Drama, verrassings en ’n topvier wat kykers én beroepswedders verbaas het – vanjaar se opwindende Wêreldbekersokkertoernooi in Rusland het ons voor die kassie vasgenael gehou.

Spanne wat na verwagting goed sou vaar, is vroeg uitgeskakel. Topspanne soos Brasilië, Spanje en Duitsland moes druipstert huiswaarts, terwyl niemand sou kon voorspel wie die halfeindrondes sou haal nie.

Ons kyk na die grootste oomblikke wat ons van 2018 se aksiebelaaide Fifa-Wêreldbekertoernooi sal onthou.

VLOEK VAN DIE KAMPIOENE

’n Mens sou dink as die Wêreldbeker op jou kaggelrak pryk, het jy ’n goeie kans om ook die volgende toernooi te wen of darem die eindstryd te haal. Maar 2014 se kampioen, Duitsland, is vernederend vroeg uitgeskakel – en dit was nie die eerste keer dat so iets gebeur nie.

Duitsland is die derde wenspan wat die volgende Wêreldbeker vroeg verlaat. Sal vanjaar se wenner ook die slagoffer van dié vloek word? Ons sal eers in 2022 in Katar weet . . .

Italië 2006

Italië het die titel in 2006 in Duitsland gewen, maar is tydens die toernooi in 2010 in Suid-Afrika in ’n kragmeting teen Slowakye in die Groep F-fase uitgeskakel.

Italië: 2006

Spanje 2010

In 2010 het Spanje eindelik die beker omhoog gehou, maar vier jaar later is die Spanjaarde stert tussen die bene uit Brasilië weg nadat hulle twee keer in die groepfase geklop is.

Spanje in 2010

Hulle het ’n pak slae van 5-1 teen Nederland verduur en toe ’n nederlaag van 2-0 teen Chile gely.

Duitsland 2014

Die Duitsers het Argentinië in Rio de Janeiro met 1-0 geklop om die 2014-titel te wen, die vierde keer dat hulle koning kraai in dié toernooi.

Duitsland in 2014

Net vier jaar later het die wenspan hul aanhangers tydens die groepfase in Rusland verstom met ’n skokkende nederlaag van 2-0 teen Suid-Korea.

AFRIGTER-KATASTROFES

Julen Lopetegui 

Pas twee dae voor die begin van vanjaar se toernooi is Spanje se bestuurder, Julen Lopetegui, in die pad gesteek nadat sy agterbakse onderhandelings om die La Liga-kragspan Real Madrid se afrigter te word, op die lappe gekom het. 

Die Spaanse federasie se president, Luis Rubiales, het gesê hy kon nie aanvaar ’n werknemer van die Koninklike Spaanse Sokkerfederasie het oor sy volgende pos onderhandel sonder om sy werkgewer in kennis te stel nie.

Julen is met die sokkerdirekteur Fernando Hierro vervang en vir die Iberiese span het die sokkerskouspel voortgegaan – op ’n manier.

Julen Lopetegui

Die gasheerland, Rusland, het Spanje, een van die toernooi se groot aanspraakmakers, in die kwarteindstryd uitgeskakel.  Daar is omtrent blaam uitgedeel in die nadraai van die span se vertrek. 

La Liga se president, Javier Tebas, het  uitgevaar dat Luis se afdanking van Julen ondeurdag was. “(Dit) was ’n baie hartseer dag vir Spaanse sokker, vir die verwagtings wat ons gekoester het en wat ons almal geglo het die peil van die span was,” het Javier gesê.

“’n Mens weet nooit of die besluit of Lopetegui moes voortgaan ’n invloed gehad het nie. Maar dit is nie opportunisties om te sê dit is sonder veel nadenke geneem nie.” 

Jorge Sampaoli

Dis sagkens gestel om te sê die Argentyne het swaargekry. Die rigtinglose span het tekort geskiet met 1-1 teen Ysland en ’n vernederende nederlaag van 3-0 teen Kroasië.

