Dis dieselfde breë, skitterwit glimlag wat van hom so ’n gewilde en charismatiese televisie-evangelis en die leier van ’n welvarende gemeente gemaak het.

Die goedheid straal behoorlik uit hom uit terwyl hy innemend na die kamera kyk, sy gesin langs hom.

Kan dit wees? Is dit hý op die foto?

Ja, sowaar, dis Andries Enslin, bekend aan sy aanhangers as die stigter van die Alberton Lewensentrum-kerk (ALS), Christelike skrywer en voormalige aanbieder van die program Die Woord op kykNET.

Maar waar in die wêreld ís Andries? Steeds in Alberton? Nee. Hy bevind hom in Austin, Texas, kan Huisgenoot nou bevestig. Dit is die tuiste van die Rhythm Church, Andries se nuwe gemeente in Amerika.

“Niks maak my meer opgewonde as ’n klein begin nie; 20 jaar gelede het ons ’n kerk in Suid-Afrika met 14 mense begin. Nou, danksy God se roeping, doen ons dit weer,” skryf die nuwe leraar van dié oorsese gemeente op die Rhythm Church-kerk se Facebookblad.

Die Enslin-gesin kerf nou vir hulle 'n nuwe lewe i
Die Enslin-gesin kerf nou vir hulle 'n nuwe lewe in Austin, Texas, uit

Andries se onverwagte verskyning as herder van die Austin-kudde kom nadat hy Alberton net maande gelede verlaat het op ’n manier waaroor sy Albertonse gemeente steeds gons. Op Sondag 24 November was hy, soos dikwels tevore, agter die ALS-kansel.

Min mense het toe geweet dit was vir eers sy laaste preek hier.

Die volgende dag, 25 November, was Andries en sy gesin op ’n vlug na Amerika. Baie van sy ALS-lidmate was onthuts – dié dat daar op 22 Januarie vanjaar ’n “inligtingsvergadering” oor die gebeure in die ALS-teesaal in Alberton gehou is.

Kyk jy so na Andries op die Rhythm Church se blad, lyk hy reeds tuis op sy nuwe geestelike verhoog. Allermins soos die man wat in Oktober 2015 deur die ALS met “drie maande verpligte verlof” gestuur is – glo omdat hy emosioneel “uitgebrand” was.

‘Onbetaamlike verhouding’

Andries en die kerk het destyds geweier om enigsins op bewerings van ’n “onbetaamlike” verhouding tussen Andries en ’n ander vrou te reageer.

Maar in klankopnames wat onlangs onder Huisgenoot se aandag gebring is, konfronteer ’n eens senior kerklidmaat Andries oor beweerde seksuele voorvalle tussen hom en die vrou. Die opname met die konfrontasie het Andries se “verpligte verlof” in 2015 vooruitgegaan.

Huisgenoot weerhou die inhoud van die gesprek op regsadvies.

Amerika en ‘direkte uitsendings’

Andries het verlede jaar aan die ALS-gemeente vertel hy is op pad Amerika toe – maar sonder om te sê wanneer en hoe die proses gefinansier sal word. Marie en Johann du Toit (skuilname), jare lange ALS-lidmate, was daar tydens Andries se aanvanklike aankondiging op Sondag 25 Augustus.

“Hy het vir ons gesê God het hom geroep om dit te doen. Hy wil dollars terugbring om ’n nuwe kerk vir ons te kom bou om die voortbestaan van ALS te verseker,” vertel Marie.

“Hy het ook gesê ons moenie worry nie; daar sal ‘direkte uitsendings’ vanuit Amerika wees.”

Dié “direkte uitsendings” met video’s van Andries in Amerika sou glo tweeweekliks op die ALS-kerk se grootskerm in Alberton vertoon word. Maar die eerste “direkte uitsending,” op 1 Desember vanjaar, was ’n ontnugtering.

“Hy het dié diens begin met: ‘Oe, dis so koud hier in Austin; ons mis julle al klaar; ons settle nog in . . .’

Maar later, op die inligtingsvergadering, moes ons uitvind hy het dit opgeneem nog voor hy Suid-Afrika verlaat het,” vertel Marie.

Vrae in die kerk

Sy was verder onthuts toe sy hoor past. Jaques Bezuidenhout, ’n jare lange ALS-werknemer, asook sy vrou, Aleida, wat vir Andries as persoonlike assistent gewerk het, is in Desember onderskeidelik afgedank en afgelê.

Op die inligtingsvergadering het Ewald Coetzee, ’n ALS-mededirekteur en kerkouderling, as die gemeenteleier in Andries se afwesigheid glo meer as 100 lidmate se vrae aangehoor.

