Hulle noem hom die man met drie gesigte. Jérôme Hamon, ’n 43-jarige Fransman wie se eie gesig weens ’n seldsame oorerflike siekte vermink is, is die eerste mens ter wêreld wat twee keer ’n nuwe gesig gekry het.

Hy het in Januarie vanjaar ’n tweede gesigsoorplanting ondergaan nadat sy liggaam sy vorige oorgeplante gesig – dié van ’n 60-jarige skenker – verwerp het.

Hierdie keer was die skenker ’n 22-jarige met ’n veel gladder vel.

Dit is dié dat Jérôme verlede maand op sy eerste mediakonferensie sedert die operasie gespot het: “Ek is 43 en nou is ek byna 22 jaar jonger.”

Al het hy sy humorsin behou, was sy tweede gesigsoorplanting geen grap nie.

Dis soos om ’n kernoorlog te oorleef, het prof. Laurent Lantieri, ’n Franse spesialis in hand- en gesigsoorplanting, van dié pynlike en uitgerekte prosedure gesê.

Verlede November moes sy eerste oorgeplante gesig soos in die fliek Face/Off heeltemal verwyder word nadat sy liggaam dit chronies verwerp het.

Hierdie skenkergesig is in 2010 op hom oorgeplant omdat die siekte neurofibromatose sy eie gesig so erg misvorm het dat dit ’n monsteragtige voorkoms gekry het.

Dié toestand word gekenmerk deur gewasse wat in die senuweefsel ontwikkel.

Vyf jaar lank het Jérôme gelukkig met sy tweede gesig saamgeleef tot ’n verkoue sy immuunstelsel geknou het.

1. Voor oorplanting, 2. 1ste Oorplanting, 3. 2de Oorplanting Foto; Gallo Images/AFP

Teen 2016 het sy oorgeplante gesig plek-plek gevoelloos geword en begin verkleur – tekens dat sy liggaam dit verwerp. Verlede Oktober het dokters hom weer op Frankryk se nasionale waglys vir ’n nuwe gesig geplaas.

Die volgende maand is sy oorgeplante gesig verwyder voor die res van sy weefsel ook kon afsterf.

Vir meer as twee maande daarna moes Jérôme in afsondering sonder ’n gesig in die Georges Pompidou-hospitaal in Parys op ’n nuwe skenkergesig lê en wag.

Dit was ’n tyd van pyn, dapperheid, eensaamheid en afsondering. Sonder gesigsvel om hom te beskerm moes die dokters daarteen waak dat hy infeksies opdoen.

Toegewikkel in verbande kon hy nie sien nie; sonder ore en lippe wat deel van die skenkergesig uitgemaak het, kon hy nie praat of hoor nie.

Hy was “ ’n wandelende dooie”, het Laurent, leier van die mediese span met albei Jérôme se gesigsoorplantings, aan Assosiated Press (AP) gesê.

In dié tyd is al sy bloed vervang in ’n prosedure om van die teenliggaampies te verwyder en verwerping ná die oorplanting te keer.

In Januarie kon hy eindelik ’n nuwe gesig kry.

Dit was die 40ste gesigsoorplanting ter wêreld, maar die eerste keer dat ’n pasiënt ’n tweede keer ’n nuwe gesig kry.

Ná ’n hersteltyd van agt weke is hy uit die hospitaal ontslaan. Op 13 April kon Jérôme eindelik weer verstaanbaar praat, die media toespreek en sy nuwe gesig vir die wêreld wys.

“Ek voel binne my baie goed. Ek kan nie wag om ontslae te raak hiervan (die pyn en gesig wat nog moet genees) nie.”

Sy gesig het nog die gladde voorkoms van dié van ’n pop, sonder enige beweging.

Dit sal hopelik mettertyd verander namate sy eie spiere, waarmee die gesig aan die skedel geheg is, sterker word en die bloedtoevoer daarna verbeter.

Dit sal ook help om sy ore en oë op dieselfde hoogte te kry.

Jérôme is opgewonde oor die toekoms wat hy met nog ’n nuwe gesig tegemoet kan gaan.

“As my liggaam die nuwe gesig ook verwerp het, sou dit verskriklik vir my gewees het.

Prof. Laurent Lantieri, ’n ­spesialis in gesigsoorplanting by die Georges Pompidou-hospitaal in Parys. Foto: Gallo Images/AFP

"Dis ’n kwessie van identiteit. Maar hier is ons nou; dis goed, dis ek,” het hy sy emosies probeer verwoord.

Met sy lippe wat nie kan beweeg nie en sy tong wat sleep, is dit vir hom moeilik om te praat. Hy kon darem sê: “By tye is ek uitgeput, maar alles in ag genome voel ek goed.”

Daarmee bring hy hoop vir talle mense wêreldwyd op waglyste vir ’n nuwe gesig.

Met “baie krag en ’n groot gees” het Jérôme dit alles verduur sonder om een keer te kla, het sy dokters aan Agence France-Presse gesê.

Hierdie operasie bewys die gesig kan soos enige orgaan oorgeplant en weer oorgeplant word, meen Laurent. Ander pasiënte sal klaarblyklik ook mettertyd ’n tweede gesigsoorplanting nodig kry.

