Onder die slagoffers was die 14-jarige Rina Meyer. Haar ma, Tina (76), skryf namens haar en haar man, Pat (77), aan almal wat nou seer het oor die onlangse loopbrugramp by die Hoërskool Driehoek.

Toe ons die nuusberigte oor die tragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark lees, kon dit nie anders as om al die ou wonde oop te krap nie.

Om as ouer so ’n tra­gedie te moet beleef, een wat die hele land roer, bly by jou. Dis nie iets wat sommer weggaan nie. Deur die jare het dit wat daardie dag met ons Rina gebeur het bietjies-bietjies vervaag.

Dit was meer as 30 jaar gelede; ons geheues het met die tyd saam baie dinge uitgeblok.

Die Woensdag van die busongeluk het nes enige ander Woensdag begin.

Ons het in Triomf gebly, sowat ’n kilometer van die dam af. Ek was besig om in die kombuis te bak en brou toe ek sien hoe Rina buite voor die venster verbyloop en vir my waai.

Ek dink nie eens ek het mooi daarvan kennis geneem nie. En toe ek weer sien, is my buurvrou daar en sy skree dat die bus in die dam beland het.

Ek het na die dam toe afgehardloop. Op die wal het die lyke reeds in rye langs mekaar gelê.

Die land is in 1985 tot stilstand geruk toe die nu
Die land is in 1985 tot stilstand geruk toe die nuus breek van die bus vol skoolkinders wat in die Westdenedam beland het. Foto: Huisgenoot-argief

Die toneel was totale chaos, maar ek het nie geskree of gegil nie. Ek het net oral na Rina gesoek, maar ek kon haar nêrens kry nie.

Toe hardloop ek terug huis toe en bel my man.

Ons het haar eers daardie aand iewers in ’n lykhuis gekry. Dit het nie gelyk of sy dood is nie; net asof sy slaap.

Ek onthou net ons het ná die ongeluk besef sy was op haar dood voorbereid. Sy het kort voor die ongeluk gevra: “Mammie, hoe voel dit om dood te gaan?”

Hoe antwoord jy ’n kind op so ’n vraag?

Later het sy gesê: “Mammie, ek dink my tyd om te gaan is naby.”

Dan was daar ook die skoolmaatjie by wie se verjaardagpartytjie sy was. Sy het aan haar gesê dat dit die laaste partytjie saam met haar sal wees. Dit alles het sy met ’n stralende gesig gesê.

Eers toe ons later oor alles begin praat, het ons besef sy het ’n gevoel gehad sy gaan sterf.

Ná die ongeluk het ons gereeld oor Rina gepraat. Dis iets wat nooit weggaan nie. Maar soos wat die jare aanstap, raak die aanvaarding beter. Ja, daar sal moeilike tye wees. Dit was veral die Kersfeeste en verjaardae van daardie eerste paar jaar wat vir ons die moeilikste was.

As jy ’n kind verloor het, hou aan oor jou kind praat. Deel jou emosies met ander mense soos jou vriende. Onthou die goeie tye saam. Deel die mooi van jou herinnerings met ander.

Die een ding wat ons deur die jare geleer het, en dit is my boodskap aan die ouers van die Driehoekkinders wat dood is sowel as aan die gemeenskap: Moet nooit jul geloof verloor nie.

Dit het ons destyds deur die moeilike tye gedra. Ek kan my net voorstel in watter droefheid die ouers en families van Driehoek verkeer.

Net die gebede en die omgee van mense om ons het destyds vir ons vertroosting gebring.

Dit sal vir julle ook . . .