Andries Enslin
Die charismatiese evangelis in aksie.

“Ek wou weet hoekom Andries regtig Amerika toe is. Ek wou weet van die bewerings van wanbestuur in die kerk; ek wou weet hoekom Jaques en Aleida weg is. Ek wou ook die waarheid oor Andries se beweerde verhouding weet,” sê Marie.

Ander lidmate wou ook weet wie Andries en sy gesin in Amerika onderhou; het hy al sy Suid-Afrikaanse bates – soos sy wildplaas – verkoop? Is Andries eintlik daar om te bly?

Maar volgens Marie het Ewald se antwoorde net meer vrae laat ontstaan. Uit Huisgenoot se navrae blyk dit Andries het sy skuif na Amerika moontlik al ’n geruime tyd beplan.

In Maart 2016 het hy die organisasie Seven Rhythm Upliftment Programme gestig.

Kort daarna het Andries se vrou, Vikki, haar oogkundepraktyk in Alberton verkoop. En in April verlede jaar het Andries sy Vrystaatse wildplaas, kompleet met ’n spoghuis, wild en toerusting op veiling geplaas.

By die onlangse inligtingsaand is Andries se beweerde buite-egtelike aktiwiteite – en die skeuring wat dit glo destyds in die ALS-kerk veroorsaak het – sonder sukses deur lidmate geopper. In die klankopnames van die destydse konfrontasie oor dié beweerde seksuele interaksie word gehoor hoe ’n man Andries daaroor konfronteer.

Huisgenoot weerhou die man en sy vrou se name op regsadvies.

Geen kommentaar

Andries het nie op Huisgenoot se navrae gereageer oor die bewering dat hy destyds sy posisie misbruik het om toenadering tot ’n ander vrou te soek nie. Hy het ook nie op die inhoud van die klankopnames gereageer nie.

Andries Enslin
Andries en sy vrou, Vikki.

Ewald het namens die kerkbestuur gesê: “Wat Andries se persoonlike lewe betref, is daar nooit enige amptelike klag teen hom gelê nie en is geen bewyse voorgelê nie. Ons is nie bereid om verder enige kommentaar oor hierdie saak te lewer nie.”

Volgens verskillende bronne het die gebeure tussen Andries en die vrou wel tot die afstigting van vyf gemeentes tussen Januarie 2016 en November 2018 gelei.

Die eerste om weg te breek was die Vaal- driehoek Lewensentrum in Vanderbijlpark, en daarna die Pretoria- en Oos-Randse kampusse.

Die Noordkus Lewensentrum in KwaZulu-Natal, wat toe al geldelik gesukkel het, het gesluit. Die laaste twee wegbreekgemeentes was die Wes-Rand en die Kaap.

Skeuring in die kerk en die skuif?

Maar die ALS-bestuur ontken enige skeuring en bestempel dit as ’n proses van “onafhanklikheidswording”.

En die skuif Amerika toe?

In ’n video wat wat met die aankondiging op 25 Augustus in die ALS-gemeente geneem en aan Huisgenoot verskaf is, vertel Andries met sy kenmerkende handgebare hoekom God hom geroep het om ’n kerk in Amerika te stig.

“Dis groot challenges. Dis massive kostes. Een ou het klaar die vraag gevra: ‘Maar Andries, hoekom moet jy gaan? Hoekom stuur jy nie iemand nie?’ Ek dink almal weet . . . Ons het al ses of sewe kampusse begin en, ja, hulle is ongelukkig vandag nie meer deel van ons nie.

En kom ons wees vleeslik. Kom ons hoop honderdduisende dollars kom terug.

“Ons het al daai werk, al daai effort ingesit en kampusse ge-start net om ’n ou tipiese, lieflike Afrikaanse handskud te kry wat sê: ‘Dankie, dit was lekker, laat dit goed gaan.’ ”

Daarom gaan hy self Amerika toe – om die behoud van die nuwe kerk te verseker.

“Ek hoop nie daar is ego betrokke nie. Ek hoop nie ek’s ’n filthy mens nie, maar ek probeer die goed uit-figure in my binnekamer. Ons het nodig dat julle vir ons bid, dat julle ons stuur, dat julle sê: ‘God bless’, dat ons hoop en glo en vertrou honderdduisende siele kom tot bekering.

“En kom ons wees vleeslik. Kom ons hoop honderdduisende dollars kom terug.”

Voorafopgeneemde preke

Vir Johann en Marie was hul onlangse besluit om van die ALS weg te stap ’n bitter moeilike een. Hulle het antwoorde probeer kry op hul talle vrae oor hoe die ALS se sakeplan vir die Amerika-kerk werk en of hy sal terugkom.

