Adèle Roode, ’n voormalige skoonheidsterapeut van
Adèle Roode, ’n voormalige skoonheidsterapeut van Kaapstad, verseg om te gaan lê ná ’n verwoestende motorfietsongeluk. Foto: Corrie Hansen

Ten spyte daarvan dat sy deesdae byna soos ’n ander mens is, kan jy nog die tekens sien van wie sy voorheen was. Al kan sy nie meer werk nie, herinner haar keurige grimering en die silwer blinkers op haar geelgrys trui aan die suksesvolle loopbaan as skoonheidsterapeut wat sy eens gehad het.

Al staan daar ’n rolstoel langs haar waarmee sy deesdae oor die weg moet kom, kan ’n mens uit haar ouers se stories aflei dat sy eens ’n sosiale mens was wat graag uitgegaan en gekuier het. Maar vir Adèle Roode is die dae van werk en kuier nou verby.

Daardie lewe lê verongeluk op die snelweg anderkant die Boland se Hugenotetonnel en Du Toitskloofberge, waar ’n motorfietsongeluk Adèle haar ou lewe ontneem het. Hofstukke ná die tyd het dit as ’n “katastrofiese ongeluk” beskryf.

Adèle kan weens ’n ernstige kopbesering nie sonder hulp loop of staan nie. So ernstig was haar beserings dat Adèle onlangs die nuus gehaal het toe die hof beslis het die Padongelukkefonds moet R7,6 miljoen aan haar uitbetaal. ’n Jaar ná die ongeluk het ’n neuroloog gesê sy gaan nie nog kan verbeter nie.

Haar brein is beseer en sy het “diepgaande verandering” in haar persoonlikheid, gedrag en emosie getoon. Sy sukkel om dinge te onthou, het spasmas in haar bene en kan skaars meer skryf.

Haar droom was om haar eie salon te open.
Haar droom was om haar eie salon te open. Foto: Facebook

Nou sukkel dié ma van twee om haar kinders te versorg, en sy sien hulle net twee tot drie keer per maand. Weens haar beserings kan sy hulle nie heeltyd by haar hê nie en woon hulle nou by haar vervreemde man.

Sy self is weer byna soos ’n kind in haar ouers se huis, iemand wie se ruim lewe drasties ingeperk is.

Vandag sit dié eens lewenslustige vrou in haar gunstelinggemakstoel in haar ouerhuis in ’n noordelike voorstad van Kaapstad. Haar 11-jarige seun sit gewoonlik hier regs van haar op die grond wanneer hy en sy sussie hierheen kom.

Waar Huisgenoot vandag by haar en haar ouers kuier, hoor ’n mens af en toe ’n vliegtuig van die lughawe af oorvlieg. Maar vir die mooi blondekop is hierdie vier mure haar hele wêreld.

Sy het tot onlangs nog uitgegaan vir rehabilitasie, maar haar vriende het soos mis voor die son verdwyn omdat hulle nie regtig weet hoe om haar te hanteer nie.

“Soos ’n melaatse,” meen ma Louise Fourie (61).

Adèle moes weer by haar ouers, Louise en Louis Fou
Adèle moes weer by haar ouers, Louise en Louis Fourie, intrek weens haar beserings, waarvoor die Padongelukkefonds nou gaan uitbetaal. Foto: Corrie Hansen

Haar 36-jarige enigste dogter is weer soos ’n kind in die huis, en haar grootmenslewe lê agter haar nadat dit so skielik en wreed van haar af weggeruk is.  

Dis asof daardie dag, 17 Januarie 2016, nou weer hier voor hul oë in hul sitkamer in Parow afspeel.

Pa Louis Fourie (62) luister en raak erg bewoë; hy sukkel selfs om met tye te praat oor daardie dag. Die trane vloei vrylik.

Vir hom is Adèle steeds die dogtertjie wat van kleins af agterop sy motorfiets gery het; sy dogter wat saam met die ryklub die Guns ’n Roses-motorfietsklub na Ceres in die Warm Bokkeveld gery het.

Hulle was op pad terug in die rigting van Kaapstad. “Dit was ’n breakfast run,” onthou hy die motorfietsrit.

Adèle en haar man het saam op ’n motorfiets gery. Louis was ’n entjie agter hulle op die pad. “Net voor die forelplaas, om die laaste draai . . .” begin hy. Dit was daar dat hy Adèle en haar man se Suzuki Hayabusa langs die pad sien lê het.