Luidens berigte het die verleë span – wat swaargewigte soos Lionel Messi en Sergio Aguero ingesluit het – toe alle vertroue verloor in hul bestuurder, Jorge Sampaoli, en hul eie spanhoof vir hul kragmeting teen Nigerië gekies.

Jorge Sampaoli

Hulle het die laaste Afrikaspan in die toernooi met 2-0 uitgeskakel, maar hul stryd teen Frankryk sou die Suid-Amerikaners se hoop verydel. Hulle is met ’n verpletterende 3-4 teen Frankryk uitgeskakel.

Nou hang Jorge se toekoms in die weegskaal – en die Argentynse legende Diego Maradona het selfs vriendelik aangebied om hom gratis te vervang.

VUIL SKOONSPEL?

Senegal het in vanjaar se toernooi geskiedenis gemaak, maar dit is nie iets waarmee hulle ingenome is nie. Dié Afrikaspan is die eerste wat weens die skoonspelreël uit ’n Wêreldbeker geskakel word, danksy die uitslae van ’n wedstryd waarin hulle nie eens gespeel het nie.

Ingevolge die skoonspelstelsel verloor ’n span een punt vir elke geel kaart wat hulle kry.

Die Groep H-spanne Japan en Senegal was gelykop wat punte, doele en doelverskil betref, maar vanweë Japan se nederlaag van 0-1 teen die reeds uitgeskakelde Pole was die Samurai Blues die span wat tot die volgende fase gevorder het.

Die Japannese span het sommer tydens die wedstryd ophou speel en die bal rustig vir mekaar aangegee in die wete dat selfs ’n nederlaag teen Pole sou beteken hulle dring deur vanweë die nuwe gelykopreël. 

Met die nuwe stelsel kos ’n geel kaart ’n span een punt op die telbord, ’n onregstreekse rooi kaart drie punte en ’n regstreekse rooi kaart vier. Japan het drie geel kaarte gehad en Senegal vyf; daarom het die Afrikaspan die trekpas gekry.

DIE OOG WAT ALS VAN ELDERS DOPHOU

Dit is een van die jongste tegnologiese innovasies wat op die sokkerveld ingespan word, maar video-assistentskeidsregters (VAS) laat baie ondersteuners koud. Beamptes wat volledig uitgerus is asof hulle plaasvervangerskeidsregters is, kyk elke wedstryd vanaf ’n plek (nie die stadion nie) in die gasheerland.

Hulle het toegang tot al 33 kameras in die stadion en kan elke beweging op die veld vaslê en in stadige aksie terugspeel. Dié stelsel, wat in Rusland vir die eerste keer in ’n internasionale toernooi gebruik word, is veronderstel om net as raadgewend beskou te word.

Om so min moontlik ontwrigting te veroorsaak, word dit net geraadpleeg wanneer die beamptes ’n “duidelike en ooglopende fout” in ’n uitspraak oor doele, strafskoppe of rooi kaarte gemaak of die verkeerde speler afgestuur het. 

Volgens Pierluigi Collina, voorsitter van die skeidsregterskomitee, het ’n hersiening van beeldmateriaal ná wedstryde getoon skeidsregters het 95% van voorvalle reg beoordeel, maar met VAS het hul akkuraatheid tot 99,3% verbeter. Maar almal is nie ewe erg daaroor nie. As dit nie vir VAS was nie, is Duitsland dalk nooit uitgeskakel nie.

Duitse aanhangers was verlig toe Kim Young-gwon se doelskop as ver onkant beoordeel is, maar VAS het getoon die bal het van Toni Kroos se bene af gekom. Die doel is aan Suid-Korea toegeken en daarmee is Duitsland se Wêreldbekerdroom verpletter. 

Maar in ’n vroeëre wedstryd tussen Engeland en Tunisië was aanhangers dronkgeslaan toe die skeidsregter én VAS blykbaar twee ernstige oortredings miskyk.

