Hulle sit op die rusbank in die wagkamer van die nierafdeling van die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg: ma en dogter.

Met die eerste blik sou jy nooit kon raai wie nou eintlik die pasiënt is nie. Larochelle Steenberg (13) se vingers vlieg oor haar selfoonskerm terwyl sy met maats klets.

Ek is nou gesond. Dit alles het my sterker gemaak
Lisa Steenberg

Langs haar sit haar ma, Lisa. Nie lank gelede nie was hulle saam hier op die operasietafel vir ’n besonderse liefdesdaad: Lisa (31) se gesonde nier is in haar dogter oorgeplant.

Boonop moes Lisa voor die operasie 60 kg afskud, want hoe meer sy weeg, hoe harder sal die oorblywende nier moet werk om haar liggaam skoon te hou en dit verhoog die gevaar van hoë bloeddruk.

Met Huisgenoot se besoek drie maande gelede was Larochelle baie siek weens die niertoestand wat haar gestel afgetakel het.

Met 0%-nierfunksie was sy chronies moeg en het sy haar dae tuis in Welkom omgeslaap.

In Mei het die tiener weens medikasie in ’n koma verval en moes die operasie uitgestel word. Foto: Verskaf

Wanneer sy wakker was, het sy kwaai pyn verduur. Sy moes vyf keer per dag tuis dialise ondergaan. Maar toe kom daardie lewensveranderende operasie op 18 Oktober. 

Het Larochelle pyn gehad ná die operasie? wil ons weet. Haar goue poniestert swaai energiek soos sy haar kop skud. “Ek is nou gesond. Dit alles het my sterker gemaak.”

Dan voeg sy parmantig by: “Dis lekker om te kan piepie!” En hoe gaan dit nou met Lisa? “Ek voel nog sleg. My liggaam raak nog gewoond aan net een nier,” sê die tuisbly-ma.

“Maar as ek kon, sou ek dit alles weer doen; dis deur en deur die moeite werd.”

Dis kompleet asof ma en dogter ná die oorplanting rolle omgeruil het. Met ons aankoms by die hospitaal is dit Larochelle wat ons met ’n wip in haar stap by die ingang ontmoet en begelei na die wagkamer, waar Lisa ooglopend moeg saam met haar man, Donald Plekker (38), ’n dieselwerktuigkundige, wag.

Die tiener moet nou aan so min moontlik kieme blootgestel word. Donald Plekker sê hy het 2 kg afgeskud soos hy tussen sy vrou en dogter se sale gedraf het. Foto: Papi Morake

Die gesin is vandag weer by die hospitaal vir een van Larochelle se opvolgondersoeke. Voor die operasie het Larochelle aan die slaap geraak terwyl ons met haar gepraat het.

“Deesdae maak sy ons douvoordag met koffie wakker,” sê Lisa trots. Lisa het nog seer nadat haar nier verwyder is. “Ek moet dinge nou stadig vat en mag nie weer gewig aansit nie. Ek moet hierdie nier mooi oppas; as hy te swaar trek, moet ek ook eendag dialise kry,” verduidelik sy.

’n Chroniese niersiekte is in 2015 by Larochelle gediagnoseer. Lisa het toe besluit om vir haar ’n nier te skenk aangesien hulle dieselfde bloedgroep het.

Maar behalwe dat Lisa eers ’n dieet moes volg om ’n gesonder gewig te bereik, is die oorplanting twee keer uitgestel. Eers het Larochelle in ’n koma verval, waarna sy moes aansterk.

Lisa moes heelwat verslank voor die oorplanting gedoen kon word omdat haar liggaam voortaan met net een nier sal moet klaarkom. Foto: Verskaf
Lisa toe sy 60 kg verloor het. Foto: Verskaf

Dit het gebeur nadat sy siek geword het weens ’n voor- geskrewe spierverslapper vir rustelose bene. Sy was vier dae in ’n koma.

En kort voor die tweede geskeduleerde operasiedatum het Lisa geval en in haar boudweefsel ’n abses ontwikkel wat moes genees.

Oor die twee moeilike jare voor die oorplanting sê Lisa: “Ek wens dit nie eens ’n aartsvyand toe nie.”  Dit was onwerklik toe hulle eindelik saam opgeneem en vir die oorplanting voorberei is.

“Ek het so half verwag dit gaan weer uitgestel word,” vertel Lisa. Ma en dogter is in aparte sale opgeneem en het mekaar die aand voor die operasie gegroet, min wetend dat hulle mekaar die volgende oggend vlugtig in die gang buite die teater sou sien voor narkose toegedien is. “Dit was ’n ongelooflike oomblik,” vertel Lisa.

Sy het uit haar bed gespring om haar dogter te soen en te druk. “Baie dankie vir die beste Kersgeskenk ooit,” het die verswakte Larochelle gesê. Toe huil albei. “Ek was baie bang,” vertel Lisa.