En ook oor hoe die “direkte uitsendings” in die kerk dan nou werk – daar is dan ’n agt-uur-tydsverskil tussen Austin en Alberton?

“Ewald het erken die preke is nie direkte uitsendings nie; dis vooraf in Suid-Afrika opgeneem. En oor drie maande gaan hy glo weer terugkom om die volgende sarsie op te neem.

“Baie mense was ongelukkig hieroor. Hoekom moet ek na ’n kerk gaan en luister na ’n preek wat drie maande gelede opgeneem is?” vra Marie.

Geldsake, afleggings en ‘te veel vrae’

Die egpaar is ook beswaard oor die koste om die gesin in Amerika te onderhou.

“Ons is voor sy vertrek deur Andries die versekering gegee: Geen geld gaan saam oor nie. Op die inligtingsaand het Ewald nie bevestig wat Andries per maand betaal word nie, maar hy het wel gesê daar is net ’n lening,” sê sy.

Toe Huisgenoot Ewald vra wat die onkoste vir die ALS beloop, was sy reaksie: “Nes alle kampusse wat ons begin het, en wat vanselfsprekend nie aan die begin hulself kan dra nie, word bedryfskoste, insluitend salarisse, op leningsrekening aan die kampusse voorgeskiet.

“By al die ander kampusse was dit geen probleem nie, en lidmate was nog altyd tevrede – hoekom is dit nou ’n probleem net omdat dit in Amerika is?”

Aangesien Jaques en sy vrou arbeidsake teen die kerk gebring het, wou Ewald nie op die vergadering oor die redes vir hul vertrek praat nie.

“Soos ek verstaan, het hulle van Jaques ontslae geraak, want hy het te veel vrae gevra,” beweer Marie.

Baie mense was ongelukkig hieroor. Hoekom moet ek na ’n kerk gaan en luister na ’n preek wat drie maande gelede opgeneem is?

Maar Ewald het kort voor Huisgenoot se saktyd gesê Jaques se aflegging was die uitkoms van ’n “dissiplinêre verhoor” en is deur ’n onafhanklike beroepsarbeidskundige hanteer.

Hy sê voorts Aleida se aflegging was ’n sakebesluit aangesien sy Andries en Jaques se persoonlike assistent was en haar pos oorbodig geraak het.

Jaques het aan Huisgenoot gesê hy en Aleida het arbeidsklagte teen die kerk ingedien by die Kommissie vir Bemiddeling, Versoening en Arbitrasie waaroor hy nie nou kan uitwei nie.

Marie vertel hul gesin was baie na aan Jaques en Aleida, wat haar deur ’n “donker tyd” gehelp het.

“Ons het nooit ’n celebrity-koors rondom Andries gehad nie. Hy het Sondae opgestap, gepreek en afgestap. Hy is nie die tipe pastoor wat na die gemeente kom en groet, jou kinders se name ken en weet wat in jou lewe aangaan nie.

“Die ding met Jaques pla my verskriklik; ook die kerk se hantering van die dinge in Andries se verlede. Andries het daardie tyd alles onder die dekmantel probeer hou sodat die gemeente nie moet uitvind nie,” meen Marie.

Dalende lidmaatgetalle

“Baie mense het sedert 2015 weggegaan. Ons wat byna elke Sondag in die kerk gesit het, kon sien hoe die lidmaatgetalle val.”

Huisgenoot het verneem voor Oktober 2015 het die ALS-gemeente meer as 12 000 lidmate gehad. Volgens ’n betroubare bron staan dié getal nou op sowat 6 500.

Andries het in Oktober 2015 vir ’n ruk byna heeltemal uit die kollig verdwyn. Wat presies sy uitdagings destyds was – en hoekom hy tyd moes af vat “om te genees en sy persoonlike lewe uit te sorteer” – is nooit geopenbaar nie.

In Februarie 2017 het hy in ’n onderhoud met Huisgenoot vertel hy het in 2015 “onbeskryflike moegheid en negatiwiteit ervaar; moedeloosheid, lusteloosheid, depressie . . . Ek dink ek het ’n klomp opgehoopte skuldgevoelens en bagasie in my gehad oor ’n ou se lewe, jou sonde, jou gebreke; ’n konfrontasie met jou verlede.”

Maar hy het geweier om die redes daarvoor te verskaf. ’n Voormalige ALS-bestuurslid het onlangs net gesê: “Sy hele verlede het hom begin inhaal en dit doen steeds.”

Vrees vir viktimisasie

Bronne met wie Huisgenoot gepraat het, wou uit vrees vir viktimisasie en regsaksie anoniem bly. Onder hulle was die vrou met wie Andries glo destyds ’n “onbetaamlike” verhouding gehad het en haar man.