EKSTREME AANHANGERS

Ware liefde

Sokkerkoors het Rusland behoorlik beetgepak en die toernooi se opwindendste oomblikke het die hele gasheerland tot stilstand gebring. Selfs belangrike lewensgebeurtenisse, soos ’n troue, moes soms tweede viool teen sokker speel.

Die Russiese paartjie Jekaterina en Dmitri Wasiljef het hul plegtigheid halfpad gestaak sodat gaste om ’n selfoon kon saamdrom om Rusland met Spanje te sien kragte meet. Dit was darem ’n naelbytwedstryd wat op ’n dramatiese doelstryd uitgeloop het.

Gelukkig het die gaste baie gehad om te vier nadat hul span ’n oorwinnig van 4–3 oor Spanje behaal en tot die kwarteindronde deurgedring het. Die verheugde bruidegom het dit “die allerbeste geskenk” genoem. 

Met gelyke munt

Daar is ’n fyn onderskeid tussen vertroue en arrogansie – en die Engelse ondersteuner Jamie Richardson het dit dalk dwaas oorgesteek. Die toegewyde aanhanger was so seker sy span sou die trofee huis toe bring, hy het dit permanent aan sy vel laat tatoeëer.

Ná Engeland se asemrowende oorwinning van 6-1 teen Panama in die groepfase het Jamie “England 2018 World Cup Winners” op sy maag laat aanbring. 

ONTVOERING

Enkele ure voor Nigerië se uitspeelwedstryd teen Argentinië tydens die groepfase het die kaptein, John Obi Mikel, ’n ontstellende oproep gekry.

Sy pa, Pa Michael Obi, is ontvoer – en die ontvoerders eis ’n losprys van R375 000. Hulle het gedreig om sy pa “dadelik” te vermoor as Obi die owerheid in kennis stel. Toe bly hy stil en vertel nie eens sy afrigter nie.

“Ek was verward. Ek het nie geweet wat om te doen nie, maar op die ou end het ek geweet ek kon nie 180 miljoen Nigeriërs in die steek laat nie,” het hy van die wedstryd gesê, wat Nigerië toe met 2-1 verloor het.

Gelukkig is sy pa gered deur die polisie “wat op intelligensie-inligting gereageer het”, het die woordvoerder van die Enugu- staatspolisiekommandement agterna gesê.  Hy is hospitaal toe gehaas vir “noodbehandeling weens die marteling wat hy aan die hand van sy ontvoerders verduur het”, het die sokkerspeler gesê.

GOEIE MANIERE

Japan is weliswaar uitgeskakel nadat België hulle met 3-2 geklop het, maar hulle het ’n blywende indruk gelaat as die bes gemanierde span van 2018 se toernooi.

Al was hulle verpletter oor hul nederlaag het die span self hul aantrekkamer opgeruim – en selfs ’n dankie-sê- briefie agtergelaat.

Japannese aanhangers het ook strykdeur die toernooi so opgetree en ná elkeen van hul span se vier wedstryde hul paviljoene in die stadions skoongemaak.

ROLMODELLE

Een van die Wêreldbeker se jongste spelers stel ’n voorbeeld. Die Franse voorspeler Kylian Mbappe (19) het al sy verdienste uit die toernooi aan die Premiers de Cordée-vereniging geskenk.

Dié liefdadigheidsorganisasie reël sportaktiwiteite vir kinders met gestremdhede. Die jong ster verdien sowat R270 000 per wedstryd, bonusse uitgesluit. Hy meen spelers behoort nie vergoed te word om vir hul land te speel nie en die meeste sokkerspelers het genoeg rykdom om hul wedstrydfooi prys te gee.

Die Brasiliaanse blits Thiago Silva het ’n skitterende vertoning in vanjaar se toernooi gelewer – en hy is gelukkig dat hy 2018 kon haal. In 2005 het die verdediger na Rusland verhuis toe hy van Porto se B-span geleen is om vir Dynamo Moscow te speel.