Wat onthou sy van die ongeluk? Adèle trek haar skouers op. Genadiglik niks. En tog bly een verstommende herinnering van die dag haar by: Sy vertel sy het die dag in die hospitaal se waakeenheid die hiernamaals aanskou. Daar was ’n ligtonnel.

’n Vriend het vir haar relings in haar kamer opges
’n Vriend het vir haar relings in haar kamer opgestel sodat sy kan oefen om weer op haar eie bene te staan. Foto: Corrie Hansen

Haar ouma en oupa, wat sy nooit in haar lewe geken het nie, het haar by die hemelpoorte ingewag.

“Ek glo en sal nooit in die hemel twyfel nie, want ek was daar,” vertel sy.

“Dis soos bo-op Tafelberg. Jy kyk af en jy sien net wolke. Ek wou daar gebly het. In die hemel. Ek het Jesus gevra of ek die Vader kan sien, maar Hy het gesê: ‘Nee, dan kan jy nie teruggaan nie.’ Ek het toe besef ek wil na die lewe terugkom. Ter wille van my kinders.”

Adèle vertel toe sy ontwaak, het sy haar oupa en ouma se name vir haar ouers gesê, al het sy dit nie voor die ongeluk geweet nie.

“Sy het hulle aan my beskryf,” vertel Louise. “Dis my ouers.” 

Haar kamer is pers – haar gunstelingkleur – en ’n vriend het vir haar ’n oefenraam gemaak met handrelings van PVC weerskante waaraan sy kan vashou.

“Ek oefen van Maandag tot Vrydag om weer te loop,” vertel sy. Wanneer sy haar bewegings demonstreer, lyk sy wankelrig, soos ’n wildsbokkie wat haar bene nog moet vind.

“Ek glo ek gaan een van die dae op my eie kan loop. Jesus het dit aan my vertel en ek glo Hom.” Die kamer het ’n bed wat groot genoeg is vir haar en haar kinders om saam hier te kuier.

“My dogtertjie sal hier by my kom lê en land en sand gesels oor haar dag en skool en so.” Maar as die kinders nie hier is nie, kyk sy maar meestal reekse op die Crime Channel.

“Tydens die inperking het ek maar gedoen wat ek altyd doen. Ek het dit nie eintlik eens agtergekom nie,” vertel sy.

“Ek kan in elk geval nie self bestuur en winkels toe gaan nie. Haar ouers se lewe is ook onderstebo gekeer deur die kind wat hulle weer moet versorg. Louis het sy geliefde Suzuki GSX-R 1100-motorfiets verkoop ná die ongeluk wat byna sy dogter se lewe geneem het.

“Ek is klaar,” sê hy beslis.

“Ek het in 1979 my eerste motorfiets gekoop.” Maar hy kan nie daardie “katastrofiese ongeluk”, soos die regsgeleerdes dit in die hof genoem het, uit sy geheue kry nie.

In 2002 op haar matriek­afskeid saam met haar metg
In 2002 op haar matriek­afskeid saam met haar metgesel, Daneil Pieterse. Foto: Verskaf

Louis het sy werk as vragmotorverkoopsman bedank om sy dogter by die huis geselskap te hou. “En om vir my middagete te maak,” herinner Adèle hom.

Haar persoonlikheid het ná die ongeluk verander, vertel haar ma. Sy was voorheen vriendelik en innemend en almal rondom haar was gek oor haar. Sy kon met enigiemand praat en het almal om haar gehelp, en sy was baie sosiaal.

“Ons het haar nooit gesien nie,” onthou Louise. Maar ná die ongeluk het sy woedeuitbarstings beleef.

“Sy raak gefrustreerd met haarself as sy met iets sukkel,” vertel haar ma. “ ’n Mens wonder hoekom die lewe vir jou ’n curveball gooi,” sê Louise en dink ’n bietjie na.

“Ek glo Liewe Jesus het haar vir ons teruggegee om op ons oudag by ons te wees.

“Sy is so ’n inspirasie vir ons en ander mense met wie sy op haar reis na herstel kontak gemaak het. Sy is ’n wonderwerk, ongeag wat die uiteinde nou is.

“ ’n Mens sou wou hê sy moet op haar eie kan loop. ’n Mens hunker na dinge wat daar was, maar wat nie meer so is nie. My kind was dood en het teruggekom om voort te veg.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe