Dit sou ’n uitstekende titel vir ’n misdaadreeks op TV gewees het: Adams en Appollis. ’n Program met twee hoofkarakters wat saam skurke jag; die een speel die good cop; die ander die bad cop. ’n Gedugte span wat ook van diens af dik pelle is.

Dis die regte lewe dié, nie iets op TV nie. Maar serss. Stephen Adams en Marlon Appollis van die Stellenbosch-speurtak kon netsowel die helde in hul eie polisiereeks gewees het. In hul werkvennootskap van 11 jaar het dié twee boesemvriende al verskeie opspraakwekkende moordsake opgelos.

Jason Rohde
Jason Rohde en sy vrou, Susan. Foto: Facebook.

“Henri van Breda, Jason Rohde, Hannah Cornelius en tannie Verwey,” noem die twee speurders die hoëprofielmoordsake wat die afgelope jaar in die howe was nadat hulle saam die ondersoekwerk gedoen het.

Hier waar ons op ’n reënerige dag in die raadsaal van die Stellenbosch-polisiekantoor sit, glimlag hulle tevrede. Want in drie van dié sake is die moordenaars verlede jaar skuldig bevind.

Henri van Breda
Die bylmoordenaar Henri van Breda. Foto: Brenton Geach/Gallo Images/Getty Images.

Henri van Breda dien lewenslange tronkstraf uit nadat hy skuldig bevind is aan die bylmoorde op sy ouers en broer in Januarie 2015; Jason Rohde sal binnekort gevonnis word ná die moord op sy vrou, Susan, in Julie 2016; en die student Hannah Cornelius se moordenaars, Vernon Witbooi, Geraldo Parsons en Eben van Niekerk, is agter tralies.

Die twee speurders wag nog net op uitspraak in die moordsaak van Marie Verwey, die 80-jarige gastehuiseienaar van Paradyskloof wat in Februarie 2017 altesaam 62 keer in haar huis gesteek is.

Spook enige vrae oor dié vier moordsake nog by hulle? Marlon (41), wat dikwels so befoeterd lyk voor in die hof in sy kenmerkende swart broek en leerbaadjie, knaag ’n oomblik aan sy onderlip. Dan vra hy: “Hoekom, Henri? Wat het jou werklik ge-trigger om dit te doen?”

As die bylmoordenaar “net vir ons daardie antwoord kan gee”, sug hy. “Daardie eerste dag het hy mos in my kantoor gesit en al my sigarette opgerook,” onthou Stephen (42) van die dag toe Henri ondervra is. “Ja, ek het hom naderhand begin charge; R5 per sigaret,” las Marlon by.

Marlon Appollis
Marlon het getuig tydens die Van Breda-moordverhoor. Hy was dikwels in die hooggeregshof in Kaapstad om die hofverrigtings by te woon. Foto: Gallo Images/Die Burger/Lulama Zenzile.

Dit klink mos pure good cop, bad cop. Ja, bieg hulle. Marlon speel die tawwe, kwaai ou wanneer hulle die vrawerk doen en Stephen speel die vaderfiguur. Maar vandag is albei ontspanne en vriendelik. Hulle voltooi gedurig mekaar se sinne terwyl hulle vertel hoe hulle mekaar se toebroodjies op kantoor gaps en die land platry vir hul ondersoeke.

Albei verkies ry bo vlieg, vertel hulle, al beteken dit hulle moet duisende kilometers agter die stuur aflê. Maar dié jare lange vennootskap is pas beëindig. Marlon, oorspronklik van Swellendam en al 15 jaar ’n polisieman, het einde verlede jaar by die polisie se nuwe bende-eenheid in Kaapstad aangesluit.

Waar presies hy deesdae gebaseer is, kan hy om veiligheidsredes nie verklap nie. Dit beteken egter nie die einde van hul vriendskap nie. “Ons is huisvrinne,” verduidelik Marlon. Dan voeg hy ondeund by: “Hy het ’n rooi onderbroek aan, hoor.” Huh-huh-huh, lag die twee. Adams en Appollis. Sersante en tjomme. Die lang arm van die gereg se Vinkel en Koljander.

‘Ons sal by die huis ’n worsie of vlerkie braai. Dan brainstorm ons’
 Die twee speurders het onmiddellik gekliek toe hulle mekaar in 2007 by die Stellenbosch-speurtak ontmoet. “Kom ry gou saam, Bleskop,” het Stephen, ’n boorling van Stellenbosch, vir Marlon genooi. Van toe af is hulle onafskeidbaar – en Marlon se bynaam het bly kleef.

Hulle het saam na misdaadtonele begin gaan en hul eie werkwyse ontwikkel. “Ons sal met mekaar gesels, maar nog nie vir mekaar sê wat ons dink nie,” vertel Stephen. “Agterna gaan sit ons. Dan sal ons sê ek stem saam met jou oor dit of oor dat. En so begin dit.”

Hulle het by hul bevelvoerders, kol. Deon Beneke en sy voorganger, kol. Lesley Siegelaar, aangeklop om ’n teorie te bespreek of raad te vra. Hulle verkies om in een van hulle se huis op Stellenbosch te gaan werk eerder as op kantoor. “Ons sal by die huis ’n worsie of vlerkie braai. Dan sal ons sit en brainstorm,” verduidelik Stephen.

Marlon Appollis
Foto: Jacques Stander.

“Ons challenge mekaar wanneer ons op ’n toneel kom: Gaan dit 24 of 48 uur wees voor ons iemand aankeer? Dan besluit ons, oukei, 24 hours,” sê Stephen. In daardie eerste 24 tot 48 uur werk hulle sommer deurnag. “Dán rus jy nie, want jy wil iemand vastrek. Dit is crucial tyd. As jy goed laat verbyglip, kan jy nie gaan regmaak nie,” sê Stephen.

Tydens die groot sake slaap hulle min. So vertel Marlon, wat sekerheidswerk by die Caledoncasino gedoen het voor hy op 26 by die polisie aangesluit het. “By die huis werk jy gemakliker as vrou en kinders slaap. Dan, tweeuur, drieuur die oggend, is jy lekker op en wakker, want niks steur jou nie,” vertel hy.

Hannah Cornelius
Die student Hannah Cornelius. Foto: Instagram.

Tydens ondersoeke versamel hulle forensiese verslae, data-ontledings en verklarings. “Jason was sewe ringlêers; Henri was 12. Hannah was vyf. Tannie Verwey was drie,” onthou hulle. En wanneer hulle snuf in die neus kry, dag of nag, maak hulle werk daarvan.

“Soos tannie Verwey se saak,” sê Stephen, ’n boorling van Stellenbosch wat in matriek al as polisiereservis gewerk het. “Ons het die toneel gedoen en ge-brainstorm. Toe besluit ons dis ’n inside job.” Hulle is om middernag by die toneel weg.

Marie Verwey
Die vermoorde Marie Verwey. Foto: Verskaf.

Kort daarna het Stephen vir Marlon gesê hy dink hulle moet Paarl toe ry om tannie Verwey se oppasser te ondervra. Hulle het die oggend drieuur gery. By die verdagte se woonplek het hulle ’n motor opgemerk, maar nie veel daarvan gedink nie.

Toe hulle die volgende dag deur beelde van ’n veiligheidskamera van buite die moordtoneel kyk, het hulle dieselfde motor gesien. “Toe is dit deel van die crucial bewyse wat die mense op die toneel plaas. Ons het geleer wanneer jy iets wil doen, doen dit onmiddellik. As ons tot die volgende dag gewag het, was die kar weg,” sê Stephen.

“Jy skakel nie af as jy aan ’n saak werk nie.” Nie eens op vakansiedae nie, soos die dag voor Huisgenoot se onderhoud. “Ons sit buite onder die gazebo en ek maak ’n pot, toe onthou ek skielik ek moet nog ’n lasbrief tik,” vertel Stephen. “Toe gaan tik ek gou die ding. Toe ek weer sien, staan my vrou voor my en vra: Wat maak jy nou?”

Albei speurders se vroue is al gewoond aan hul lang en ongereelde werkure. Marlon wil nie sy vrou identifiseer nie, want sy werk ook in die polisie. “Daarom verstaan sy. Maar soms wil sy ook daardie bietjie spesiale aandag hê, dan moet ’n mens afskakel of ’n kort vakansiewegbreek vat.”

Marlon Appollis
Foto: Jacques Stander.

Stephen en Libby is al van skooldae af saam. Dis dié dat sy ook verstaan, vertel Stephen. Ná ’n lang dag of ’n ontstellende moordtoneel help sy hom ontlont. Maar die lang ure eis wel sy tol. “As jy by die huis kom en die hond begin al vir jou blaf, dan moet jy weet,” skerts Marlon eers.

Maar op ’n ernstiger noot: “As jy so weg is van jou kinders, is dit moeilik. Ma sit dan alleen met die kind en sy moet alles doen, ma én pa speel. En jy loop spesiale oomblikke mis.” Tog geniet albei dit om die legkaartstukke van ’n misdaadraaisel inmekaar te laat klik.

“Almal wil nie altyd die waarheid hoor nie, maar dit gee tog closure,” sê Marlon. Stephen beaam: “Dit is altyd lekker om vir ’n familie antwoorde te kan gee.”

En ja, erken die twee, hulle sal dalk nie meer op kantoor mekaar se toebroodjies kan gaps nie, maar hulle sal vir seker vorentoe weer om ’n braaivuurtjie mekaar se misdaadteorieë toets. Adams en Appollis, ons eie speurdersterre.