Daar het hy ’n ernstige soort tuberkulose opgedoen. Die speler, wat toe 20 was, het vyf maande in die hospitaal om sy lewe geveg.

“Ek was verslae toe ek hom sien,” het sy afrigter, Ivo Wortmann, aan die sportwebtuiste Bleacher Report gesê.

“Eendag het die dokters vir my gesê Thiago het ’n gat in sy long en moet geopereer word. Daar was ’n werklike sterfrisiko. Hulle het my gewaarsku hy sou nie weer kon speel nie. Dit sou die einde van sy loopbaan gewees het.”

Genadiglik het die kaptein van Paris Saint- Germain teen alle verwag- ting in oorleef en kon hy weer vir Rusland uitdraf. 

KAMMA-RADE

Neymar jr.

Hy is bekend vir sy flinke voetkuns, maar sy toneelspel kort slypwerk. Of dalk herstel Neymar net ongewoon vinnig van pynlike beserings. Die Brasiliaanse voorspeler (26) het dikwels op die gras lê en kreun van die pyn – en oomblikke later opgespring.

Neymar

Toe die Brasiliaan in die groepfase teen Serwië speel, het hy ’n pragtige bollemakiesie grond toe uitgevoer nadat hy met ’n ander speler kontak gemaak het. Hy het die spel minute lank vertraag voor hy mooitjies opgestaan het.

Toe die Paris Saint-Germain-ster Costa Rica aanvat, het hy ’n strafskop probeer wen deur agteroor te val nadat een van die verdedigers liggies aan hom geraak het.

“Sy vermoë is nie te betwyfel nie,” sê die voormalige Engelse doelskieter Alan Shearer van die Brasiliaanse grootmeneer, “maar dit is pateties wanneer hy rondrol en kwansuis kreun van die pyn.”

Pepe 

Portugal se verdediger Pepe kan by Neymar kers vashou. Hy het sy akteursvernuf tydens Portugal se groepfasewedstryd teen Marokko getoon. Twee tikkies op die skouer deur die Marokkaanse verdediger Medhi Benatia was al wat nodig was om Pepe te laat inmekaarsak en vuil spel skree. Sy manewales het hom heelwat kritiek op die hals gehaal.

Flitsfeite oor 2018 se toernooi*
  • Wedstryde gespeel: 64  
  • Soveel lande het deelgeneem: 32
  • Soveel spelers het gespeel: 736 
  • Toeskouers in die stadions: 5 m. 
  • Die buitelandse aanvraag na kaartjies: 49% van totale verkope 
  • In soveel stadions is gespeel: 12
  • Die koste van bouwerk en voorbereiding om die toernooi in Rusland aan te bied: R162 mjd. 
  • Die verwagte opbrengs vir Fifa uit vanjaar se toernooi (25% meer as uit 2014 se toernooi): R82 mjd.
  • Soveel spelers in die kwarteindronde was al in ’n WB-10 eindronde: 0
  • Soveel spelers in vanjaar se toernooi was ook in Brasilië 2014: 186
  • Die getal amptelike WB-borge: 5 (Budweiser, Hi­sense, McDonald’s, Vivo Tele­communications, Mengniu – ’n Chinse suiwelmaatskappy)
  • In soveel tydsones is wedstryde vanjaar gespeel: 4
  • Geraamde getal worsbroodjies wat tydens die toernooi verkoop is: 1,62 m.
  • Soveel kreef is van China na Rusland ingevoer om Chinese toeskouers tevrede te hou: 100 000
  • Op soveel dae is nie gespeel nie: 7
  • Rusland se gemiddelde Julie-temperatuur: 25 grade Celsius 

* Alle statistiek was korrek teen druktyd, voor die halfeindrondes.

BRONNE: FIFA.COM, CNBC.COM, THESUN.CO.UK, MIRROR.CO.UK, EURONEWS.COM, WORLDSOCCER.COM, DAILYMAIL.CO.UK, WASHINGTONPOST.COM