Marius en Jaco is steeds boesemvriende.
Marius Mathee en Jaco Badenhorst is steeds boesemvriende nadat 'n fratsongeluk in 2019 hul lewens kom verander het. Foto: Verskaf.

Jaco Badenhorst (15) en Marius Mathee (30) het ernstige brandwonde opgedoen toe ’n bottel vlambare oktaan-aanjaer naby hul braaivleisvuur ontplof het. Die fratsongeluk het in Mei 2019 by Jaco se suster, Kyla Steyn, en haar verloofde, Marius, se huis aan die Wes-Rand van Johannesburg gebeur.

“Dit gaan baie goed met Jaco en Marius, en ek dink hulle het die ergste nou oorkom. Maar Jaco het nog ’n lang herstelpad wat voorlê,” vertel Mariette Mans (44), Jaco se ma, aan Huisgenoot.

Jaco het vandag steeds littekens van die brandwond
Jaco het vandag steeds littekens van die brandwonde wat hy destyds opgedoen het. Foto: Verskaf.
Foto: Verskaf.
Foto: Verskaf.
Foto: Verskaf.
Foto: Verskaf.

Volgens Mariette is dit veral Jaco wat nog ’n lang herstelpad voor hom het omdat hy in ’n staatshospitaal en nie soos Marius in ’n privaat hospitaal nie, behandel is.

“Jaco se derdegraadse brandwonde lyk nou soos vergroeisels op sy gesig,” vertel Mariette. Hy is intussen op hul mediese fonds gesit, maar hulle verwag dat hy eers in September vanjaar die nodige behandeling sal kry weens ’n wagperiode wat steeds geld.

Al het Marius en Jaco littekens van die ongeluk, is Jaco s’n erger veral aan sy gesig en ore. “Ons vertrou dit sal beter word, maar Jaco sê die littekens maak hom wie hy vandag is en hy is glad nie skaam daaroor nie,” vertel Mariette.

Foto: Verskaf
Jaco saam sy ma, Mariette Mans, en sy stiefpa, Riaan Mans, toe hy nog in die hospitaal was. Foto: Verskaf.

Mariette vertel dat hulle steeds baie oor die ongeluk praat en sy soms haarself verkwalik dat sy daardie naweek vir Jaco alleen by Marius gelos het.

“Dit was vir my moeilik om positief te bly, want ek het nooit gedink so 'n ramp sal ons familie tref nie,” sê Mariette.

“Maar vandat ek gesien het hoe wildvreemde mense jou help en vir jou kos aandra, het dit my uitkyk op die lewe verander. Jy kan nie glo hoe groot mense se harte is nie,” sê sy.

Foto: Verskaf
Jaco was sommer vroeg na sy ongeluk positief oor die pad vorentoe. Foto: Verskaf.
Foto: Verskaf
Hulle het aanvanklik nie geweet hoe erg die interne brandwonde is nie. Foto: Verskaf.
Foto: Verskaf
Jaco se hande na die fratsongeluk. Foto: Verskaf.

Deesdae is dit Mariette se man wat die braaiwerk in hul huis behartig, en hulle is baie versigtig met die vuur en maak seker dat daar nie vlambare dinge naby hul braaiplek staan nie.

“Jaco het aanvanklik in sy kamer gaan sit as ons begin vuurmaak, maar hy is nou heeltemal reg en glad nie meer bang nie,” vertel Mariette.

“Marius het nie ’n bang haar op sy kop nie en het al gebraai twee weke nadat hy uit die hospitaal ontslaan is,” lag sy.

Foto: Verskaf
Kyla en Marius na die ongeluk. Hulle het 'n dogtertjie saam. Foto: Verskaf.

Marius en Jaco is vandag steeds boesemvriende, en Mariette was verbaas om te hoor dat die twee nou al oor daardie verskriklike dag kan grappies maak.

“Jaco sê altyd: ‘Mamma, dis die lewe en dinge gebeur. Ons kan niemand daarvoor blameer nie,’ ” vertel Mariette.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe