“Dit is nou winter, en ek weet nie of my ma warm en veilig is nie,” sê Leené Joubert. Haar ma, Christina Jooste, het op 12 Junie vermis geraak nadat sy by ’n herberg in Witrivier gebly het. 

Volgens Leené is haar ma op sterk medikasie. 

“Ons is rasend van bekommernis. Ons weet nie of sy haar medikasie vat nie en of sy by haar volle bewussyn is nie. Dalk weet sy nie eens waar of saam met wie sy haarself bevind nie,” sê Leené. 

Sy sê haar ma het voor sy in Witrivier aangekom het, by ’n vriendin op Lydenburg gewoon. Dié verhouding het glo versuur, en sy is toe na Witrivier waar sy in die herberg gebly het.

Volgens die personeel van die herberg het sy vreemd begin optree en al haar hare afgeskeer. Sy het die meeste van haar besittings weggegooi en met twee swartsakke daar uitgestap. Niemand het haar sedertdien gesien nie. 

  • Leené vra dat enigiemand wat inligting het oor haar ma of waar sy haarself bevind met die privaat speurder Wendy Pascoe by 072-649-7683 in verbinding tree.