“Ons geyser het gebreek en ek het water op die stoof gekook en dit in die bad gegooi om myself te was. Denay en ’n maatjie het gespeel en geteken toe ek ’n handdoek gaan haal. Toe ek terugkom lê Denay in die water. Sy het nie gegil nie, niks,” vertel Myrtle aan Huisgenoot.com.

Klein Denay was etlike sekondes lank in die water en het weer begin asemhaal toe haar ma haar uithaal, maar sy was tjoepstil. 

“Ek dink sy het in skok ingegaan. Sy het nie eens gehuil nie.” 

Foto: Verskaf
Die 18 maande oue Denay kon loop en babbel voor die ongeluk
Foto: Verskaf
Die 18 maande oue Denay kon loop en babbel voor die ongeluk
Foto: Verskaf
Die 18 maande oue Denay kon loop en babbel voor die ongeluk

Myrtle en Denay se pa, Danlee Newmann (23), woon meer as 27 km van die naaste hospitaal. 

“Ek was alleen by die huis en kan nie bestuur nie. Ek het na die bure gehol toe neem ’n jong man ons hospitaal toe.”

Denay is na die Rooikruis-kinderhospitaal in Kaapstad geneem en daardie middag het sy die eerste van talle operasies ondergaan. 

“Sy kon nie op haar eie asemhaal nie en hulle moes die wonde skoonmaak,” vertel Myrtle. 

Foto: Verskaf
Die ouers Myrtle en Danlee is rasend van bekommernis oor hulle enigste kind

Denay het tweede- en derdegraadse brandwonde oor 40% van haar liggaam opgedoen, maar Myrtle sê dit voel of haar enigste kind se hele liggaam gebrand het. 

“Haar hele liggaam het verbrand, maar die ergste is haar arm. Die enigste plek wat nie gebrand het nie, is haar een voetjie, maar dié is ook nou geswel.” 

Myrtle, wie nou voltyds aan Denay se sy is, werk andersins by ’n sorgsentrum vir bejaardes.

Danlee doen bouwerk maar het nie tans ’n werk nie. 

“Ek slaap langs haar hier in die hospitaal op die stoel. Ek maak seker sy eet en alles. Sy sê geen woorde meer nie. Sy frons net en huil omdat sy nie langs my kan slaap nie,” sê Myrtle. 

Foto: Verskaf
Denay kan op haar eie asemhaal maar sy het nou infeksie gekry.

Dit is uiteraard ook vir Myrtle ’n emosionele tyd.

“Alles wat gebeur het, speel oor en oor in my kop af. Almal vra dieselfde vrae. Ek kyk na video’s op my foon van haar wat praat en sy kan nie nou loop nie . . . Sy moet alles weer leer.”

Boonop is hulle ver van hul huis af weg. 

Dit lyk of Denay net veloorplantings op haar een arm moet kry, maar dokters is baie bekommerd omdat sy ’n infeksie in haar brandwonde opgedoen het. Sy het ’n suurstofpypie in haar neus omdat sy nie genoeg suurstof kry nie, maar sy is van ’n ventilator af. 

Volgens Annerie Du Plooy van Hero Burn Foundation, ’n liefdadigheidsorganisasie wat Denay en ander brandslagoffers bystaan, was daar die afgelope paar maande ’n groot toename in kinders wat met warm water gebrand het. 

“Dit was ’n ongeluk en ongelukke gebeur. Mense moenie klippe gooi nie. So iets kan met die beste ouer daarbuite gebeur,” sê Annerie. 

Annerie stel voor jy tap eers koue water in voor jy dit met warm water opvul, dat geysers se temperatuur laag gestel is (50 grade in die somer) en dat ouers die badkamer se deur agter hulle toetrek wanneer hulle badwater intap.