Toe hy in sy skooldae met ’n skaatsplank skool toe is, het die ander kinders hom gespot.

“Dit was nie juis die koelste ding om te hê nie. Ek is geboelie,” vertel Jean-Marc Johannes.

Maar vandag lag die 27-jarige Kapenaar die laaste en die lekkerste nadat hy op sy skaatsplank na wêreldroem gery het. Nie net het hy in 2015 geskiedenis gemaak as die eerste Suid-Afrikaner wat ’n goue medalje in ’n internasionale skaatsplankkompetisie wen nie; hy spog ook met ’n Guinness-wêreldrekord.

Sy jongste prestasie was toe hy in November by die Fise-wêreldkompetisie in China weer op die podium klim, dié keer om ’n silwermedalje te ontvang. Maar wat besiel hom?

Hy probeer nie die mense om hom beïndruk nie; hy wil vir homself bewys waartoe hy alles in staat is. “Selfs al is ek nommer een, sal ek baklei asof ek nommer twee is.”

Jean-Marc, wat in Athlone, Kaapstad, grootgeword het, kom uit ’n sportiewe familie.

Hy het op 10 begin skaats met sy ma se ou skaatsplank.

“My pa was ’n sokkerspeler, my oupa het geboks en my ma was trouens self ’n skaatsplankryer,” sê hy. Hy het op 10 op ’n ou skaatsplank van sy ma geklim. ’n Jaar later het hy vir sy eerste skaatsplankkompetisie ingeskryf en dit gewen.

Daarna het hy in die een kompetisie ná die ander uitgeblink. Op 18 het Jean-Marc meer as 300 mededingers uitgestof toe hy die sesde plek in sy eerste internasionale kompetisie behaal. En in 2013 het hy ’n sprong tussen twee hemelhoë vraghouers in Kaapstad uitgevoer wat die wêreld se verbeelding sou aangryp.

“Die ouens van Fear Factor wou met die veiligheidsmaatreëls en toerusting kom help,” vertel Jean-Marc, maar hy het dit hoflik van die hand gewys. Hy het almal verstom toe hy slaag deur van een vraghouer na ’n ander te spring wat so hoog soos twee verdiepings staan en 2 m uit mekaar is.

’n Foto van hom in aksie tydens dié toertjie pryk nou in Frankryk se nasionale sportmuseum. Twee jaar later het hy vir die eerste keer vir die Fise-kompetisie in China ingeskryf. Al het hy die eerste plek in die amateurreeks behaal, het hy besluit om weer as amateur deel te neem.

Selfs al is ek nommer een, sal ek baklei asof ek nommer twee is.

“Ek wou aan myself bewys ek is waardig om professioneel deel te neem. Ek wou nie ’n beroepskaatser word bloot omdat daar vir my gesê is ek kan dit doen nie,” verduidelik hy. Hy het dié keer met ’n silwer medalje huis toe gekom, maar dit was nie genoeg vir die nederige oorpresteerder nie.

Hy het ook nou ’n Guiness-wêreldrekord agter sy naam – vir die meeste nollie-hakspronge per minuut. Hierdie toertjie behels dat die ryer ’n skopsprong vanaf die neus van die skaatsplank uitvoer. Verlede jaar het Jean-Marc die rekord van agt spronge binne 60 sekondes verbeter toe hy ’n volle 14 spronge uitvoer, en dit in net 46 sekondes!

Sy liefde vir dié sport strek verder as bloot medaljes en rekords.

Fill the Gap, ’n organisasie waarmee hy en sy meisie, Roxanne Morris (27), begin het, skenk gebruikte skaatsplanke en -toebehore aan kinders wat dit nie kan bekostig nie.

“Ons noem dit Fill the Gap, want ons doelwit is om kinders te help oor die gaping tussen hulle en skaatsplank ry,” sê die vlugvoetige kampioen met die sagte hart. 

Foto's: Ference Isaacs, Grant McLachlan