Die vrou het beweer Andries het seksuele toenadering by haar gesoek, maar ’n verhouding ontken. Sy het in Oktober 2015 teenoor haar man oor die gebeure gebieg en hy het Andries toe daaroor gekonfronteer. Die egpaar wou nie verder uitbrei nie.

Toe dié beskuldigings van ’n “onbetaamlike” verhouding destyds uitgekom het, het die bestuur volgehou daar is geen bewyse teen Andries nie. Huisgenoot het verneem dat hy op betaalde verlof gestuur is en daardie selfde jaar ’n 12%-verhoging sou kry.

Die pastorie en die wins daarop

Maar Andries was in Januarie 2016 skaars van sy verlof af terug toe nog ’n bom bars – dié keer oor sy “omstrede eiendomstransaksie”.

Netwerk24 het berig Andries het die ALS-pastorie vir R4,5 miljoen by die kerk gekoop, net om dit 12 dae later vir R9,6 miljoen aan ’n nuwe eienaar te verkoop. Dít terwyl hy alleendirekteur van die ALS was. ALS se dagbestuur het destyds volgehou dat die transaksie wettig en deursigtig was.

Ewald het hierop gesê: “Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het twee dae later ’n wesenlike aanslag aan Andries uitgereik, suiwer op grond van dié berig oor die eiendomstransaksie.

“Ná twee jaar se gesukkel met die SAID, teen groot koste in terme van geld en tyd, is die hele saak weer deur die SAID reggestel. Daar is bevind alles was bo verdenking, soos ons van die begin af volgehou het. Daar is nooit weer oor berig nie, want dis mos nie ’n storie nie.”

Wildplaas

Andries het wel glo met dié geld in Julie 2012 sy wildplaas, Dampoort, in die Vredefortkoepel naby Parys gekoop – maar in die naam van die maatskappy Lurisize, waarvan hy en sy vrou die direkteure was. Die koepel is ’n Wêrelderfenisgebied.

En in April 2019 het hy Dampoort op veiling geplaas.

Andries Enslin
Andries het in April verlede jaar sy luukse Vrystaatse wildplaas op veiling geplaas.

Dié “ideale naweekplaas”, wat April verlede jaar deur Clive Gardner-afslaers “namens Lurisize Pty. Ltd.” op veiling geplaas is, is omhein met twee wildkampe, vyf sterk boorgate en damme. Dit is ook hoogs beveilig.

Daar is ook vele buitegeboue, waaronder ’n kerk, ’n groot perdestal en pakkamers. Benewens die vyfslaapkamerhuis met sy drie badkamers het dit ’n tweede seweslaapkamerhuis.

Alle plaasimplemente, ’n Suzuki 250-kwadfiets, ’n John Deere 5503-trekker en verskeie sleepwaens is ingesluit.

Die groot verskeidenheid wild, asook eksotiese wild, sluit onder meer sewe gouewildebeeste, 27 Livingstone-elande, 22 swartrooibokke en 27 Oos-Afrika-buffels in.

Andries Enslin
Hy het dié plaas in Julie 2012 bekom ná die winsgewende verkoop van die ALS-kerk se pastorie. Hoewel die plaas nie op die veiling verkoop is nie, is foto’s van die twee huise met onderskeidelik vyf en sewe slaapkamers te sien. Al die wild, buitegeboue en plaasimplemente is in die veiling ingesluit.
Andries Enslin

Die plaas is gereeld vir jagtogte gebruik. Maar volgens Hendrik Nel van Clive Gardner-afslaers is byna niks op die veiling verkoop nie aangesien Andries nie die pryse gekry het waarop hy gehoop het nie.

Hy het bevestig hulle het nou moontlik ’n aanbod gekry en was verbaas toe hy van Huisgenoot hoor dat Andries nou in die buiteland is.

Die Du Toits sal nie wil sien dat die kerk seerkry te midde van die krisis nie.

“Nee, die kerk gaan nie vou nie. Daar is te veel mense wat sal opstaan. Ons het wel besluit om weg te stap omdat ons ons afgevra het: Waar gaan ek nou geestelik groei?

“Ek sien dit as ’n laaste poging om iets te sê en iets te doen . . . ” sê Marie. En dan maak Johann haar sin klaar: “Sodat mense se oë kan oopgaan.”

  • Alle nuwe bewerings is aan Andries en Ewald gestel.

“Ons is nie van plan om enige van jou vrae te beantwoord nie aangesien ons uit ondervinding geleer het dat dit onvolledig of buite konteks aangehaal word,” het Ewald aan Huisgenoot geskryf. Andries het glad nie gereageer nie, hoewel hy Huisgenoot se navrae ontvang het.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.