Toe Abrie Bester, van Velddrif in die Weskus, in Junie vanjaar 'n gruvideo in die sosiale media deel van mans wat 'n robwelpie oënskynlik mishandel, rondgooi, genadeloos met 'n mes in die gesig steek en teen 'n vissersboot slaan – als terwyl hulle glo lag en mekaar aanmoedig – het dit nasionaal en in die buiteland opslae gemaak.

Twee weke voor die twee beskuldigdes, onderskeidelik 19 en 22, op 17 September in die landdroshof op Velddrif sal verskyn op klagtes van dieremishandeling en die oortreding van mariene lewe- en omgewingsakewette, is Abrie se vier honde dood en die polisie het bevestig dat hy ’n klag ingedien het ná ’n inbraak by sy huis. 

Abrie, wat in die konstruksiebedryf werk, vertel hy het vroeg vanjaar in 'n plaaslike kroeg gekuier toe hy glo hoor hoe twee manne trots vertel hoe hulle die welpie hanteer het. Die video is glo in Desember verlede jaar geneem.

Die robwelpie wat aangerand en doodgemaak is, is ’n skaars spesie, vertel Abrie.

Abrie beweer drie van sy honde, 'n vier maande oue skaaphond, Satie, 'n vier maande oue Jack Russell, Noodle, en 'n vyf maande oue blinde skaaphondjie, Lulu, is een vir een op sy erf vergiftig. 

“Een oomblik spring hulle op jou as jy in die oggend die deur oopmaak. Die volgende dag sukkel hulle om te loop en wil niks eet of drink nie. En die volgende oomblik begin hulle orals bloei en sterf hulle,” vertel Abrie hartseer. 

Maar die gesin se pyn het nie daar gestop nie. 

Verlede week Donderdag is Wollie, die gesin se saggeaarde, pragtige 8-jarige Belgiese skaaphond dood langs die pad in Voortrekkerstraat 177 in Velddrif gekry.

Sy was vermoedelik gemartel, agter 'n voertuig aangesleep en haar hart is uitgesny. 

Toe Wollie langs die pad gevind is, het haar uitgesnyde hart naby haar gelê.

 “Dit is verskriklik erg vir my, my vrou en veral my 8-jarige dogtertjie. Ons het Wollie destyds van Kathu gebring toe sy drie jaar oud was. Sedertdien het sy en my dogtertjie 'n hegte band gehad.”

Toe Wollie vyf maande gelede haar eerste werpsel kry, het Abrie al die hondjies verkoop – behalwe een - die enigste een in die werpsel wat blind was. Hulle het haar Lulu genoem. Abrie meen sy is ook vergiftig. 

Abrie vertel voorts twee mans het Donderdag (gister) by sy huis ingebreek toe hy by die werk was.

Die polisie het bevestig dat dié saak by hul aangemeld is.

  • Die Swartland & Weskus Dierebeskermingsvereniging het intussen 'n beloning van R8 000 uitgereik vir enigeen met inligting wat kan help om die dood van Abrie se honde te ondersoek.