sou sy weer haar dogtertjie se arms om haar nek voel.

In die week vooraf het sy nie gerook nie en haar geld eerder gespaar om vir Juliana ’n geskenk in die hospitaal se winkel te koop.

Theuns Lubbe het die kinders uit die wrak van die
Theuns Lubbe het die kinders uit die wrak van die Chery gered. Foto: Facebook

“Sy was mal oor Barney. Daar is nie ’n episode van Barney wat sy nog nie gekyk het nie. Ek het haar belowe ek sal vir haar ’n speelgoed-Barney kry.” 

Op die oggend van haar ontslag het sy met dié pers dinosourus onder haar arm staan en wag op die bus na Welkom, terug na Julie toe. Die bus was laat, en die rit van ’n uur en ’n half het vir Anna soos ’n ewigheid gevoel. 

“Ek het nog beplan om die huis mooi skoon te maak en lekker te bad. Dan wou ek eetgoedjies kry vir ’n verwelkomingspartytjie. Maar niks kon my voorberei vir wat op my gewag het nie.” 

By die huis het haar lewensmaat, wat verkies om anoniem te bly, en van haar vriende en familie haar met bedroefde gesigte ingewag. Van Julie was daar geen teken nie.

Daar was ’n ongeluk, moes Anna hoor. Die Lubbes is dood. Julie ook. 

Sy vrou, Elmarie, is op slag dood, en hy en hul ki
Sy vrou, Elmarie, is op slag dood, en hy en hul kin­ders, Tristan en Amory, is daarna doodgery. Foto: Facebook

“Dit was asof iemand ’n venster oopgemaak het en al my geluk het daar uitgevlieg. Ek kon nie dink nie; ek kon nie praat nie,” sê Anna. Haar oë swem weer in die trane. 

“Ek het nog in die week met haar oor die telefoon gepraat toe ek die speelding koop en vir haar gesê: ‘Mamma het vir jou ’n groot verrassing.’ Sy wou net heeltyd weet wat dit is.”

Verslae voeg sy by: “Dit het baie geverg om nie die verrassing te verklap nie.” 

Sy dink terug aan die laaste kere toe sy oor die foon met Julie gesels het terwyl sy in die hospitaal was. 

Sy was vrolik; sy het so lekker met haar Lubbe-maats gespeel. Julie het na haar mamma verlang, maar het geweet sy kom terug. 

“Sy het gereeld vir my gesê hoe baie sy my mis en daarna uitsien om my weer te sien.” 

Daar was ’n ongeluk, moes Anna hoor. Die Lubbes is dood. Julie ook.

Om nou nie meer die vyfjarige se gelag in die gange van hul huis te hoor nie is vir Anna hartverskeurend. Die huis is stil en leeg. 

“Wanneer ek haar soggens by die kleuterskool gaan aflaai het, het sy daai lippies van haar styf getrek, my ’n piksoen gegee en gesê: ‘Baai-baai, mammie!’ Dan het sy met haar Frozen-rugsakkie in die skooltjie ingehardloop. 

“Saans voor slaaptyd moes ons eers Beauty and the Beast lees en ’n storieboek oor ’n monster wat kouse opeet. Sy was mal daaroor. “Dan moes sy eers ’n gebedjie opsê, gevolg deur haar rympie.” 

Anna sluit haar oë en glimlag asof sy haar kind se stem die rympie kan hoor sê: Nighty-night / don’t let the bedbugs bite / and if they do / take a shoe / and hit their boudjies blue. 

Op die tafel voor ons pak Anna al haar lieflingkind se speelgoed, klere en aandenkings uit. Sy het dit sedert Juliana se geboorte bymekaargemaak. 

Juliana het baie daarna uitgesien om haar ma weer
Juliana het baie daarna uitgesien om haar ma weer te sien nadat sy twee weke lank by die Lubbes deurgebring het. Foto: Verskaf

In ’n plastieksakkie is van Julie se hare. “Dit was haar eerste haarsny,” sê Anna en vryf die lokkies tussen haar duim en wysvinger. 

Dan wys sy na nog aandenkings: haar doopskoene, eerste denimtekkies, die teelepeltjie waarmee haar ma haar as baba gevoer het. 

Haar eerste Moedersdaggeskenk aan Anna, ’n kaartjie met ’n hartjie op. “Ek het alles gehou.” Dit is asof die herinnerings aan haar enigste kind oor Anna spoel. 

Sy bring ’n houtkissie te voorskyn waarop skape geverf is. Terwyl sy in die hospitaal was, het sy dit vir Julie se speelgoed gemaak. 

“Ek het skape gekies omdat hul wol so sag en fyn soos sy is.” Anna sê sy wil na die ongelukstoneel gaan en daar ’n kruisie vir Juliana plant. 

"Ek dink nie ek sal ooit die hoofstuk kan toemaak nie"

“Ek dink nie ek sal ooit die hoofstuk kan toemaak nie. Dit is ’n stuk van my wat net weg is.”

Sy wys na ’n tatoe op haar regterskouer van ’n engeltjie wat sy gekry het ná Juliana se geboorte. 

“My ouma was ’n belangrike moederfiguur vir my. Toe sy dood is, het ek gebid die Here moet vir my ’n engel stuur. Toe stuur hy Julie. Nou is sy die mooiste engel in die hemel.” 

Sy sluit weer haar oë asof sy haar dogtertjie in haar geestesoog kan sien. “Mamma gaan jou so baie mis. Ek is jammer ek moes jou laat gaan.”