“Dit het alles begin toe ek drie jaar oud was. Ek het oornag blind geraak in beide my oë. Ek kan onthou ek het nog die vorige aand op ’n vloerbedjie by my ouers geslaap, want ek het die vorige aand ’n vreeslike groot hoofpyn gehad. Die volgende oggend kon ek net niks op die televisie sien nie,” vertel Abré Kloppers (17), ’n leerling aan die Hoër Jongenskool Paarl. 

Abré en sy ouers is dadelik dokter toe. Ná talle toetse het die dokters vasgestel Abré het optiese neuritis. Volgens hulle sou hy vir ewig blind wees. Maar sy ouers, Francois en Marlize, het geweier om dit te aanvaar. Hulle het aangehou om na antwoorde en oplossings te soek en eindelik by ’n spesialis uitgekom wat besluit het om Abré met ’n kortisoon-drup te probeer behandel. 

“Ná ses maande het ek stukkie vir stukkie my sig begin terugkry,” onthou Abré, wat ook ’n ouer broer en jonger suster het. Maar in daardie stadium is meervoudige sklerose nog nie by hom gediagnoseer nie. 

Sowat drie jaar gelede, toe Abré op 14-jarige ouderdom vir die vakansie terugkeer huis toe, het sy regtervoet vreemd begin voel.

“Ek het in die kar geslaap en my een voet het net snaaks begin voel. Dit het amper gevoel of my voet slaap, soos pins and needles. Ek het gedink dit sal deur die nag beter word, maar dit het nie. Dit het net erger geraak,” onthou Abré.

“Die volgende oggend was my hele regterkant lam.”

Abré is weer dokter toe en is aangesê om sowat twee weke te wag om te kyk of die lamheid nie vanself sal regkom nie. Die dokter het gemeen die gevoel sal binne ’n week of twee verdwyn. Maar na twee weke was sy regterkant steeds lam.

Hy is weer met ’n kortisoon-drup behandel, wat toe gehelp het. Ná ’n opvolgbesoek het ’n spesialis Abré se simptome en ervarings aan ’n kollega in Amerika voorgelê om te probeer vasstel wat fout is. Dié het toe voorgestel hy gaan sien ’n spesialis op die gebied van meervoudige sklerose. 

Die skok-diagnose

“Op 7 Desember 2017 het die dokter ons met die aaklige nuus geskok. Ek is weer in die hospitaal opgeneem met ’n kortisoon-drup,” vertel Abré.

“Dit was ’n verskriklike ding vir my, ek het gedink ek sal nooit uit die hospitaal kan kom nie, want dit klink soos ’n baie erge siekte ... Ons het gedink ons gaan net vir ’n paar toetse dokter toe, toe word ek daardie Vrydag opgeneem en moes die hele naweek en die volgende week in die hospitaal bly.

"Dit was baie erg, ek het omtrent heeltyd gehuil.”

Sedert sy diagnose moes Abré nie net medikasie begin gebruik nie, hy moes ook ’n paar leefstylveranderinge maak om die siekte te bestuur. 

“Ek kon nie meer rugby speel nie, want sê nou ek word beseer, dan skakel dit my immuunstelsel aan en dan kan ek weer ’n terugslag ervaar,” vertel hy. 

Abré het ook einde verlede jaar begin om ’n vegetariese dieet te volg, hy vermy suiker en probeer ook wegbly van geprosesseerde kos. 

“Ek probeer ook baie gesond leef, ek oefen elke dag, doen strekoefeninge, gym en draf graag.”

Volgens Abré was dit aanvanklik vir hom moeilik om sy diagnose te aanvaar, maar hoe meer hy opgelees het, hoe meer het hy besef, dat sy siekte bestuur kan word. “Hoe meer ek my storie met mense begin deel het, hoe meer het ek besef daar is meer mense wat dit het as wat ons besef. Dit is iets waarmee jy kan saamleef en nie noodwendig simptome het nie. So jy kan ’n normale lewe leef.”

Abré het drie maande ná sy diagnose daarmee begin vrede maak. “Ek het besef ek moet nou die beste maak van my situasie.”

Abré het geleer om MS te bestuur met leefstylveran
Abré het geleer om die siekte te bestuur met leefstylveranderings en die regte medikasie.

Leefstylveranderinge

In die eerste jaar het hy nie so streng by al die leefstylveranderinge gehou nie. “Ek het soms ’n sjokolade hier of daar geëet, en dan ’n terugslag gehad. Maar ek het toe my fokus verskuif, ek het besef dat as ek nie die veranderinge maak nie, kan ek doodgaan.

"Ek het besef my lewe is nou in my eie hande en toe het ek begin presies kyk na wat ek eet en hoe ek leef. En vir twee jaar het ek nog nie weer ’n terugslag gehad nie.”

Abré meen een van sy grootste uitdagings is die feit dat hy baie sensitief is vir temperatuurveranderings. “Ek kry verskriklik vinnig warm en verskriklik vinnig koud,” vertel hy. 

Die covid-19-pandemie het ook ’n groot impak op sy lewe. Aangesien hy in gr. 11 is, is hierdie skooljaar baie belangrik vir universiteitstoelating en wil Abré graag goeie punte behaal. Maar weens sy siekte hoef hy nie vanjaar terug te keer skool toe nie. 

“Ek kry my skoolwerk direk van die skool af en het gereeld video-vergaderings met my onderwysers,” vertel hy. Hy moes ook sy medikasie aanpas om seker te maak sy immuunstelsel is sterker. 

Abré hoop om na skool in ’n wiskundige of rekeningkundige rigting te studeer en hy hoop hy kan eendag ook ’n bydrae maak om navorsing oor meelvoudige sklerose te ondersteun. 

Ten spyte van al die uitdagings wat hy moes oorkom, hou hy moed en bly Abré positief.

"My raad vir jonger kinders met MS is, hou net moed. Daar gaan swaar tye wees, maar my geloof en my verhouding met God het my bitter baie gehelp om dit te aanvaar. Ek glo God het 'n groter plan met my, groter as wat ek ooit kan dink."