Dokters weet nog nie hoe lank ’n gesigsoorplanting sal hou nie, het ’n plastiese chirurg, Bohdan Pomahac, van Harvard-universiteit aan AP gesê.

Daar word voorspel ’n oorgeplante gesig kan ná 10 tot 15 jaar verwronge raak.

“Hoe meer ons sien wat met pasiënte gebeur, hoe meer moet ons aanvaar chroniese verwerping is ’n werklikheid,” sê hy.

“Daarom sal ál meer skenkers van organe en ook gesigte nodig wees.”

Al is Suid-Afrika bekend vir sy baanbrekerswerk met hart- en ook penisoorplantings, word gesigsoorplantings nog nie hier uitgevoer nie; daarom kan voornemende skenkers nog nie spesifiseer of hulle ’n gesig wil skenk nie, sê Samantha Nicholls, direkteur van die Suid-Afrikaanse Orgaanskenkerstigting.

“Dis dalk iets waarna ons in die toekoms kan kyk.”

Ander ‘nuwe gesigte’ in die nuus

Die eerste gedeeltelike gesigsoorplanting is in 2005 in Amiens, Frankryk, op Isabelle Diniore (toe 38) uitgevoer.

Haar gesig is erg vermink toe haar hond haar ná ’n selfdoodpoging aan die gesig gebyt het.

Sy het ’n nuwe neus, lippe en ken van ’n 47-jarige skenker gekry. Die oorplanting het vermoedelik haar lewe verkort.

Sy is 11 jaar later dood aan verskeie kankers wat vinniger versprei het weens haar immuunstelsel wat onderdruk is om verwerping van die skenkergesig te keer.

Voor
Na Foto: Gallo Images/Getty Images

Die 22 uur lange operasie in Desember 2008 op Connie Culp (toe 44) in die Cleveland-kliniek in Ohio, Amerika, was die vierde gesigsoorplanting ter wêreld en die mees uitgebreide een in daardie stadium.

Die grootste deel van haar gesig moes vervang word nadat haar man haar vyf jaar tevore geskiet en die haelgeweer haar neus, wangbene, verhemelte en ’n oog vergruis het.

Vyf maande later het Connie opgewonde vertel sy kan weer praat, glimlag, ruik en proe.

Voor Foto: Gallo Images/Getty Images
Na Foto: Gallo Images/Getty Images

Dallas Wiens (toe 27) is in 2008 blind gelaat en sy lippe, neus en wange het geskroei toe hy aan ’n hoogspanningsdraad geraak het terwyl hy ’n gebou geverf het.

In Maart 2011 het hy ’n nuwe gesig by die Brigham and Women’s-hospitaal in Boston, Amerika, gekry, maar sy sig kon nie herstel word nie.

Hy het vroeg verlede jaar liefde gevind by Jamie Nash, wat hy by ’n steungroep vir brandslagoffers ontmoet het.

Hulle is ’n paar maande later getroud in die hospitaal waar hulle behandel word.

Voor
Na Foto: Gallo Images/Getty Images

Charla Nash (toe 57) se hele gesig is in 2009 weggevreet toe ’n vriendin se mak sjimpansee, Travis, haar aangeval het.

In Mei 2011 is ’n gesigsoorplanting in die Brigham and Women’s-hospitaal in Boston op haar uitgevoer.

In ’n televisieonderhoud in 2016 het sy vertel dit lyk of haar liggaam die skenkergesig begin verwerp nadat haar dosis van die middels wat haar immuunstelsel onderdruk as deel van ’n studie verminder is, maar dokters monitor haar toestand.

Voor
Na Foto; Gallo Images/Getty Images

Die eerste volledige gesigsoorplanting is in Maart 2010 in Barcelona, Spanje, op ’n Spaanse boer, net bekend as Oscar (toe 31), uitgevoer.

Nadat hy homself vyf jaar tevore per ongeluk in die gesig geskiet het terwyl hy sy haelgeweer skoongemaak het, kon hy nie eet of normaal asemhaal nie.

Hy moes asemhaal deur ’n opening wat vir hom in sy lugpyp gemaak is tot hy ’n gesigsoorplanting kon ondergaan.

In dié operasie van ’n volle 24 uur het dokters die hele gesig van ’n skenker – insluitend die kakebeen, neus, wangbene, spiere, tande en ooglede – soos ’n masker op hom oorgeplant.

Sy liggaam het die skenkergesig twee keer verwerp, maar medikasie het dit eindelik gered.

Nou

Patrick Hardison (toe 42) was in 2015 die eerste pasiënt wat ’n nog omvattender gesigsoorplanting – met ’n kopvel en funksionerende ooglede – ontvang het.

Sy gesig is erg geskend toe hy in 2001 as ’n vrywillige brandslaner gewerk en ’n brandende gebou ineengestort het.

Daarna het 71 rekonstruksie-operasies gevolg en eindelik ’n gesigsoorplanting in die Universiteit van New York se Langone-sentrum.

“Die pad na herstel was moeilik,’’ sê hy, “maar ek sou dit weer doen.’’

Voor Foto: Gallo Images/AFP
Na Foto: Gallo Images/Getty Images

Bronne: BBC.com, Edition.CNN.com, The Gaurdian.com, News.com.au, Washingtonpost.com, Time.com, Medicalbrief.co.za, AP, AFP