Die egpaar wat in ’n eenslaapkamer-Wendy-huis woon saam met hul drie kinders in Westonaria aan die Wes-Rand, het Maandag besef daar is groot fout toe hulle skielik ’n gegil buite gehoor het. 

“Ek was besig om kos te maak en my man het televisie gekyk. Ons het alles gelos en gehardloop. Toe ons om die draai kom, het die boerboel my kind aan die kop beet,” vertel Thea aan Huisgenoot. 

Terwyl die hond hul dogtertjie geruk en pluk het, het Tokkie hom gegryp. 

clerisa grobler,boerboel
Haar ouers kan skaars wag dat hul dogter huis toe kom. Foto: Facebook

“Ek het bo-op my dogtertjie gaan lê om haar te beskerm. My man het hom met die stok geslaan en gesê: hardloop. Ek het my dogtertjie gegryp en gehardloop,” vertel sy. 

Dis vir hulle steeds vreemd hoe dit gebeur het. 

“Dit het uit die bloute gekom. Ons het dit nie verwag nie, maar niks het verder die dag gebeur nie. Die hond was rustig. Ons weet nie wat dit veroorsaak het nie,” sê sy.

clerisa grobler,boerboel
Al haar hare moes afgeskeer word. Foto: Facebook

“Soos die kinders ons vertel het, het sy en haar maatjie buite gespeel toe die hond haar in die gesig knyp. Toe hulle verder saam loop, het die boerboel haar in die gesig gegryp.” 

“Dit was ’n verskriklike skok vir ons almal en ons het haar toegedraai en hospitaal toe gejaag.”

Clerisa is steeds in die Leratong-hospitaal in Krugersdorp.  

clerisa grobler,boerboel
Die meisie is steeds in die hospitaal. Foto: Facebook

“Tot dusver gaan dit goed met haar en sy sterk goed aan. Hulle het haar op pynmedikasie gesit vir die pyn,” vertel die ma. 

Volgens Thea is die meeste gate in Clerisa se kop; dus moes hulle al haar hare in die hospitaal afskeer. 

“My man kommunikeer met die dokter deur WhatsApp. Sy is vanoggend teater toe om haar wonde te laat skoonmaak en steke in te sit. Ons sal hoor of sy vandag of môre huis toe kan kom,” sê sy. 

Die boerboel, wat taamlik oud was en aan die eienaar behoort by wie die gesin die Wendy-huis huur, is intussen deur die Dierebeskermingsvereniging kom haal en van kant gemaak. 

“Ons is dankbaar vir almal se gebede, bystand en vir alles wat almal vir ons doen,” sê Thea.