Larochelle sê sy was nie bang nie. “Ek het geweet die operasie sal my gesond maak.”

Die tiener was ongeveer ’n maand in die hospitaal en het vier prosedures ondergaan: Die eerste was die inplanting van Lisa se nier, die tweede om die orgaan en haar blaas tydelik met ’n pyp te verbind en die derde om die pyp te verwyder. Laastens is die pyp waarmee haar dialise gedoen is, verwyder.

“Om twee pasiënte gelyk in een hospitaal te hê is nie grappies nie,” sê Donald en lag. “Hul sale was 600 m van mekaar af.” Hy vertel hy het 2 kg afgeskud soos hy tussen Larochelle en Lisa rondgehardloop het.

Lisa is sowat vier dae ná die oorplanting ontslaan. Toe haar dogter op 13 November hoor sy kan ook huis toe gaan, was sy in die wolke. “Ek het nog nooit ’n kind so vinnig sien pak nie,” skerts Lisa. Terug by die huis het Lisa ingedagte ’n dialisesak vir haar dogter begin regkry toe Donald vra: “Wat maak jy nou?”

Ek wil ook see toe gaan. Ek was nog nooit by die see nie
Larochelle

Dis toe dat die gesin besef hul lewe het werklik ten goede verander. Op Larochelle se eerste dag tuis het sy en haar suster, Nicole (11), heeldag gespeel en gelag, soos in die dae voor haar siekte.

“Dit maak my hart so bly,” sê Lisa. “Dis vreeslik lekker om weer spelende kinders in die huis te hê,” sê Donald. En vir die eerste keer in jare eet Larochelle weer met ywer. Piesangslaai met mayonnaise en kondensmelk was die eerste ding wat sy gevra het.

Die aand ná hul terugkeer huis toe het die gesin gebraai, en natuurlik was daar weer lekker piesangslaai. Voorheen sou haar siek niere nie souterige en olierige kosse kon verwerk nie en kon sy feitlik net water drink.

“Nou mag ek alles eet,” sê Larochelle. Sy moet net gaskoeldrank vermy. “Ek moet ook baie suiwelprodukte inneem en 2 L water per dag drink,” vertel sy.

Voor die operasie was sy tot 250 ml water per dag beperk. Sy glimlag breed toe haar ma die woord sjokolade sê. Voorheen was dit verbode, maar nie meer nie.

“Ek hou ook baie van gegeurde melkies en Simba- tjips, veral die sout-en-asyn,” vertel sy met ’n stout glimlag. “Ons probeer ander geure koop; die sout-en-asyn jaag haar bloeddruk op,” sê Lisa kamma-kwaai.

Larochelle sê haar Nuwejaarswens is om ver weg te bly van hospitale. Sy sal egter vir die volgende halfjaar ’n weeklikse bloedtoets ondergaan om haar nuwe nier te monitor.

By die oorplantingspan. Van links staan Ntsoaki Madumo, Lisa, Donald, Larochelle, Nancy Mkoe, Anja ­Meyer en dr. Markus Schamm. Foto: Papi Morake

“Ons bid hard dat haar liggaam my nier sal aanvaar; ons glo dit,” vertel Lisa. Larochelle gaan vir die res van haar lewe immuunonderdrukkers moet drink sodat haar liggaam nie die nier verwerp nie.

Sy droom ook daarvan om weer skool by te woon, maar dit kan eers oor vyf maande gebeur.

“Ek mag nie eens winkelsentrum toe gaan nie,” kla sy. Sy moet nog vyf maande lank openbare plekke vermy weens die hoë risiko vir kieme. Kitskos is om dieselfde rede taboe.

Intussen neem sy medikasie om haar immuunstelsel te versterk, bloeddrukpille en antibiotikum. Haar ouers het beloof om haar na die Gold Reef City-pretpark in die suide van Johannesburg te neem sodra sy volkome aangesterk het.

“Ek wil op iets lekkers ry. Ek wil ook see toe gaan. Ek was nog nooit by die see nie. As ek heeltemal gesond is, kan ons dalk in April gaan,” sê Larochelle.

Oor hul feestydplanne wil die twee volwassenes niks verklap nie, maar wys agter Larochelle se rug dit gaan ’n groot verrassing wees. Hul dogter wil ’n boek oor haar lewe en die oorplanting skryf.

“Sussie skryf elke dag in haar dagboek hoe haar dag was,” vertel Lisa.

Toe ons groet, sê Larochelle: “Dankie aan almal wat so hard vir my gebid het. Sonder jul gebede was dit nie moontlik nie. En dankie, Liewe Jesus, dat U my gesond gemaak het.”

Op pad uit stap ons verby ’n muur van foto’s: Dis nierskenkers en hul ontvangers. En daar, weer langs mekaar, pryk Larochelle en Lisa se foto’s.