Die 10-jarige van Westonaria in die Wes-Rand is verlede Maandag deur ’n boerboel by haar ouerhuis aangeval en gebyt. 

Die boerboel, wat redelik oud was, het behoort aan die eienaar by wie die gesin hul eenslaapkamer-Wendy-huis huur. 

Haar ma, Thea (34), en pa, Tokkie (51), het haar uit die kake van die hond gered en dadelik met haar na die Leratong-hospitaal in Krugersdorp gehaas.  

Sy was vir ’n paar dae alleen in die hospitaal voordat sy verlede Donderdag huis toe kon gaan. 

clerisa grobler,boerboel
Clerisa en haar ouers was vandag weer by die hospitaal om haar wonde skoon te maak. Foto: Verskaf

“Ons is oneinidig dankbaar dat God ons dogtertjie gespaar het. Om haar by die hospitaal te gaan haal was die wonderlikste ding ooit,” vertel Thea aan Huisgenoot. 

Haar eerste aand terug by die huis het Clerisa bietjie pyn gehad, maar dis vir haar lekker om weer by haar ouers te wees. 

“My dogtertjie sê dit was nie lekker om sonder Mamma en Pappa by die hospitaal te wees nie. Sy het eensaam gevoel en het heeltyd vir Mamma en Pappa gesoek.” 

Die paartjie en hul dogtertjie was weer vandag by die hospitaal om haar wonde te laat skoonmaak. 

clerisa grobler,boerboel
Foto: Verskaf

“Met vandag se besoek het hulle gekyk na haar wonde en nuwe verbande en pleisters opgesit. Daar is oor die dertig clips in haar kop en vyf in haar arm, sowel as twee steke aan die eenkant van haar arm en drie aan die anderkant. Verder sê hulle dit lyk mooi.” 

Vrydag is haar laaste besoek aan die hospitaal om die clips uit te haal. “Dit gaan ’n baie lang herstelproses wees, maar van daar kan ons self haar wonde skoonmaak.” 

Thea beklemtoon dat dit wat met haar kind gebeur het bloot ’n ongeluk was. 

“Dit was nie die eienaar of my dogtertjie se skuld nie. Sy en haar maatjie het onskuldig gespeel en agter in swartsakke gegrawe vir speelgoed. Toe hulle na my vriendin toe loop het die hond haar gegryp,” vertel sy. 

clerisa grobler,boerboel
Die boerboel het die 10-jarige aan haar kop beet gehad. Foto: Verskaf

“Dit was onskuldig gewees en ek dink die hond was bietjie in pyn gewees omdat hy alreeds oud was en artiritis gehad het.” 

Sy beskryf Clerisa ook as ’n diereliefhebber wat nie eers ’n vlieg sal seermaak nie. 

“Sy help tot vir my om honde te red en te versorg. Ons het self drie klein hondjies van ons eie en hulle word soos kinders behandel.” 

“Vir nou is ons net dankbaar ons kind lewe en het ’n tweede kans gekry,” sê Thea.