Volgens die app, wat deur Facebook besit word, het die aanval ’n “uitgesoekte aantal” lede geteiken en is dit deur “’n bedrewe kuberspeler” georkestreer.

Die BBC skryf krakers het dit reggekry om waarnemingsagteware oor ’n afstand op fone en ander toestelle te installeer deur ’n groot swakheid in die WhatsApp-app uit te buit.

Die sagteware is vermoedelik deur die Israelse firma NSO Group ontwikkel, berig die Financial Times.

WhatsApp het Vrydag ’n regstelling uitgereik en sy 1,5 miljard gebruikers genoop om die nuutste weergawe van dié te installeer.

Risiko

Die kuberskelms is dalk aan die kaak gestel, maar as jy die app nog nie bygewerk het nie, verkeer jy steeds in gevaar, sê Paul Ducklin, senior tegnoloog by die IT-sekuriteitsonderneming Sophos.

“Die fout het so baie aandag getrek dat daar waarskynlik skurke is wat dit wil herskep of herontdek,” maan hy. Hy voeg by dit is belangrik om die apps wat op jou toestel geïnstalleer is, gereeld reg te stel of by te werk.

’n Skelm wat jou foto-album teiken, gee dalk nie regtig oor jou foto’s om nie.

“As jy nie gereeld die app bywerk of regstel nie, gebruik dié insident as ’n rede om ernstig daaraan aandag te gee. Moenie jouself ’n maklike teiken vir die kuberskurke maak nie.”

Wanneer kuberkrakers eers toegang tot jou toestel kry, het hul vrye teuels, sê Paul.

“Wanneer skurke spioenasieprogramme inspan en vastrapplek op jou toestel kry, kan hulle enigiets teiken waartoe hulle toegang het,” sê hy.

“’n Skelm wat jou foto-album teiken, gee dalk nie regtig oor jou foto’s om nie; hulle wil eerder rondsnuffel om meer oor jou bankrekeningbesonderhede, kredietkaartnommers en dies meer uit te vind.

Kuberskurke is soos skelms wat by jou huis inbreek.

“Kuberskurke is soos skelms wat by jou huis inbreek: Dalk soek hulle ’n skootrekenaar of televisie, maar wie weet wat anders hul oog vang wanneer hulle eers binne is omdat dit interessant of waardevol lyk?”

In dié geval, was daar nie veel wat gebruikers kon doen om hulself te beskerm nie, maar Paul beveel aan jy beperk die aantal apps op jou foon en werk dit gereeld by.

Hy stel ook voor dat jy apps eerder uitvee wat jy nie regtig gebruik nie.

“Hoe meer apps jy het, hoe meer foute kan kuberskurke uitbuit as hulle toegang tot jou toestel wil kry.”

Ekstra bronne: bbc.com, ft.com, wired.com